Xander Bylsma: ‘Brandon het die moorde gepleeg’

Xander Bylsma getuig tydens sy moordverhoor. (Foto: Tania Heyns)

“Wie dink jy het hierdie moorde gepleeg?”

Op die vraag van die staatsaanklaer, Johan Smit, het die moordbeskuldigde Xander Bylsma Vrydagmiddag geantwoord: “As ek met eerlikheid kan sê, Brandon Victor.”

Bylsma het Vrydag in die hooggeregshof in Mmbatho in Noordwes getuig waarna hy dié onthulling tydens kruisondervraging gemaak het.

“Het u enige bewyse hiervoor?” wou Smit weet.

“Nog nie,” het hy geantwoord.

“Wanneer gaan jy dit kry?”

“Volgende week.”

Bylsma het vanoggend sy weergawe van gebeure aan die hof vertel waarin hy verduidelik het dat hy aanvanklik geglo het Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) het in die loop van die aand van 25 Mei en die oggend van 26 Mei 2018 selfmoord in die skoolkoshuis op Stella gepleeg het.

Hy voer egter nou aan dat hy reeds sowat ʼn week en ʼn half ná sy inhegtenisneming vermoed het dat Victor (19), Sharnelle se nuwe kêrel ten tyde van die moorde, die meisies vermoor het.

Bylsma wou egter nie verklap waarom dié vermoede ontstaan nie. Hy het ook gesê dat hy nie voorheen die onthulling gemaak het nie aangesien hy nie “slapende honde” wou wakker maak nie.

“Jy word van twee ernstige misdade beskuldig. Jy word deur moontlik lewenslange tronkstraf in die gesig gestaar en jy was reeds met jou borgtogaansoek in besit van bewyse wat jou onskuld kan bewys? Wil jy nou regtig hê die hof moet glo jy het nie hierdie bewyse ingedien nie omdat jy nie slapende honde wil wakker maak nie?”

“Dit is korrek,” het Bylsma geantwoord.

Ook regter Ronald Hendricks het die beskuldigde gevra of hy nie eerder nou maar die bewyse aan die hof wil voorlê nie. “Ek verkies om dit volgende week te doen wanneer ek dit kan staaf.”

Maroela Media het vroeër berig Bylsma se regspan het vroeër vandeesweek gesê hulle gaan aanvoer dat die moontlikheid bestaan dat Victor betrokke kon wees by die moorde op Sharnelle en Marna.

Smit het Bylsma egter daaraan herinner dat hy destyds tydens sy borgtogaansoek in ʼn verklaring gesê het dat hy in die hof gaan beklemtoon dat hy op geen manier suggereer dat Victor by die moorde betrokke was nie. Die staastaanklaer wou dus weet waarom Bylsma nou ʼn ander deuntjie sing.

Die getuie Brandon Victor tydens die verhoor van die Stella-moorde. (Foto: Tania Heyns)

“Hoekom mislei jy die hof?”

“Die bewyse kan vir hulself praat,” het Bylsma gesê voordat die hof tot Maandag verdaag het. Die hof sal dus volgende week dié nuwe getuienis aanhoor.

Smit het tydens vandag se hofverrigtinge Bylsma verskeie kere daarvan beskuldig dat hy leuens aan die hof voorlê. Dié leuens hou onder meer verband met die tyd waarop Bylsma aanvoer hy die aand van die moorde uit Stella vertrek het. Sy getuienis klop onder meer nie met tye wat hy destyds aan die private speurder Chris Saunders gegee of in ander verklarings aangevoer het nie.

Hoewel Bylsma vanoggend saamgestem het dat die tye nie ooreenstem nie, het hy herhaaldelik daarop gewys dat hy nie die betrokke aand die tyd dopgehou het nie.

Smit sukkel om dít te glo. “Daardie oggend was die eerste keer wat jy weer die liefde van jou lewe sou ontmoet nadat julle die 23ste besluit het om versoen te raak. Dit was ook die aand wat die liefde van jou lewe vermoor is en jy is sedertdien in aanhouding op bewering dat jy hierdie selfde liefde van jou lewe vermoor het.

“Is dit korrek om aan te neem dat die gebeure van daardie aand by jou sal bly vir die res van jou lewe?”

Bylsma het hiermee saamgestem.

Die kruisondervraging word Maandag voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Adriaan ·

Poligraaf hulle net, dan sal die hof ‘n goeie idee hê van wie lieg.

