Wysiging oor kosaflewering versoek

Argieffoto (Foto: Kai Pilger/Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie versoek dat afsonderingsriglyne wat kos- en kruideniersaflewering betref, gewysig moet word.

Manny De Freitas, die DA se skaduminister van toerisme, het gesê sy party gaan Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van vervoer, skriftelik versoek om dringend met haar kollegas te vergader om die riglyne tydens algehele landswye afsondering te wysig om kos- en kruideniersaflewering as ʼn noodsaaklike diens in te sluit.

“Alhoewel aanhangsel B van die riglyne ‘enige kosproduk’ as ʼn noodsaaklike item aandui en ‘die vervaardiging van en verkope van kosprodukte’ as ʼn noodsaaklike diens beskou word, maak die riglyne nie voorsiening vir persone wat fisies nie in staat is om plekke te besoek wat kos verskaf nie,” het De Freitas verduidelik. “Daar is talle persone wat in hul huise vasgekluister is, vir watter rede ook al, en van kosafleweringsdienste en aanlyn afleweringsdienste gebruik maak – nie as ʼn luukse nie, maar as ʼn noodsaaklikheid.”

Die DA is van mening dat restaurante toegelaat moet word om hul kombuise oop te hou vir kitskosaflewering en oplaai binne die riglyne wat vir higiëne gestel is – terwyl hul sitareas gesluit bly. “Kos- en kruideniersafleweringsdienste soos UberEats, Mr. D of dienste wat deur restaurante self aangebied word, moet dus ook toegelaat word om met hul bedrywighede voort te gaan,” het De Freitas bygevoeg.

“Dit is logies dat restaurante hul sitareas moet sluit omdat die virus moontlik só kan versprei. Dit is egter nie logies dat die riglyne, soos gepubliseer in die Staatskoerant deur die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, nie vergunning maak vir kosaflewering terwyl Suid-Afrikaners by die huis moet bly nie.”

De Freitas meen as kosaflewering toegelaat word, sal dit boonop ook die beweging van mense na en van winkels verhoed en seker maak dat die restaurantbedryf winsgewend bly as ʼn ekonomiese aandrywer.

“Die DA is ook besorg oor die gemengde boodskappe van die regering, aangesien die betrokke ministers klaarblyklik nie uit dieselfde mond praat wat kosaflewering betref nie. Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, het Dinsdag tydens die perskonferensie van die nasionale beheerraad gesê ‘diegene wat bystand lewer om kos en ander noodsaaklike items by mense se huise aflewer …’ moet op die lys geplaas word van noodsaaklike dienste. Minister Kubayi-Ngubane het egter terselfdertyd gesê aflewering van kos by huise is nie toelaatbaar nie. Hierdie dubbelsinnighede plaas druk op die afsonderingsproses. Die DA versoek minister Kubayi-Ngubane om ernstig dié belangrike wysigings te oorweeg wat betref kos- en kruideniersaflewering, omdat dit Suid-Afrikaanse restaurante aan die gang sal hou en diegene sal help wat permanent in hul huise vasgekluister is.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Tjom ·

Goedkoop hou vir stemme. As almal nou op die essential wagon klim kan ons more weer almal gaan werk.

Niné ·

Nee glad nie goedkoop stemme koop nie. Twee huise van my af lewer meals on wheels nie af nie want die mense wat aflewer gebruik hulle eie vervoer en is gewilligers

Leon ·

In Shenzen in Sjina bestel jy jou kos oor die internet of met ‘n toep en dan kom hulle dit aflewer. Hulle klop aan jou deur wen ry dan. Jy maak jou deur oop, steriliseer die buite houer, maak hom oop en haal die binne houer uit en neem dit in. Die binne houer word gesterileer voordat hy ingesit is. Sodoende word die virus nie oorgedra. Dit is hoe Sjina kon die virus baasraak.

Co ·

Daar is ‘n paar logistieke probleme aan verbonde maar dit kan baie werkers ‘n inkomste verseker en baie belangrik, dit kan die menslike verkeer na inkopie sentrums of winkels verminder.

ᛄᚪᚾ ·

Hopelik gee die persone in beheer spoedig aandag aan hierdie voorstel. Teen die tempo wat mense, veral in die stede, nie meer behoorlik kan kosmaak nie, gaan hulle vergaan omdat hul nie `n eetbare maal kan voorberei. Hoeveel middelklas gesinne is totaal afhanklik van wegneem- en uitetes om aan hul daaglikse voeding te voorsien? Asb nasionale rampbestuursraad, ons kannie bekostig dat nog meer mense se oorlewing in gedrang is omdat hulle nie hulself kan voer…

katerinadiekat ·

Wat ek nie verstaan nie is hoe enige volwassene nie n basiese maaltyd kan maak nie. Braai mince tot gaar. Kook pasta. Gooi bymekaar. So eenvoudig soos dit. Dis skrikwekkend om te dink dat mense nie eens so iets kan doen nie.

Gawie ·

Die Spar naby ons adverteer reeds dat mens kruideniersware kan bestel en hulle sal dit aflewer.

Luister ·

Nie lank nie, dan maak klerewinkels ook aanspraak daarop om klere te kan aflewer.

katerinadiekat ·

Wow ek dog Suid Afrikaners kry finansieel swaar. Wegneemkos is vreeslik duur. Miskien is dit hoekom soveel mense sukkel, want hulle eet meestal peperduur restaurantkos. Dis n miljoen maal goedkoper om kos by die huis te kook, dis gesonder en jy weet niemand gooi van hul liggamsvloeistowwe en afskeidingsprodukte by jou kos nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.