Wynprojek bring inklusiwiteit vir ander taalgroepe

Ina Smith, bestuurder van Chenin Blanc SA (CBA) verduidelik die Engelse aromawiel by een van die werkswinkels. (Foto: Clifford Roberts)

Inklusiwiteit is nie ’n woord wat gereeld in dieselfde asem as wyn genoem word nie, want wyn word steeds deur baie as ’n eksklusiewe genot gesien wat net vir sekeres beskore is. Boonop is een man se lietsjiegeure ’n ander se winterspanspek – en dis net in Afrikaans. ’n Projek deur die Chenin Blanc Assosiasie (CBA) is grensverskuiwend en baan ook die weg vir ander tale in ander internasionale wynlande, skryf Maryke Roberts.

Om ’n aromawiel te hê wat Chenin Blanc se kenmerkende geure onder hofies soos hout, blom, vrugtig, droog en vars vasvang, is klaar rewolusionêr. Jy kan by die braai saampraat oor “gestoofde vrugte” of “viooltjies” of “marsepein” terwyl jy en jou vriende aan jul Chenins teug. Dit is ook baie handig vir wynkelners (sommeliers) om restaurantgangers met wyn- en kospasmaats te help.

Hierdie geure is meestal van Franse proenotas afgelei, waar hierdie kultivar oorspronklik vandaan kom. Dit sluit nie net die tien ander Suid-Afrikaanse landstale uit nie, maar beskryf ook geure wat aan baie sommeliers én wyndrinkers onbekend is.

Eenvoudig, sou jy dink: vertaal dit net. Toe nie. Maar kom ons gaan terug na die aromawiel.

Die Chenin Blanc aromawiel soos dit tans in Engels gebruik word. (Foto: Clifford Roberts)

Vorige Winetech-navorsings- en DSI-befondsde navorsingsprojekte aan die Universiteit Stellenbosch het die sensoriese dimensie van die hoof- SA Chenin Blanc wynstyle in twee projekte ontsyfer.

Die resultate het beklemtoon dat SA-verbruikers grootliks onbewus is van al die Chenin Blanc-style en hul sensoriese eienskappe, wat meer inligting oor Chenin genoodsaak het.

Die Chenin Blanc-aromawiel is ontwikkel met behulp van data van wynproeë en sensoriese evaluering van meer as 3 000 wyne, wat sedert 2007 in Suid-Afrika geproduseer is, uit navorsing deur die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Wynbiotegnologie Departement Wingerd- en Wynkunde, onder leiding van dr. Hélène Nieuwoudt.

Die aromawiel, ’n kleurvolle A5-grootte diagram, is ontwerp en word by wynskoue, wynproeë en ander geleenthede gebruik om verbruikers meer oor Chenin te vertel.

Met 11 amptelike tale het Suid-Afrika baie uiteenlopende verbruikers én sommeliers. Met die aromawiel wat tans slegs in Engels beskikbaar is, is dit moontlik dat die kern van die sensoriese eienskappe verlore kan raak.

Al drie taalgroepe het dieselfde ses wyne geproe. Dis in bruin papiersakke toegemaak, sodat die proeë blind gedoen kon word. (Foto: Clifford Roberts)

Sensoriese eienskappe word gewoonlik met voedselsoorte soos vrugte, speserye of blomme geassosieer. As daardie voedselsoort aan die verbruiker onbekend is, is die assosiasie met daardie voedselsoort van geen waarde.

Tinashe Nyamudoka, wynspesialis, sommelier en wynbeoordelaar, verduidelik die dilemma as volg: “Ons het ’n aromawiel met inheemse Afrika-vrugtegeure nodig. Baie vrugte is algemeen in baie lande, maar ons het verskillende name daarvoor: Die Natal-lemoen is ‘matamba’ in Shona, maar die Zoeloes ken dit as ‘umkwakwa’; Afrika spanspek is ‘gakak’ in Shona, maar die Zoeloes ken dit as ‘mokapana’.”

Hy het dus voorgestel dat die wiel in Afrikatale vertaal word. Die CBA het pas ’n driedag-werksessie met sommeliers, wynmakers en wynambassadeurs uit drie taalgroepe voltooi: Xhosa, Shona en Zoeloe.

Die Shona-groep was almal Zimbabwiërs, terwyl die ander twee groepe almal Suid-Afrikaners was.

