Xander Bylsma dié week gevonnis

Xander Bylsma gedurende ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Xander Bylsma (21) sal na verwagting vandeesweek gevonnis word in die opspraakwekkende Stella-moordsaak.

Vonnisoplegging is vir Woensdag tot Vrydag in die hooggeregshof in Mmabatho in Noordwes op die hofrol geplaas.

Vonnisoplegging is in Mei weens die Covid-19-pandemie uitgestel nadat Bylsma (21) in Februarie skuldig bevind is aan die moord op sy voormalige vriendin Sharnelle Hough en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht.

Hough (17) en Engelbrecht (16) is gedurende die nag van 25 en 26 Mei 2018 in die hoërskoolkoshuis op Stella vermoor. Hough se liggaam is die oggend van 26 Mei aangetref waar sy met ’n tou om die nek aan ’n trapreling gehang het. Engelbrecht se liggaam is in ’n badkamer met ’n handsaklus om haar nek aangetref.

Maroela Media het vroeër berig regter Ronald Hendricks het in sy uitspraak gesê dit is duidelik uit die bewyse in die binne- sowel as die hoofverhoor dat dit Bylsma is wat die meisies vermoor het en nié Brandon Victor, Sharnelle se kêrel ten tyde van die moorde nie. Bylsma het tydens die verhoor beweer Victor is die skuldige.

“Die bewyse vertel ’n verhaal van gemengde gevoelens, jaloesie, teleurstelling en wraak,” het Hendricks gesê.

Volgens Hendricks was Sharnelle se moord haarfyn beplan en het Bylsma haar op só ’n wyse vermoor om die indruk te skep dat sy selfmoord gepleeg het. Hy het egter nié beplan om Marna die betrokke aand te vermoor nie.

“Marna was bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.”

Bylsma is tans in aanhouding in die Rooigrond-gevangenis.

Só het gebeure plaasgevind

Sharnelle Hough (17), links, en Marna Engelbrecht (16). Foto: Via Facebook

Bylsma was woedend omdat Sharnelle ʼn nuwe kêrel gehad het en het doelbewus beplan om haar in die vroeë oggendure in die koshuis te vermoor terwyl almal slaap. Hy het dus die aand eers na die feesterrein op die dorp gery waar hy ’n ruk lank gerook het, voordat hy Sharnelle ná middernag gebel en te voet koshuis toe gestap het.

Die hof het verder bevind dat Bylsma presies geweet het hoe om toegang tot die koshuis te kry en is by die koshuis in nadat Sharnelle se kêrel die oggend gaan slaap het. “Soos die noodlot dit wou hê was Marna egter ook in die koshuis,” het Hendricks gesê.

Volgens die hof het Bylsma vir Marna op pad badkamer toe aangetref, waarna hy haar agtervolg en verwurg het terwyl Sharnelle ’n warmer broek in die kamer gaan aantrek het. Hy het Marna se liggaam in die badkamer gelaat en uiteraard nie vir Sharnelle daarvan gesê nie. Hy het haar toe óók verwurg en van die trapreling laat afhang.

Dit is ook hy wat die halfnaakte foto’s na haar pa, Ronnie Hough, se selfoonnommer gestuur het.

Sharnelle Hough en Xander Bylsma. Foto: Facebook

Hendricks het tydens sy uitspraak benadruk dat Bylsma eers in die koshuis besluit het om vir Marna dood te maak sodat sy hom nie kon impliseer nie, nes die staat in sy argument aangevoer het. Dit is ook moontlik dat Bylsma haar vermoor het omdat sy nie ’n versoening tussen hom en Sharnelle goedgekeur het nie.

“Dit is vergesog, om die minste te sê, dat Victor die moorde gepleeg het,” het Hendricks gesê. Hy het … uitgewys dat Bylsma tydens die saak by verskeie geleenthede aan die hof bewys het dat hy ’n ongeloofwaardige getuie is en homself herhaaldelik weerspreek of met onwaarskynlikhede vorendag gekom het. Hy het ook die skuld op sy vorige regspan gepak wanneer dit hom pas.”

