Wynvat-man ernstig siek ná hy wêreldrekord breek

Vernon Kruger in die wynvat. (Foto: Verskaf)

Vernon Kruger (52) het ’n bloedklont deur sy long oorleef kort nadat hy ’n tweede wêreldrekord opgestel het deur 79 dae lank in ’n wynvat in die lug bo Dullstroom deur te bring.

Kruger, wat ook ’n kommersiële duiker is, het op 1 Februarie amptelik teruggekeer na moeder aarde. Toe sy voete die grond tref, het hy besef iets is nie lekker nie. “Ek het gesukkel om asem te haal,” sê hy.

Kruger is twee dae later hospitaal toe, waar die dokters ná ’n rits toetse en skanderings vasgestel het dat sy linkerlong weens ’n bloedklont platgeval het. Hy moes bloedverdunners gebruik en sal voortaan medikasie gebruik om bloedklonte in sy liggaam af te breek. Hy moet ook asemhalingsoefeninge doen.

Kruger sê hy het glad nie siek gevoel terwyl hy nog in die wynvat was nie. “Ek het daagliks my oefeninge gedoen.”

Dit was vir Kruger soos ’n dolk deur sy hart toe die dokters hom die nuus meedeel dat hy nie gou weer sal kan duik nie. Hy sterk tans by die huis aan en moet weer in Maart vir opvolg skanderings gaan.

Vernon Kruger het 79 dae in ‘n wynvat deurgebring. Dit is ‘n nuwe wêreldrekord. (Foto: Facebook)

Maroela Media het vroeër berig Kruger het sy eie Guinness-wêreldrekord gebreek. Hy het in 1997 vir die eerste keer 67 dae lank in ʼn 500 ℓ-wynvaatjie deurgebring wat op ʼn paal vasgemaak was.

Kruger vertel sy tyd in die wynvat vanjaar het so vinnig verbygegaan. “Dit is vreemd. Ek het in ʼn roetine gekom en dit het veroorsaak dat die tyd eintlik gevlieg het. Dit was hierdie keer eerder ʼn geestelike uitdaging as ʼn liggaamlike een. Ek moes kophou en positief bly.”

’n Man het Kruger vandeesweek vanuit Kanada gekontak en sy wêreldrekord uitgedaag. Die man beoog om 80 dae lank in ’n wynvat te sit.

Of Kruger weer so iets sal aanpak? “Wie weet. Ek het laas ook gesê ek sal nooit ooit weer nie,” sê dié rekordbreker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

katerinadiekat ·

Ai om nou jou gesondheid te ruineer vir iets so stupid..

Porseleintjie ·

Kan jou naam , jou reputasie vir jou só belangrik wees dat jy jou gesondheid daarvoor sal inboet??

Mandie ·

Ek weet nie, jong, maar ek verkies dat die wyn in my ingaan en nie ek in die wyn in nie.

Toy ·

Ek dink hy het te lank in so klein spasie gebly en het nie regtig oefening gekry nie. Bloedsomloop het swak geraak.

HunterGal ·

Hy het fondse ingesamel vir 2 organisasies, sterkte met jou herstel Vernon!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.