Wynuitvoere na EU verdubbel

Foto: pixabay, WolfBlur

Foto: pixabay, WolfBlur

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het die afgelope week ʼn ooreenkoms gesluit wat die land se huidige jaarlikse belastingvrye kwota vir wynuitvoere na die Europese Unie van 48 miljoen tot 110 miljoen liter verhoog.

Dié ooreenkoms is op 10 Junie in Kasane, Botswana, geteken tussen die Europese Unie (EU) en die Southern African Customs Union (SACU).

Michael Mokhoro, bestuurder van die belanghebbersverhoudinge van die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedrywe, sê hoewel Suid-Afrika wêreldwyd uitvoer, is die EU by verre die land se grootste uitvoerbestemming wat 74,8 % of R5.01 miljard van die land se jaarlikse buitelandse verkope verteenwoordig.

Volgens Mokhoro moet die Ekonomiese Vennootskapsooreekoms (EVO), wat in Julie 2014 gefinaliseer is, voor die einde van September bekragtig word indien dit in Oktober in werking moet tree. Elkeen van die SACU-lande, Suid-Afrika, Namibië, Lesotho, Swaziland en Botswana, moet die ooreenkoms deur hul onderskeie parlementêre prosesse bekragtig terwyl die EU Parlement dit namens sy 28 ledelande sal doen.

“As alles volgens plan verloop, sal die belastingvrye kwota vir die res van die jaar op ʼn pro rata-grondslag toegeken word. Vonkelwyn is nie ingesluit in die belastingvrye kwota in die nuwe ooreenkoms nie, aangesien dit reeds ʼn belastingvrye kwota geniet ingevolge die handels-, ontwikkelings- en samewerkingsooreenkoms wat reeds vroeër deur die EU en Suid-Afrika gesluit is,” het hy gesê.

Hy het ook gesê 70% van die kwota van 110 miljoen liter sal aanvanklik aan verpakte wyne, in bottels of ander houers tot ʼn maksimum van 2 liter, toegewys word om Suid-Afrika se wynreputasie en die volhoubaarheid van sy uitvoere te bevorder. Die verpakte komponent sal na verwagting mettertyd verder verhoog word.

Mokhoro het beklemtoon dat die EVO ʼn broodnodige inspuiting verteenwoordig vir die wynbedryf, wat gebuk gaan onder droogte en taai globale handelstoestande. “Ons vertrou wynmakers sal hierdie geleentheid ten volle benut om die beeld van Handelsmerk Suid-Afrika, asook dié van hul eie handelsmerke, uit te bou. Die nuwe ooreenkoms bied ʼn verdere geleentheid om ons reputasie vir voortreflike gehalte en oorspronklikheid verder uit te brei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.