‘Wysigings aan Openbare Ouditwet gaan verantwoordbaarheid meebring’

Wouter Wessels. Foto: Facebook

Wouter Wessels, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir finansies, het Dinsdag gereageer oor die debat in die parlement oor die Openbare Oudit-wysigingswetsontwerp.

“Die voorgestelde wysigings aan die Openbare Ouditwet gaan help om oneerlike en korrupte staatsamptenare verantwoordbaar te hou. Tot nou was ʼn gebrek aan verantwoording ʼn groot rede vir die bedrog, korrupsie en wanbesteding by staatsinstellings,” het hy gesê.

Wessels het gesê een van die belangrike wysigings is die definisie vir grondige onreëlmatighede. “Die definisie bepaal dit is enige nie-nakoming van ʼn wet, die oortreding daarvan, bedrog, diefstal of die versuim om ʼn regsplig uit te voer wat kan lei tot geldelike verlies, die verlies aan hulpbronne, skade aan openbare instellings of skade vir die groter publiek.”

Hy het gesê hierdie definisie kan gebruik word om te definieer wat in die meeste van die land se munisipaliteite skeefloop en die wysigingswetsontwerp is “daarom ʼn stap in die regte rigting om finansiële wanbestuur te bestry”.

“Indien die Munisipale asook die Openbare Finansiële Bestuurswet (MFMA en PFMA) na behore uitgevoer is, sou hierdie wysigings nogtans nie nodig gewees het nie. Die politieke wil ontbreek egter en nou word hierdie las om teen oortreders op te tree, onnodiglik op die ouditeur-generaal (OG) geplaas,” het hy bygevoeg.

“Artikel 32(7) van die MFMA bepaal dat ʼn munisipale raad alle redelike stappe moet doen om seker te maak dat gevalle van onreëlmatige besteding wat moontlik misdadig kan wees, aan die polisie gerapporteer word. Dit is nie nagekom nie.”

Volgens Wessels is hierdie wysigingswetsontwerp daarom nie ʼn prestasie nie, maar eerder ʼn aanklag teen die regerende ANC wat sienderoë toegelaat het dat wette sonder enige gevolge nie uitgevoer word nie.

“Dit het daartoe gelei dat vrugtelose en onreëlmatige besteding en korrupsie die norm raak. Geld gaan verlore en dienste word nie gelewer nie. Die politieke wil om gehoor te gee aan wette en dit uit te voer, ontbreek egter, en die mense van Suid-Afrika wat geregtig is op dienslewering, word in die steek gelaat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Joshua ·

Tel dit vir ALLE ondersoekers ook bv Shawn Abrahams wat die Guptas laat wegkom met hul terug gehandige eiendomme en biljoene rande? Abrahams beskerm die Guptas persoonlik met afgewaterde en gedokterde ‘kriminele aanklagtes en hoor my lied, hy het Zuma ook aangekla en hy gaan presies dieselfde vir die ex prez beskerm en uithelp-ook met afgewaterde bewyse teen sy comrade baas wat vry gaan loop. En moenie verbaas wees as Abrahams vir Malema ook gaan vry kom nie.

John ·

Goeie more mnr Wessels, welkom in SA-2018! Mag al jou drome vir hierdie landjie op hierdie kontinent en op hierdie planeet bewaarheid word. Ons hoop vir jou part en vir jou partytjie dat die’ skone verwagtinge nie nog voor die blomme op jou luukse/£/netjiese lessenaar gaan verwelk nie. Maar nogtans welkom… baie welkom!

Eish ·

Die wonder van Afrikaans!
Om nou soveel opgekropte emosie met die kankerbestuur se verrotting so fynbesnaard te bewoord in die weldeurdagte kommentaar is die sous op die paddabredie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.