Wysigings aan wapenwet rookskerm vir regering se onbevoegdheid

(Foto: pixabay)

Voorgestelde wysigings aan die Wet op Beheer van Vuurwapens – wat onder meer selfverdediging as rede vir die besit van ʼn vuurwapen skrap – is bloot ʼn rookskerm vir die polisie se onvermoë om Suid-Afrikaners te beskerm.

Só het kenners Donderdag tydens die burgerregtegroep AfriForum se konferensie oor die voorgestelde wysigings gesê.

Talle organisasies, belangegroepe, drukgroepe en politieke partye het tydens dié konferensie hul steun gegee vir pogings om die wetgewing te stuit.

Paul Oxley, voorsitter van die organisasie Gun Owners South Africa (Gosa), sê daar was in 2018 reeds sprake van ʼn “drakoniese en beperkende” wetsontwerp – en dat hulle as alarmisties bestempel is toe hulle destyds daarteen gewaarsku het.

Oxley sê nadat die konsepdokument uit die openbare oog verdwyn het, het mense teruggesit.

“Die probleem is nou dat dit veel erger teruggekeer het. Ons kan nie bekostig om die saak weer te laat vaar nie,” sê Oxley.

Hy sê Gosa se regspan is besig om deur elke gedeelte van die wetgewing te werk om verskillende hoeke te vind waaruit dit beveg kan word. Elke nuwe stuk wetgewing moet ook deur ʼn sosio-ekonomiese impakstudie gesteun word – en die studie oor die betrokke stuk wetgewing is reeds in 2016 opgestel.

Oxley bestempel die studie as hopeloos onlogies en sê indien dit uit die prentjie verwyder word, dit die weg kan help baan om die wetgewing te stuit.

‘Vrotsige’ administrasie

Volgens Oxley is die polisie vrotsig met administrasie – benewens die feit dat talle polisielede volgens hom korrup en omkoopbaar is – en dat ʼn departement met ondervinding in grootskaalse en doeltreffende administrasie die vuurwapenregister moet oorneem.

Daar was die afgelope ruk talle berigte oor die agterstande en chaos by die polisie se Sentrale Vuurwapenregister. Oxley stel voor dat ʼn instelling soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens of selfs die departement van binnelandse sake eerder die administrasie oorneem.

Gideon Joubert, ʼn direkteur by die organisasie Dear South Africa, stem saam dat die polisie nie in staat is om die administrasieproses van wettige vuurwapens te hanteer nie.

Joubert sê nie net het die polisie die afgelope ruk versuim om sy eie diensverskaffers te betaal nie – dit het duisende bewysstukke in die gedrang gebring – maar boonop is die polisie se eie stelsel wat moet boekhou van sy vuurwapens sedert verlede jaar afgeskakel.

“Dít is die polisie. Hulle is swak voogde van hul eie vuurwapens en stelsels en wil nou die voogde van alle ander vuurwapens wees,” sê Joubert.

Dear SA, wat gewoonlik onpartydig bly, het oor dié omstrede kwessie wel standpunt ingeneem.

“Die wetsontwerp in sy geheel moet gaan. Dit is ʼn aaklige stuk wetgewing,” sê Joubert.

Die organisasie bied ʼn platform wat die publiek in staat stel om hul insette oor beleid, voorgestelde wetsontwerpe of wysigings, asook voorstelle te lewer.

Joubert sê uit die sowat 90 000 voorleggings oor die voorgestelde wysigings wat net deur Dear SA se platform by die burgerlike polisiesekretariaat ingedien is, is slegs een die afgelope twee weke deur die sekretariaat geopen, of het iemand by die sekretariaat daarop gekliek.

Hy sê sowat 15 000 voorleggings kon die afgelope ruk nie verwerk word nie, maar het toe skielik deur die stelsel beweeg. Joubert sê dit is moeilik om met sekerheid te sê, maar die duisende voorleggings is óf skielik verwerk, óf summier uitgevee.

Vuurwapens nie  sondaar

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gewaarsku dat die kwessie partypolitieke grense moet oorsteek en dat dit alle mense uiters ernstig raak.

