Wysiging aan Skolewet tydens Kersvakansie bekendgemaak

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die departement van basiese onderwys het in die week voor Kersfees voorgestelde wysigings aan die Skolewet uitgestuur – wat organisasies onder druk sal plaas om op die wysigings te reageer terwyl almal met vakansie is.

Vakbonde en belanghebbende organisasies moet teen 15 Januarie reageer op die voorgestelde wysigings aan die Wysigingswetsontwerp oor Basiese Onderwys.

Volgens dié wetgewing sal die departement groter beheer oor skole kry. Kragtens die wysigingswetsontwerp kan die departement onder sekere omstandighede ʼn enkelmediumskool dwing om ʼn bykomende taal aan te bied.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het aan Maroela Media gesê Suid-Afrikaners moet bekommerd wees dat die regering toenemend vakansietye, en spesifiek die Kersvakansie, wanneer meeste mense met verlof is, gebruik om wysigingswetsontwerpe te publiseer.

“Dit plaas belangegroepe onder geweldige druk om binne ʼn kort tydjie die aanbevelings te bestudeer en intensief daarop te reageer,” het Deacon gesê. “Ek is teleurgesteld dat die departement dié tyd misbruik om die wysigingswetsontwerp te publiseer.”

Deacon het gesê minister Angie Motshekga het onderneem om met Fedsas en ander belangegroepe te vergader oor die wysigings aan die wetsontwerp. “Ons wag nog vir dié vergadering.” Volgens hom sal die minister na verwagting op 27 Januarie 2020 met vakbonde vergader en sy sal na verwagting ook in dié periode met Fedsas vergader.

“Ek is ook bekommerd dat dit wil voorkom of die onderwysdepartement wil terugkeer na ʼn totalitêre bestel, waar die staat algehele beheer het oor die skoolstelsel. Dit is iets wat ons 20 jaar gelede al laat vaar het. Dit is baie teleurstellend dat ons wegbeweeg van openbare skole waar beheer in die skool se hande is.”

Volgens Deacon is hy oortuig dat dit egter nie die einde van die proses is nie. “Die minister wil nie die wetsontwerp deur die kabinet jaag nie. Sy wil weer met belangegroepe vergader en ek hoop dat openbare deelname ook deel sal vorm van die proses en dit is belangrik dat skole ook self insette moet kan lewer oor dié drakoniese wysigings.”

Die wetsontwerp is nog voorlopig en moet eers deur die portefeuljekomitee oor onderwys en die parlement goedgekeur word voordat die president die nuwe wetgewing kan bekragtig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.