‘Wys ons verslag oor geheime eenheid in weermag’ – DA

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die DA sê die laaste ding wat ʼn demokratiese Suid-Afrika nou nodig het, is ʼn weermag wat soos ʼn Gestapo-mag funksioneer en burgers straffeloos ontvoer en vermoor.

Die opposisieparty het daarom ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) by die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), genl. Rudzani Maphwanya, ingedien waarin Maphwanya versoek word om ʼn afskrif van die Moorhouse-ondersoekverslag oor beweerde misdadige bedrywighede in die weermag aan die DA te verskaf.

Die kriminele aktiwiteite sluit, aldus die burgerregteorganisasie Open Secrets, glo ʼn geheime eenheid in die weermag in, wat hom na bewering skuldig aan marteling en selfs moord gemaak het.

Daar word verder beweer dat dié eenheid uit lede van die spesiale magte, militêre polisie, verdedigingsintelligensie en die verdedigingsregsdienste bestaan.

Tog het ʼn verslag oor ʼn ondersoek na die verdoemende bewerings nog nie die lig gesien nie.

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, sê die SANW het glo ʼn raad van ondersoek onder leiding van brig.genl. John Moorhouse aangestel om klagtes van beweerde misdade binne die weermag te ondersoek.

Die getuienisse van verskeie mense is volgens Open Secrets as deel van die ondersoek aangehoor en getuies het glo ʼn verhaal van korrupsie, ampsmisbruik en marteling van onder meer burgerlikes vertel.

Marais sê ses maande ná die afhandeling van die ondersoek en die daaropvolgende voorlegging daarvan aan Maphwanya, is die verslag steeds nie openbaar gemaak óf voor die portefeuljekomitee oor verdediging in die parlement ter tafel gelê is nie.

Die DA voer aan dat die bekendmaking van die verslag in die openbare belang is aangesien sommige van die beweerde slagoffers van marteling burgerlikes is wie se sake nie behoorlik ondersoek is nie. Die beweerde oortreders is ook nooit voor ʼn hof gebring nie.

Marais sê die bekendmaking van die Moorhouse-ondersoekverslag sal lig werp op die bewerings dat hierdie geheime eenheid binne die weermag moontlik verantwoordelik was vir die sluipmoord op die Valke-ondersoeker Frans Mathipa wat ten tyde van sy dood besig was met ʼn strafregtelike ondersoek na die bedrywighede van ʼn spesiale magte-operateur.

“Die verslag sal boonop help om insig te gee in die omstandighede wat gelei het tot die dood van ʼn burgerlike, [net bekend as] Sphamandla, ná ure se marteling deur sommige lede van die geheime eenheid,” sê Marais.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Highlander ·

Ons weermag kan nie n geheime eenheid he nie. Maar ons weermag kan wel die aandag aftrek van so eenheid. Hiding in plain sight.

Di ·

Dink nie een van ons is “verbaas” dat hierdie tipe dinge in die land gebeur nie. Kyk maar net WIE is in beheer van die land, DIT preek klaar boekdele

kaplyn ·

Die kommunistiese owerheid het mooi geleer in Rusland. Die is niks anders as die KGB in Rusland nie.

Pieter ·

iemand het n gehieme weermag, wat dalk moeilikheid kan maak ,sodak daar nie volgende jaar n verkiesing kan wees nie…………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.