“Statistieke wys dat tot 90% van mense in ʼn bed sterf. Ek kan dan die stelling maak dat, volgens statistieke, ʼn bed ʼn baie gevaarlike voorwerp is. Wees dus versigtig as jy daarin klim.”

Groenewald sê as na die minister van polisie, Bheki Cele, geluister word, is vuurwapens verantwoordelik vir die meeste moorde en geweld in Suid-Afrika. Groenewald sê dié stelling word nie deur syfers gesteun nie.

Volgens hom moes hy die vraag aan die polisieminister – oor hoeveel wettige en onwettige vuurwapens in misdaad gebruik word – niks minder nie as drie keer oor drie jaar vra voor hy ʼn antwoord gekry het.

Groenewald sê die minister se amptelike antwoord was dat die misdaadadministrasiestelsel nie ʼn onderskeid tref tussen gelisensieerde en ongelisensieerde wapens nie.

Die polisie het oor ʼn tydperk van ses jaar self meer as 4 500 vuurwapens weens diefstal verloor. In dieselfde tyd het 10 miljoen patrone ook voete gekry.

“Wie is dus die ware kwaaddoeners hier? Wettige vuurwapeneienaars, of die polisie wat nie genoeg beheer oor sy eie vuurwapens het nie?”

Groenewald sê ook as daar nie nut vir ʼn vuurwapen vir selfverdediging is nie, moet gevra word waarom ministers steeds gewapende lyfwagte het.

Hy sê die voorgestelde wetgewing is ʼn rookskerm waaragter die regering skuil omdat hy nie die vermoë het om Suid-Afrikaners behoorlik te beskerm nie. “Ons is die kwesbare mense. Die regering kan nie sy verpligting nakom nie en nou wil hy die blaam skuif na wettige vuurwapeneienaars.

“Ons sal nie ontwapen word en slagoffers wees weens die regering se onvermoë nie,” sê Groenewald.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Persheks Adri ·

Inderdaad is hulle onbevoeg en ons eerlike burgers nie skuldig aan wapens of ammunisie verloor nie! Dan moet die polisie en die VIP’s sonder beskerming klaar kom en op ons vlak kom bly waar die kriminele so besig is om ons te slag.

Frank ·

Vandag presies ‘n jaar gelede ‘n aansoek ingedien. 10 Junie 2020

JohanR ·

Sal miskien oor ‘n jaar weer soe kan skryf Frank. Vandag 10 Junie 2022 nog NIKS gehoor!

Anne-Marie ·

…hoe voel julle oor 12 jaar…..??? daai is pateties verby…

Frank ·

Ek druip my wiskunde eksamen, nou betoog ek om penne verban te kry….. Selle deng.

Persheks Adri ·

Goeie een en dankie vir die lag! Gelukkig lees my kind nie dit nie sy sal dit gebruik tot haar voordeel lol

JohanR ·

Soe omdat die polisie te dom, te onbevoeg en te lui is, het iemand wat rerig ‘n geweer nodig het vir self verdediging, soos ‘n plaas boer, het nou niks, en kan niks kry nie. My gooiste gee die 250000 aansoeke vir die DA, Solidariteit, AfrForum en VFPlus. Binne ‘n jaar is daai 250000 aansoeke kaf gedraf. Of nog beter stem die ANC uit. Dit sal nou net te lekker wees. My eerste drankie by die kroeg as die ANC ge#Voertsak het sal ‘n dubbel vodka, lime en lemonade, met ‘n shot bitters. Daar sal miskien nog soe paar volg!

