Wysigings aan hoëronderwysbeleid ‘bedreig private instellings’

Foto ter illustrasie. (Foto: Scott Graham / Unsplash)

Solidariteit het Woensdag sy kommentaar op die departement van hoër onderwys se voorgestelde beleid ingedien, wat volgens die vakbond private instellings se bestaansreg bedreig.

Dit volg nadat die departement vroeër vanjaar wysigings aan dié beleid aangekondig het.

Volgens Solidariteit hou die voorgestelde beleid veral ’n bedreiging vir private instellings in aangesien dit van so ’n aard is dat dit private instellings in die trusteeskap van sogenaamde volwaardige universiteite plaas, en “tot gevolg sal hê dat sodanige instellings hulself van universiteitstatus na universiteitskollege‑status sal moet afgradeer”.

Johan Botha, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit, sê dit is onbillik om private instellings te dwing om hul status as universiteit op te gee wanneer hulle aan die daargestelde vereistes voldoen.

“Dié voorgestelde afgraderings sal ʼn direkte uitwerking hê op die geloofwaardigheid van daardie instellings se akademiese funksionering. Aansien en status in die akademie is belangrik, en dit dra by tot enige instelling se voortbestaan – iets wat nie deur onsinnige veranderings aan wetgewing bedreig moet word nie. Sodoende strem dit nie net die loopbane van lektore en ander werknemers in die sektor nie, dit belemmer ook die ontwikkeling van vaardighede en toegang tot hoër onderwys.”

Volgens Solidariteit moet gemeenskappe eerder aangemoedig word om werkbare oplossings in die tersiêre sektor vir probleme soos opleiding te vind, en glo hy dat ʼn onbekwame staat se inmenging daarin eerder agteruitgang tot gevolg sal hê.

“Die staat is weereens besig om mag wat hom nie toekom nie aan homself toe te eien. Deur ʼn trusteeskap af te dwing, poog hy om private instellings te beheer en sy ideologie daarin uit te rol. Hierdie regering kniehalter in werklikheid gemeenskappe se regte om oplossings te vind, terwyl hulle eintlik verantwoordelikheid vir die onderrig en opleiding van die jeug moet neem.

“Solidariteit se kommentaar is daarop gemik om die sentralisering van die hoëronderwyssektor en burokratisering van die stelsel te voorkom. Ons sal nie toekyk hoe die regering die Suid-Afrikaanse hoër onderwys met sy magsbeheptheid verarm nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Christine ·

Tipiese kommunistiese stelsels om alleenreg en alleenbesit oor alles hê. Direkte aanval op ons demokrasie.

Henri ·

Ek hoop regtig die wetgewing kan gestuit word. Dit is reeds hartseer om te verneem dat sommige tersiêre kwalifikasies, wat voor 1994 internasionaal hoogs aangeskyf was, nou daal tot ‘rommel status’. Ek vind dit interessant om te luister waar lê ons universiteite op wêreldstandaarde deesdae, aangesien van ons universiteite voor 1994 onder die top 21 van die wêreld was en sekere fakulteite wêreldleiers was.

Ek maak die afleiding dat politieke inmenging in onderwys lei tot intellektuele afstomping.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die oomblik wanneer ‘n land se mediese, wetenskaplike en ingenieursgrade nie meer wyd erken word nie is daar groot probleme. Gegradueerdes kan ons vertel van hulle waarnemings.

Henk ·

Hel ! Wens mens kan net vir die regering sê , gaan weg , gaan net so ver as die einde van die aarde af weg !

Skadu ·

Scorched Earth Policy.

Hulle kan nie bou nie, en daarom mag niemand anders nie.

Herman L ·

Almal moet gelyk wees. Dit beteken gelyk met ANC standaarde. Sodra iemand beter vaar, moet daaar wetgewing passeer word om dit af te breek. Solidariteit het in een jaar ‘n universiteit gebou vir minder as wat die regering aan Covid 19 spandeer het. Dit is ‘n bitter pil om te sluk. Hoeveel skole het die ANC in amper 30 jaar gebou, waarvan sommige al vir jare leegstaan?

Republikein in die Wes Kaap ·

Van die meer as 70 private instellings verskaf beter kwalifikasies as plaaslike openbare universiteite. Dis dalk tyd dat private instellings affilieer by buitelandse universiteite.

VaalDonkie ·

Ek wou bitter graag my DTech in IT voltooi het. Maar die BTech, MTech en DTech bestaan mos nie meer nie. Ek sal moet by jaar 2 van ‘n BCom of BSc moet begin en hoeveel jare swot. Teenoor twee jaar wat dit my sou geneem het om my tesis en dissertasie te doen.

Willem Hendrik ·

Die sleutel beginsel van kommunisme is, dom skape volg die leier sonder n probleem. Indien die huidigge regering hul sin kry sal dit in totaliteit tot dom en dommer skape lei. Opvoeding en onderwys is reeds dermate afgetakel en lewer reeds n werksmag en studente wat verby onnosel is. Danksy privaat instellings, is daar steeds n mate van lig in die tonnel alby dit slegs n flou liggie dien te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.