Xander hét Sharnelle ure voor moorde gesien

Sharnelle Hough en Xander Bylsma. Foto: Facebook

Xander Bylsma (20) het Dinsdag in die hooggeregshof in Mmabatho vir die eerste keer erken dat hy sy voormalige meisie Sharnelle Hough (17) ure voor die moord op haar en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht gesien het.

Bylsma het tydens sy kruisondervraging aan staatsaanklaer Johan Smit gesê hy was gedurende die aand van 25 Mei 2018 en die oggend van 26 Mei 2018 in Stella om met Hough “oor hulle probleme te praat”.

Sharnelle en Marna se liggame is die oggend van 26 Mei in hul koshuis by die Hoërskool Stella gevind.

Volgens Bylsma was hy en Sharnelle sowat ʼn jaar en vyf maande lank in ʼn verhouding en was hulle daardie aand al vir sowat twee weke lank nie meer in ʼn verhouding nie.

Volgens Bylsma het hy die betrokke aand van sy ma se huis buite Vryburg na Stella gery nadat hy en Hough vooraf gereël het dat hulle mekaar daardie aand sou ontmoet. Hoewel hy aan Smit gesê het dat hy nie presies kan onthou watter tyd hy op die dorp aangekom het nie, kon hy bevestig dat hy net ná middernag by die dorp ingery het waar Hough en Engelbrecht daardie aand in die koshuis van Hoërskool Stella geslaap het.

Hy vertel dat hy die aand met sy bakkie by die krieketveld stilgehou het waarna Hough uit die koshuis gekom en in sy bakkie geklim het. Hiér het hulle glo twee en ʼn half uur lank gesels en besluit dat hulle weer versoen wil raak. “Ons het besluit ons gaan voortgaan met ons verhouding.”

Xander Bylsma Dinsdag in die hof. Foto: Tania Heyns

Volgens Bylsma het hy kort ná 03:00 weer in die pad geval na sy ma se huis en Hough is terug in die koshuis in.

“Stem jy saam dit is die eerste keer óóit sedert daardie aand dat jy erken dat jy haar daardie aand in persoon gesien en dat sy selfs in jou bakkie ingeklim het?” wou Smit weet.

“Ek kan verkeerd wees, maar ek dink ek het dit in my aansoek om borgtog genoem.”

“Nee jy het nie,” het Smit gesê. “Stem jy [dus] saam dat dit die eerste keer is wat jy dit noem?”

“Noudat ek weet dit is nie in die borgtogaansoek nie, stem ek saam,” het die beskuldigde eindelik geantwoord. “Hoekom hoor ons dit nou eers?” wou Smit weet.

“Ek het gedink hierdie dinge sal mettertyd gedurende die verhoor uitkom,” het Bylsma geantwoord.

“Stem jy saam dat jy die indruk aan die hof geskep het dat jy haar nooit daardie aand gesien het nie?”

Bylsma het egter nie hiermee saamgestem nie.

Smit wou toe weet of hy dit ooit aan die private speurder Chris Saunders genoem het dat hy Hough daardie aand gesien het. “Ek kan nie onthou nie,” het Bylsma geantwoord. Dié antwoord het hy verskeie kere gister asook vanoggend aan die hof gegee.

Smit het Bylsma toe daaraan herinner dat hy voorheen aan Saunders gesê het dat hy daardie aand na ʼn stuk veld buite Stella gery het om te gaan rook waarop Bylsma fronsend geantwoord het dat hy nie dié besonderhede aan Saunders kan onthou nie.

Sharnelle Hough (17), links, en Marna Engelbrecht (16). Foto: Via Facebook

Smit het Bylsma se woorde aan hom teruggelees waarin hy kort ná die moorde aan Saunders gesê het dat hy slegs na sy “rookplek” buite die dorp gegaan het en dat dié plek “ver van die koshuis” af is.

Hy het vanoggend verduidelik dat hy wel aan sy voormalige regsverteenwoordiger Niven Rai genoem het dat hy vir Hough daardie aand gesien het.

“Ek vind dit nogal bitter belangrik. Hy moes dit aan Saunders deurgegee het,” het Bylsma gesê.

Smit het daarna die fokus geplaas op Bylsma en Hough se gesprek daardie aand in sy bakkie, waarna Bylsma gedurende kruisondervraging erken het dat die foto’s wat sy glo voorheen aan mansvriende gestuur het, nie in dié gesprek opgekom het nie.

“Het sy tydens die gesprek genoem dat haar vriende nie sou goedkeur dat julle weer saam was nie?”

“Nee,” het Bylsma geantwoord.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Glo hom nie ·

Ai tog xander hou asb op om vir advokaat te jok en praat asb die waarheid

MJ ·

Die volgende oggend is die meisie en haar vriendin dood gevind… ek reken hierdie meisie het gedurende hul gesprek NIE ingestem om met die verhouding voort te gaan.

Iemand ·

Ja ,ek dink sy weergawe is die fantasie, en hy het haar vermoor omdat sy fantasie nie waar geword het nie. Mens gaan seker nooit die volle waarheid uit hom uit kry noe….