Persheks Adri ·

Korrek JohanR 100% korrek! Daai dag drink ek sommer ook ‘n drankie saam met jou en ek drink nie eers nie

Ovelia ·

Ja en hoekom doen mnr Cele nie iets aan di ongelisensieerde wapens ni? Die polisie, veral die rekruute weet nie eers hoe om n wapen te gebruik nie. Hul, di polisie by verskeie stasies is dan in dni bereid om iemand wzt hul steun nodig het te help ni. Regering gaan kyk na jul wagte, het ons dit ..nee maar ons wt betaal ht v ons gewere is verkeerd

Persheks Adri ·

Die nuwes weet beslis nie hoe om wapen te gebruik nie. Ek staan in die ry nou so ‘n maand terug en jy gaan dit nie glo nie, maar die nuwe 1 rig nogals sy wapen op my net om in die vangwa in te klim! Ek’t gedink ek kry ‘n hartaanval so kwaad was ek

Wayne ·

Mense wat glo die voorgestelde wetgewing is ‘n rookskerm vir regering se onbevoegdheid, leef myns insiens in ‘n gekke paradys. Die bedoeling, soos met alle ander ontwapening, is massamoord en uitwissing. Dalk tyd dat die waarheid gepraat word, selfs al hou ons nie daarvan nie.

Boerboel ·

Absolute waarheid. Die regering het nie meer die vermoee om ons as Suid-Afrikaners te beskerm nie. Dis nou al die agterstand op ons Vuurwapenlisensies, Forensiese bewysstukke, en SAP voertuie wat nie gelisensieerd is nie… Ek stem saam , gee dit vir instansies soos AfriForum en Solidariteit, wat dinge laat GEBEUR. Hulle praat nie net nie, hulle DOEN.

Buks ·

Kom ons stel n private vuurwapen register op om die plek van die polisie s’n te vat waneer hulle sisteem heeltemal plat val.

JJ ·

Ek se maar net. Daar moet diep en hard besin word oor die stryd wat moontlik wag. Begin beplan om in die laaste loopgraaf te veg. Elke gesin moet hierdie saak vir homself uitmaak, Ek praat nie geweld goed nie. As die staat nie na sy burgers kan omsien nie, kan die burgers ook na die staat omsien nie. Beplan en stel die plan in werking. Ek se maar net.

Thom ·

Die regses is die domste mense op aarde __ seker weer met ‘n windbuks en die bybel teen vuurpyle ” veg ” !?

Edward Donald ·

Die huidige vuurwapen wet en die aansoek proses is tevore deur Canada ingestel. Dit was nie lank nie toe misluk dit. Die wapen lisensie aansoek prosedure is baie vinnig gestop en aangepas want hulle het besef dit is nie prakties moontlik om dit effektief te gebruik nie.
Daar is verneem dat die selfde vuurwapenwet deur die SA regering aangeneem is.
Dit is my persoonlike mening dat dié is net nog ‘n manier van die huidige regering om die blanke volk te ontwapen. Net soos die Kommando/Burgermag Eenhede destyds landwyd weggemaak is.

boerie ·

” Boonop is daar geen bewyse dat die meeste misdaad met ongelisensieerde wapens gepleeg word nie” Watter sogenaamde kenners stel dit so?
Is dit dalk onvoldoende proeflees?

Christel Cornelissen ·

Dagsê Pieter
Baie dankie vir jou terugvoer. Daar het inderdaad ‘n fout in die berig ingesluip. Dit is sedertdien gewysig en ons vra om verskoning vir die oorsig.
Groetnis
Christel
nms. Maroela Media

Jack ·

wys jou maar weer. Sodra die regering teen n muur van hul eie onbevoegdheid vashardloop dan wysig hulle die wet sodat dit hulle kan pas. Dink aan al die gevalle veral die pandemie fiasko ens. Nou die wapenwet en verkeerswet. Hulle maak dit net onmoontlik om in die polisiestaat n bestaan te maak.

Danie ·

Wel die onbevoegdes het toe heel slim opgetree.
Hoe gaan ons die tienduisende vuurwapenlisensieaansoeke afgehandel kry wat in die kantore en gange ophoop?
O ons verban vuurwapenlisensies dan kan die papiere weggegooi word.
Geen opgehoopte papiere beteken geen agterstallige werk beteken we are on top of the situation.
Whalla.

Alleen Wolf ·

En hulle reel ‘n partytjie om dit te vier, want noi is hulle 10 duisende aansoeke verwerk

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.