Nolene Nel, CBA-konsultant wat met die projek gemoeid is, sê: “’n Aromawiel in ’n eerste taal soos die voorgestelde Xhosa, Zoeloe en Shona, skep beslis ’n beter wegspringplek vir erkenning en begrip en speel dus ’n rol in wyer kennisoordrag van Chenin Blanc se sensoriese eienskappe. Dit skep weer ’n waardevolle bate vir onderwys en kommunikasie, wat dit moontlik maak vir kommunikasie oor wynkenmerke in voorkeurtale. Hierdie voorstel ondersteun dan die liefde van, asook die groei van Chenin Blanc in plaaslike markte.”

Presies hoe die wiel in ander tale gaan lyk, moet nog bepaal word. Nolene sê ook dat befondsing tans net die drie tale moontlik maak, maar dat hulle graag die ander landstale ook wil insluit. “Ons het ook navrae gehad om dit in Japannees en Russies te doen en dis ook een van die redes hoekom die idee vir hierdie inheemse tale-projek ontstaan het.”

Sy sê die voortgesette groei en opheffing van Chenin Blanc se gehalte en verbruik is van kritieke belang vir ekonomiese herstel en groei, en dat hierdie projek ’n rol kan speel in die onvermoeide pogings om die sosio-ekonomiese impak en transformasie van die Suid-Afrikaanse wynbedryf te bespoedig.

Soms moes Google help met foto’s as daar verwarring was oor sekere vrugte wat uit verskillende streke van die land kom en onder verskillende name aan sommeliers en wynmakers bekend is. Foto’s het baie in die Shona- en Xhosa-sessies gehelp. (Foto: Clifford Roberts)

Ina Smith, bestuurder van die CBA, sê die drie taalgroepe het almal dieselfde ses Suid-Afrikaanse Chenins gekry om te proe sodat die aromawiel se geure in verskeie tale vasgepen kon word. Die wyne is in bruin papiersakke versteek sodat die paneel nie geweet het wat hulle proe nie. Dit het die proenotas persoonlik en eg gehou.

Ina sê die wyne is ook gekies om uiteenlopende style vas te vang. Daar was wyne uit verskillende oesjare, hoër en laer suikers, hoër en laer alkohol, sommige in vate verouder, sommige met wilde gis, ander met dopkontak, en sommige van kleiner korrels.

Ons sit eenkant en kyk hoe die groep proe. Daar word geruik, geproe, lank gestaar en aan die agterkant van penne gekou voordat notas neergepen word. Toe elkeen deur die ses wyne geproe het, is dit besprekingstyd in Shona.

Ons vang net hier en daar ’n woord: “green”, “honeysuckle”, “fresh”, “full”, “ripe papaya”, “buttery” en “creamy”. Tinashe neem notas, vra uit. Almal help spel. Vir die leek kan dit lyk asof dié uitgelese sommelier – en self wynmaker – nie kan spel nie, maar hy verduidelik later oor ’n glas wyn dat hy verstom was oor hoe streeksgebonde sekere terme is. “Ons almal het in Zim grootgeword, maar ken nie vrugte en speserye op dieselfde name nie; daarom die gespel,” verduidelik hy.

Die noodsaaklikheid van dié nuwe aromawiel word al duideliker.

Daar swem eende op die dam by Jordan Wynlandgoed waar die werkswinkels gehou word. In die verte wink die berge, en toeriste sit onder die bome en kuier.

Oor middagete word daar – oor ’n glas yskoue Chenin natuurlik! – gesels. Die noue band tussen almal om die tafel is te danke aan een goue draad: wyn.

Maar so lief soos ons almal vir wyn is, só verskillend is ons smaak in wyn en só verskillend is ons herinneringe. In ’n studie wat ook deur dr. Hélène Nieuwoudt se departement uitgevoer is, is gevind dat daar 266 verskillende aromaties-sensoriese woorde is om Chenin Blanc mee te beskryf.

Wellington Muromba, ’n Douglas Green Bellingham (DGB) premium wynambassadeur en sommelier, sê wyn gaan oor mense. “Dis oor ons kultuur en ons genot en hierdie is een van die belangrikste projekte wat vir inklusiwiteit gedoen word. Dit sal Afrika verander.”

Tinashe voeg by dat wanneer hy ’n wyn optel en ruik, dit hom onmiddellik terugneem na die plek waar hy grootgeword het. Jy ruik die bekende goed uit jou kinderdae. “Jy hoef nie aarbeie te ruik omdat die proenotas so sê nie.”

Joseph Dhafana, sommelier en wynbeoordelaar, sê die vertaling van die aromawiel is beslis baie inklusief en sal boonop wynverbruik verhoog. “Afrika is die grootste kontinent, met die laagste wynverbruik. Ons het meer mense nodig om wyn te geniet en ons kan dit net bereik deur mense in te lig en op te voed. Kan jy jou voorstel as elke volwassene op die kontinent begin wyn drink? Ons sal nie kan voorbly met produksie nie!”