Abe ·

Gert van Wierdapark,
Baie van ons mense se kommentare laat die indruk by my dat ons maar baie platvloers is. Ek vind dit jammer.

Arno Scheepers ·

Die laaitie is net so arrogant soos Becker en sy Waterkloof maatjies. Hoop hy sit lank

Jan ·

Dink dis tyd dat jy die waarheid praat… Jy is dit aan daai twee meisiekinders se ouers en familie verskuldig.

Swanna ·

Graag sal ek wil weet wat in so persoon se kop aangaan. Wat dryf hom tot so ‘n daad en dan die arogansie hoe hy met sy eie lewe dobbel in die hof.

chantie ·

Ja vroeg ryp vroeg vrot
ek persoonlik dink op skool focus jy maar liewer op jou skoolwerk
daarna maak jy tyd vir verhoudings
maar tot dan bly mens eerder goeie vriende

dis skokkend daai arme meisiekinders

Niklaas ·

Hy klink na n bedorwe brok. Iemand wat gewoonlik sy sin kry. 2 Pragmeisies is vermoor en dit lyk asof Marna hom daar gesien het en dus stilgemaak moes word. Laat ons hoop geregtigheid sal seëvier.

Derek ·

Hóé…op dees aarde ‘vermoor’ soooo ñ kleinerige postuur mens, twee medium grootte meisies,ter gelyker tyd…?
En dan staan sy boonop STIL DAT HY DIE TOU OM HAAR NEK SIT…???

IETS…maak nié sin,vir mý nie…

Griet ·

Ennnn….hý sluip toe sommer man alleen ini koshuis met ñ oop deur in en vermoor een ini badkamer en een opi trapreling LAG LAG SONDER ENIGE WEERSTAND??
Sonder enige teenstand of geskreeu?

hannelie ·

Sjoe Xander vir iemand wat so jonk is, is jou geheue darem baie swak. Eendag as jy oud is, sal jy nie kan onthou nie. Praat net die waarheid, want net jy weet wat die waarheid is, deur heeltyd te lieg gaan jou nerens bring. Hoop hierdie saak kom gou tot ‘n einde ter wille van die twee meisies se ouers. Maar as hy skuldig is……hoop ek regtig hy sit vir ewig.

Joubert ·

Snaaks hoe gereeld mense dink om iemand vir ewig toe te sluit al die probleme gaan oplos. Dit gaan niks oplos nie, dit vernietig maar net nog ‘n lewe, wat toegegee, waarskynlik reeds onherstelbaar beskadig is. Daar is ‘n heelwat groter probleem in ons samelewing, maar dit lyk of niemand dit raaksien nie.

Die oorsaak moet aangespreek word, nie die simptome nie. Ouers beskerm nie hulle kinders teen die magte van die bose nie. Selfone stel kinders bloot aan ‘n wêreld waarvoor die meeste van hulle nog glad nie gereed is nie. Ek verstaan hoekom dit in sekere eerstewêreld lande verbied word in skole.

Hierdie is die simptome van kinders wat nie genoeg liefde en aandag van hul ouers af gekry het nie. Hoe gaan ons dit regmaak? Maklik, sluit net vir Xander vir ewig toe! Probleem opgelos!

Charlotte ·

Ek hou van legkaarte bou maar hier is n paar stukke weg. Stukkie vir stukkie sal die hele legkaart voltooi wees. Aan die meisies asook Xander se ouers… Sterkte vir julle my hart bloei vir julle…

Wonder graag ·

Die laaitie se bek kort soma paar groot lepels jam hoe se hulle klein ma getrain!

Drinie ·

As n persoonslike vriendin van een van die meisies se ouers, is dit so hartseer. Elke keer wat die hofsaak plaasvind is die mamma se hartseer van vooraf erger. Ek kan sien hoe moeg sy elke keer is. My vraag is, hoekom moet hy dit vir hulle so moeilik maak.? Besef hy nie wat hy aan die alby partye se ouers doen nie.

George in Bloem. ·

Die gevreesde Zuma virus raak al hoe meer algemeen in ons howe…….

AgterOs ·

Het hulle ooit enige vingerafdrukke, hare, naels of so iets van die mannetjie op die toneel (in die koshuis) gevind?

Ekke ·

Ek glo niks van die storie dat sy in sy bakkie geklim het daardie aand om “te praat” nie. HYt MOONTLIK KOSHUIS TOE GESTAP vanaf die krieketveld waar hy gestop het. Die Staat se advokaat gaan hom uitmekaar haal in die hof. Hys klaar in ‘n hoek oor sy geliegery.

Heksie ·

As hulle dan versoen het, wat was sy motief vir die moorde?

Hy lieg, maar dit sal nog uitkom!

Elsa ·

Ek voel bitter jammer vir al 3 ouerpare. Die meisies se ouers het die hartseer dat hulle dogters vir ewig weg is en of Xander vir ewig toegesluit gaan word of nie, dit gaan nie hul kinders terugbring nie. Xander se ouers moet met die wete saamleef dat hul kind vir die dood van die meisies en hul ouers se hartseer verantwoordelik is en hulle word dalk ook saam met hulle kind veroordeel. Sterkte vir julle almal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.