Volgens Hendricks was die staatsgetuies in die saak egter deurgaans geloofwaardig en eerlik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Dit is nie net hierdie twee pragtige kinders wat dood is nie. Hulle ouers, boeties, sussies, oumas, oupas en hele familie is ook “dood” in hierdie proses. Hul lewens is verwoes en dit sal nooit weer dieselfde wees nie. Ek kan net vir jul bly bid. Mag Xander Bylsma kry wat hom toekom. Selfs lewenslange tronkstraf is te kort vir die verwoesting waarvoor hy verantwoordelik is.

lollapot ·

Ek stem 100% saam! Net, my hart gaan ook uit na die Bylsma ouers. . .
Ek is doodseker daar is geen ouer wat verwag, dat die kind wat jy groot gemaak het met liefde en trots, ‘n koelbloedige moordenaar gaan uitdraai nie. ‘n Moordenaar wat nie die
eers die balls het om op te staan, skuld te erken en berou kan betoon nie. . .

Adeline ·

Wel een ding is ek seker volgens skrif het hy gee berou oor wat hy gedoen het nie – sy dade is eerlik boos en verskriklik verby – hy mag sy prys vir hulle moorde hierdie kant van die lewenslyn uitdien en betaal volgens ‘n menslike hof – maar as hy hierdie kan die lewenslyn oorstap in die ewigheid in wag daar vir hom verseker ‘n hemelse ontmoeting met sy Skepper en ook ‘n hofsaak…. verseker weet ek wat vir hom wag. My hart gaan uit na al die kinders se ouers – familie en vriende wat hulle geken en die lewe wat nou geroof is uit. Elke een wat in die lewe vermoor word se bloed roep onophoudelik voor onse Skepper se Troon uit dag en nag sonder ophou vir vergelding. Mag daardie vergelding toegestaan word met ‘n ewige geregtigheid.

Niklaas ·

Hierdie knaap gaan lank sit. Dit was ‘n kil beplande moord gebaseer op jaloesie. Baie simpatie met sy slagoffers se ouers en familie, maar tog dink mens ook aan sy eie ouers wat ook ly, al is hul seun skuldig.

Patch ·

Gooi sommer die sleutel weg na hy toegesluit is. Hoe verwerk sy ouers sy dade? Dis een vraag wat elke keer by my opkom as ek iets van hom lees.

Jakes ·

Hierdie gedrag kom na vore wanneer boosheid jou gedagtes oorskadu en oorneem. Bylsma se lewe is verwoes en so ook vele ander mense sn en 2 pragtige tieners is hulle lewens ontneem. Geregtigheid moet geskied.

popsa ·

Baie sterkte aan die Pappas en Mammas wat betrokke is by hierdie hartseer saak. Ons ander, ons kinders en ons kleinkinders moet leer uit wat hier gebeur het. Elke pad het ‘n begin en daarna lei dit êrens heen, na ‘n baie spesifieke einde. Dis die paaie wat ons kies om te loop wat ons bring by die eindbestemming waar ons onsself uiteindelik bevind. Daarom is dit goed as ek myself vooraf deeglik afvra of ek werklik daar wil eindig waar hierdie of daardie pad heen kan lei. Dis tog wat ons met alledaagse reise doen. Niemand betaal brandstof, mors tyd en ry na ‘n plek waar hulle glád nie wil wees nie. Maar baie van ons is nou waar ons nooit ooit wou gewees het nie. Waar wil jy heen, jongman? Watter eindbestemming wil jy bereik, meisie? Waarheen wil ek as ouer met my kinders? Ons moet vroeg, vóór ons die pad vat, hierdie sake deeglik met onsself uitmaak. En elkeen moet dink en elkeen moet besluit en geliefdes moet praat, want die pad wat ek kies om te loop, raak my mense diep, baie diep…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.