Wynvat-man nou ‘op ander manier’ ingeperk

Vernon Kruger in die wynvat. (Foto: Verskaf)

Vernon Kruger (52) sê hoewel hy nou weer vasgekeer voel gedurende die algehele landwye afsondering weens die nuwe koronavirus, dit by verre beter is om vasgekeer te wees in ’n wynvat 26 meter bo in die lug.

Kruger het vroeër vanjaar ’n tweede Guinness-wêreldrekord opgestel deur 79 dae lank in ’n wynvat in die lug bo Dullstroom in Mpumalanga deur te bring. Nou bring Kruger sy dae deur saam met sy twee kinders in ’n huis aan die hang van ’n berg in Bethal.

Hoewel hy die tyd terdeë geniet, begin hy klaar weer onrustig word, vertel hy laggend aan Maroela Media. “Dit is snaaks hoe dit uitgewerk het. Nou is dit ʼn ander manier van inperking.”

Kruger kan egter nie binnekort weer enige wêreldrekords aanpak nie omdat hy ’n bloedklont deur sy long oorleef het kort nadat hy die vaatjie in Februarie verlaat het.

Dit gaan sedertdien onder omstandighede goed met sy gesondheid, vertel Kruger nou. “Ek voel oukei. Ek was veronderstel om weer vir skanderings te gaan in Pretoria, maar kon egter nie weens die lockdown nie. Ek is nog steeds kort van asem, maar dis al klaar beter. Ek voel verder goed.”

Vernon Kruger in die wynvat. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig Kruger het op 1 Februarie amptelik teruggekeer na moeder aarde waarna hy dadelik begin sleg voel en gesukkel het om asem te haal. Hy is twee dae later hospitaal toe waar die dokters ná ’n rits toetse en skanderings vasgestel het dat sy linkerlong weens ’n bloedklont platgeval het. Hy moes bloedverdunners gebruik en sal voortaan medikasie gebruik om bloedklonte in sy liggaam af te breek. Hy moet ook asemhalingsoefeninge doen.

“My hele lewe het sedertdien verander. Ek het regtig nie gedink iets gaan fisiek met my gebeur van in ʼn vaatjie sit nie,” vertel Kruger.

Tog mis hy die vaatjie in ʼn mate. “Dit voel snaaks. Dit is ʼn heeltemal ander lewe op die grond.” Volgens Kruger mis hy dit egter nie om afhanklik van mense te wees om kos en ander benodighede in ’n emmer op en af met die paal te stuur waarop die vaatjie staan gemaak was nie. Dié vaatjie staan in dié stadium steeds in Dullstroom en sal na verwagting ná die Covid-19-pandemie opgeveil word, sê Kruger.

Die Facebook-rekening “Up The Pole in Dullstroom” wat Kruger se doen en late in die vaatjie gevolg het, is intussen gesluit. Kruger sal wel binnekort ’n nuwe rekening skep waar mense met hom in aanraking kan kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piket ·

So Jammer dat dit so moes eindig. Sterkte vorentoe, vertrou dat hy volkome sal genees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.