Billet Magara Jnr, sommelier en proelokaalbestuurder by Paserene Wyne, sê hy skryf graag sy notas in Shona, want dis makliker vir hom om dan die wyn aan sy kliënte te verduidelik. “Die eerste maal wat ek gehoor het daar is aspersies op die wynneus, het ek nie eens geweet wat ’n aspersie is nie. Maar as jy daardie aspersiegeur kan omskakel na iets by die huis, iets waarmee mense uit hul kinderdae kan identifiseer, bring dit die prentjie duideliker vir ander Shona-sprekers.”

Tendai Marisa – sommelier by Delaire Graff Landgoed – ’n voormalige werktuigkundige wat toe as ’n barista in die Stellenbosse studentesentrum kom werk het, het later kelner geword en homself toe as sommelier bekwaam Hy sê hy het niks van wyn geweet toe hy in Suid-Afrika begin werk het nie. “Maar as kelner vra mense jou raad oor watter wyn jy sal aanbeveel, en ek wou graag leer. Toe die hoeveelste kliënt vir Merlot vra, moes ek vinnig my kennis opskerp.”

Hy sê met gereelde proeë en notas uitruil het sy kennis baie verbreed. “Wanneer jy iets verstaan, kan jy dit baie beter aan ander oordra en ook hul horisonne verbreed.”

Joseph het bygevoeg dat baie wynbeskrywings mense uitsluit en ontmoedig om wyn te drink, omdat dit nie deel van hul verwysingsveld is nie, maar ook omdat ons mense nie genoeg oor wyn opvoed nie. “Dis ook nie reg om te sê wyn is nie deel van ons Afrika-kultuur nie; ons moet dit net weer in ons kulture aktiveer.”

Die Xhosa-groep is van links: Banele Vakele (wynmaker by Duncan Savage), Yolani Kaso (Pinotage Youth Academy gegradueerde van Ken Forrester Vineyards), Lethabo Maesela (nagraadse student), Zinaso Qwebani (nagraadse student), Asive Ngqaza (Wine Concepts, sommelier en wynaankoper), Zikho Sogaxa (Pinotage Youth Academy en WSET II-gegradueerde), Luvo Ntenzo (One&Only-groep hoofsommelier) en Eric Botha (Xhosa-besprekingsleier). (Foto: Clifford Roberts)

Die Shona-groep het voorgestel dat Swahili ook nodig is as een van die inheemse tale waarin die wiel vertaal moet word.

Ina vertel: “Ons het nou ’n interim projekterugvoerverslag en -konsep vir fase 2 aan Winetech voorgelê om die projek te verdiep, soos die insluiting van die volle spektrum Chenins, byvoorbeeld ou wingerde en soet Chenins, asook moontlike insluiting van ander landstale. ’n Verdere navorsingsvoorstel kan ook gedoen word om ander aspekte bo en behalwe aroma soos smaak, kleur en so meer te ‘lokaliseer’ en te vertaal om sodoende ’n volledige proe-ervaring in ’n plaaslike taal te verteenwoordig.”

Nolene sê dr. Jeanne Brand – sensoriese wetenskaplike by SU – doen tans die dataverwerking met die gepaste taalbystand waarna interaksies plaasvind om die visualisering in die drie tale te doen en die projek teen die einde Februarie af te handel.

Die projek baan nou die weg vir soortgelyke projekte regoor die wêreld; in wyndrinkende lande waar baie buitelanders woon en vakansie hou. Kan jy jou indink as ’n Meksikaanse kelner vir ’n Meksikaanse restaurantganger ’n Amerikaanse wit Zinfandel uit die wingerde van die Napa-vallei in terme van hul eie inheemse pitaya of guanabana verduidelik? Of as ’n Indiese kelner dieselfde met Nieu-Seelandse Sauvignon Blanc kan doen en dit aan die hand van ambarella of bael of Asiese pere illustreer?

Die projek kan ’n wyndrink-rewolusie veroorsaak.

Die Shona-groep, wat deel was van die drie taalwerkswinkels by Jordan Wynlandgoed, staan by die drie fasiliteerders, Nolene Nel, dr. Hélène Nieuwoudt van die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Wynbiotegnologie Departement Wingerd- en Wynkunde, en Ina Smith, bestuurder van die Chenin Blanc Assosiasie (CBA), en is van links Tendai Marisa, Billet Magara, Admire Wakwa, Joseph Dhafana, Wellington Muromba, Tinashe Nyamudoka (Shona-besprekingsleier) en Kudsai Beka. (Foto: Clifford Roberts)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.