Wysigings aan skole se magte, taalbeleid ‘kommerwekkend’

Kenners waarsku beheerliggame se magte word toenemend ondergrawe. (Foto: Unsplash)

Verskeie kenners sê die voorgestelde wysigings aan skole se toelatingsbeleid ondergrawe toenemend die magte van beheerliggame.

Die voorgestelde wysigings is die afgelope week in die Staatskoerant gepubliseer. Belanghebbendes kan tot 12 Maart daarop reageer.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê die bepalings oor skole se taalbeleid bly ʼn probleem. “Die beheerliggaam kan steeds die toelatingsbeleid bepaal, maar die departementshoof het soveel mag, dat hy eintlik die beheerliggaam se beleid heeltemal tersyde kan stel.

“Dit het reeds in Gauteng gebeur en hierdie is nou voorgestelde nasionale beleid,” sê Buys.

Buys waarsku dat die voorstelle tesame met die wysigings aan die Skolewet – wat nog nie deurgevoer is nie – al hoe meer gesentraliseerde mag in die hande van die onderwysdepartement plaas.

“Ons sien reeds dat hulle [die regering] dit nie doeltreffend kan bestuur nie; skole doen dit baie beter self.

“Ons sal weer kommentaar lewer oor die beheerliggaam se reg om beleid te bepaal en toe te pas, want dit is die belangrikste beginsel om by te hou.”

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor onderwys, sê ook dit lyk of die departement in hierdie stadium probeer om sy gesag te hervestig nadat hy tydens die inperkingstyd gedwing is om sekere bevoegdhede aan skoolbeheerliggame te delegeer.

“Sover dit die huidige oproep om kommentaar rakende toelatingsbeleid van skole aangaan, word op twee sake gefokus: Taal en voedingsones vir skole,” sê Boshoff.

“Om te verklaar dat ʼn skool nie kinders mag weier omdat hulle nie die skool se taal magtig is nie, is om opdrag te gee dat ʼn krisis geskep word, waarop die departement volgens sy voorkeure kan reageer. Die voorgestelde beleid kon maar net sowel uitdruklik verklaar het dat Afrikaanse skole kinders wat nie Afrikaans magtig is nie, moet aanvaar. Dat dit die bedoeling is, is duidelik.”

Boshoff meen om skole se sones af te baken en rigied af te dwing, is om bepaalde skole te teiken.

Hy sê intussen slaag die departement deur sy provinsiale departement nie daarin om genoeg skole in groeiende gemeenskappe te bou nie. Boonop is daar hardnekkige gerugte dat sogenaamde township-skole nie tot hul vermoë gevul is nie omdat ouers gewoon nie die gehalte van onderrig vertrou nie.

Boshoff sê hoe meer tyd verloop, hoe meer probeer die ANC-regering alle sosiale instellings gebruik om sy beeld van transformasie ʼn werklikheid te maak. Hy sê volgens dié siening, as 20% van alle skoolkinders Afrikaans is, moet nie 20% van alle skole Afrikaans wees nie, maar eerder 20% van elke skool.

“Daarteenoor staan die VF Plus se benadering dat elke gemeenskap geregtig is om skole in stand te hou volgens die waardes en kultuur wat dit verteenwoordig – ook openbare skole. Die Skolewet is nie ondubbelsinnig hieroor nie. Dit bevestig die gesag van die Grondwet oor alle skole in die land, maar skep pertinent openbare skole wat aan die gemeenskap behoort, in teenstelling met sogenaamde staatskole.”

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê die organisasie bestudeer die voorgestelde wysigings en sal ook aan skole leiding gee om self kommentaar te lewer.

Hy stem saam dat daar met die eerste oogopslag skerp verskille oor taal gaan wees en dat dit druk op enkelmediumskole kan plaas.

“Hoewel die beheerliggaam die skool se toelatingsbeleid bepaal, is dit onderworpe aan nasionale en provinsiale wetgewing, regulasies en beleide en daarom is dit belangrik om ons stem te laat hoor,” sê Deacon.

Buys sê ook die Skolewet benadruk die reg en voordele van moedertaalonderrig en dit moenie uit die oog verloor word nie.

Sy sê ook een van die ligpunte in die voorgestelde beleid, is die toelatingsouderdom van leerders.

Die beleid bepaal wanneer plek in ʼn skool beperk is en kinders jonger as die verpligte skoolgaande ouderdom aansoek om plasing doen, moet voorkeur gegee word aan leerders van verpligte skoolgaande ouderdom.

Die toelatingsouderdom vir ʼn gr. R-leerder tot ʼn staatskool is vier met die leerder wat voor 30 Junie van die jaar van toelating vyf word. Vir ʼn gr. 1-leerder is die ouderdom vyf met die leerder wat teen 30 Junie van die jaar van toelating ses word.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van Naptosa, sê die vakbond bestudeer die voorgestelde wysigings en sal later omvattend daarop reageer.

Manuel sê hy bevraagteken wel die noodsaak vir enige wysigings aan die bestaande stelsel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Janine ·

Ons almal weet hierdie nuwe ‘besluite’ is uitsluitlik om ons handjievol Afrikaanse skole te teiken!

E ·

Ja makliker om ‘n goeie werkende bestaande skool te teiken as om ‘n nuwe skool te bou en te bestuur. Almal moet ten sterkste hierteen protesteer. Daar word amper net niks skole gebou nie, terwyl die bevolking elke jaar groei. En dan wil die hele Afrika Suid-Afrika toe trek!! Nugter alleen weet hoekom. Dit is “dying to get in” Net in Afrika!

Pierre ·

Die departement moet dan verseker dat daar by alle kole genoeg same onderwysers en plek is om die dubbel medium toe te pas, dus as ons net kyk na Afrikaans en Engels, ek verstaan die beheerligame speel n baie belangrike rol, maar op die einde van die dag behoort die staat skole aan die onderwys departement en val onder die onderwys departement se gesag.

Dup ·

Die regering is besig om hulle rassistiese beleid in te stel en toe te pas en niks gaan hulle keer nie.Die Afrikaner,sy taal en kultuur word spesifiek geteiken en hulle sal nie stop voor dit uitgewis is nie. Mooi praatjies en suikerbedekte woorde verdoesel net hulle uiteindelike doelwitte.Tradisionele top Afrikaanse skole wat 100% funksioneer, is veral onder hulle vergrootglas omdat hulle beleid nie iets kan hanteer wat goed werk en goed instandgehou word nie.

Deon ·

Ek wil sien hoe hulle engels of enige ander taal behalwe afrikaans in Springbok NK afdwing, die mense hier, wit groen geel swart en bruin praat afrikaans, sukkel om die engelsman se taal gepraat te kry en stel in die algemeen nie regtig belang om n ander taal te praat nie… So tsek anc, tsek met jou simpel onderdrukkende voorgestelde wetgewing, ons is bruin wit en swart mense hier wat afrikaans as ons moedertaal het, gebruik en trots daarop is

Talia ·

Die afrikaanse skole in Pretoria loop oor, daar is nie plek vir nog engelse kinders ook nie.

Cyril Ramaposa het dan nou die dag die lint gesny om n mega city oop te maak tussen pretoria en Benoni. Die skool wat daar gebou word is n Curro skool, hoekom nie n staatskool nie!?

Waneer laas was daar n publieke skool in Pretoria Oos gebou!? Die Engelse skole loop ook oor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.