Wysigings aan Polisiewet: Kommer oor mag vir Cele

Bheki Cele. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die beoogde wysigings aan die Polisiewet sal aan Bheki Cele, minister van polisie, onder meer die mag gee om ’n gedragskode neer te lê waaraan alle buurtwagte moet voldoen.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Woensdag sy kommentaar ingedien teen die beoogde wysigings aan die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens 68 van 1995, beter bekend as die Polisiewet.

“Voorts word die verspreiding van inligting onredelik gereguleer en word die verspreiding van inligting onder sekere omstandighede as ’n vervolgbare misdryf geag,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid. “Die wetstoepassingsowerhede se vermoë om eiendom te beskerm word ingeperk, en outomatiese aanvalsgewere mag nie vir wetstoepassingsdoeleindes gedurende onluste teenwoordig wees nie.”

Die voorgestelde wysigings maak inbreuk op verskeie grondwetlike regte wat gewaarborg word aan burgers van Suid-Afrika. Dit sluit in die reg op vryheid van assosiasie en die reg op vryheid van uitdrukking, meen Kamfer.

“Met geweld en misdaad wat burgers teister, veral in plattelandse gemeenskappe, is dit ondenkbaar om plaaslike buurtwagte aan bande te wil lê. Dit kan vrywilligers ontmoedig om deel van die oplossing te wees en om misdaad saam met die polisie te beveg.”

AfriForum is reeds besig om regsadvies in te win en verdere stappe te oorweeg ingeval daar nie op die ingediende kommentaar ag geslaan word nie.

“Die beoogde inperking op die deel van inligting kan ook verreikende gevolge inhou weens die feit dat burgers sal huiwer om boodskappe te deel uit die vrees dat dit moontlik vals kan wees, en die verspreider kan dan aanspreeklik gehou word. Inligting wat weerhou word weens vrees kan wesenlike gevolge inhou vir misdaadvoorkomingsaksies.”

Belanghebbendes en diegene wat kommentaar teen die voorgestelde wysigings wil indien, het tot 15 November 2020 kans. Kommentaar kan by [email protected] ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maria

DAnkie vir die artikel. Hierdie moet mens tot in die hoogste howe beveg. Baie van die polisie se eie lede is deesdae misdadigers, hulle gebruik tegnologie om ons te treiter en inligting te deel. Ons soek nie gangsters in ons buurte nie.

Pieter J

Hierdie minister het alreeds soveel skade aangerig en nou wil hulle hom nog meer mag gee.

Nie Verbaas

Asseblief neeee, kyk in watter gemors is die polisiemag. Hy kan dit nie eers oordentlik beheer nie.

Kokerboom

Ek sou dink die minister en sy Polisie het beter dinge om te doen as om sulke belaglike wetgewing op te stel. Maar nou ja die kader het nie die onderskeidingsvermoee om die verskil te sien. Magsbeheptheid is ‘n siekte. Dis ironies dat die Kommissaris so ‘n lae profiel handhaaf en dit toelaat tenspyte van onlangse ooreenkomste met gemeenskappe

Stefaan

Hy is mags behep. Dit is soos om ‘n 500kw motor vir ‘n sestien jarige te gee. Dinge gaan een of ander tyd begin lol