Andre Kotze ·

Poligraaf toetse word nie aanvaar in die hof nie.En n persoon kan volgens wetgewung nie gedwing word om so toets te ondergaan nie.

Iemand ·

Poligraaf toetse is nie akkuraat genoeg nie. Mense wat van nature senuweeagtig is dop die toets makliker, terwyl mense wat gamaklik is daarmee om te lieg die toets slaag tenspyte van hul leuns.

wiehan ·

Ek volg ook die verhooren wonder al van die begin af, hoe kon so ‘n skraal man 2 meisiekinders op ‘n trap reeling ophang. Wonder maar net

SjN ·

Wiehan, ek dink ook hy kon dit nie man alleen doen nie, hoop waarheid seëvier.

Stellie ·

Wiehan, net 1 was opgehang. Marna was in die badkamer vermoor en daar gelos.

Wonder maar net ·

Mmmmm is dit nie n geval van benoude katte maak benoude spronge nie….. Hkm op dees aarde sal jy inligting weerhou wat jou onskuld kan bewys…… Laat my nogals wonder

Gaitsigubib ·

Ek wonder of mens altyd jou regsverteenwoordiger se raad moet volg? Ek kan nie dink waarom hy nou onskuldige mense by sy leuns wil insleep nie. Het hy dan nie genoeg op sy gewete nie?

McG ·

Ek stem Gaitsigubib. Eintlik mors hy ook die Hof se tyd deur rond te spring.

Santjie ·

Die kind is in ‘n Smartie-boks! Hy verander elke keer sy storie. Nou is die saadjie geplant deur sy regsverteenwoordiger wat genoem het dat Victor die moorde kon pleeg… nou verander hy weer sy storie. Wie sou nou sy ondersoek doen en afhandel terwyl hy in die tronk is?………….. MAAR…. ek volg die hele affêre in spanning. Waar ‘n rokie trek is ‘n vuurtjie.

Ekke ·

Sy hele houding spreek boekdele! Hys ‘n manipuleerder en leuenaar.

A Mac ·

Hoe verstaan ek nou? In die een berig is hy sooo hartseer toe hy hoor van die dogters se “selfmoord” en in die volgende beskuldig hy iemand van die moorde? Wat dink sy regsverteenwoordiges van hierdie “argument” dat iemand anders die moord/selfmoord gepleeg het?

Gert Retire@Midstream ·

As iemand onskuldig is sal so ‘n persoon alles in sy vermoe doen om sy onskuld te bewys. Wonder maar net.

Gaitsigubib ·

As hulle skuldig is doen hulle ook alles om los te kom.

Linda ·

Hy loop en lieg homself los en vas. Ek het n hele ruk in Huisgenoot gelees dat hy sy ma gevra het om die ondersoekbeampte omkoop geld te betaal sodat hy kan borg kry om Botswana toe te vlug, dan seker van daar verder na n ander land. Hierdie getuienis sal ook nog in die Hof uitkom. Plaas hy net die waarheid praat en gevonnis word en sy vonnis gaan uitdien, dis al.

Magdalena ·

Wat my onsteld is dat die getuie Brandon Victor nou uitgemaak word as die skuldige……”arme jongman en sy gesin” gaan deur drama en pyle wat geloods word teen hom omdat hy ‘n getuie is.
Dit is egter taktiek en werkswyse van die regsverteenwoordigers – hulle moet “veg” vir hulle kliente.
Ek wil egter net aan Brandon sé – hou moed, hou by die waarheid. Moenie dat die hele saak “,in jou kop inklim nie”. Wees voorbereid op die “roskam”. Ek weet waarvan ek praat…..was getuie in saak….ongelukkig het ek GEEN benul gehad wat om te verwag, wat ek mag en NIE mag sé nie en nog minder wat ek moet sé…….”ek” is vooraf sleg gemaak en voorvalle wat glad nie relevant tot die saak was is voorgehou……nodeloos om te sè skuldige is vry….. (ek kry steeds angsaanvalle as ek daaraan dink)
Ek hoop en bid uit my hart uit dat die staat staan jou met raad en daad by. Wanneer jy hulle bystand, leiding en ondersteuning het gaan jy reg en geregtigheid help geskiet aan 2 meisiekinders wat nie meer op aarde is om hulle self te verdedig nie. BAIE DANKIE aan jou Brandon Victor en gesin. Hou jou kop hoog…..
Weerhou jou van negatiewe mense en hulle kommentaar.

George in Bloem. ·

Lyk my die mannetjie het skoon vergeet van sy bekentenis? So wanneer het hy gelieg,toe of nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.