Xander pak skuld op vorige regspan

Adv. Niven Rai, Xander Bylsma se vorige regsverteenwoordiger. Foto: Mariné Lourens

Xander Bylsma (20) het Dinsdag gedurende sy tweede dag terug in die getuiebank op verskeie geleenthede sy vorige advokaat Niven Rai die skuld gegee oor inligting wat in die hooggeregshof in Mmabatho vir die eerste keer aan die lig gekom het.

Maroela Media het vroeër berig Bylsma het vandag vir die eerste keer erken dat hy en Sharnelle Hough mekaar gesien het ure voor sy en haar vriendin Marna Engelbrecht dood is.

Staatsaanklaer Johan Smit wou weet waarom die hof nou eers daarvan te hore gekom het waarna Bylsma geantwoord het dat hy dit reeds vantevore aan Rai gesê het.

Die verhoor het vandeesweek hervat nadat dit in Mei uitgestel is toe Rai en ander regsverteenwoordigers van Bylsma saak onttrek het weens ʼn vertrouensbreuk. Dit was die tweede regspan wat van die saak onttrek het.

“Het jy nie gedink dit was nodig om Rai daaraan te herinner om destyds aan [die private speurder Chris] Saunders te sê dat jy vir Sharnelle daardie aand gesien het nie?” wou Smit weet.

“Ek het vir hom alles gedurende ons konsultasie vertel. Ek weet nie hoekom hy dit nie aan Saunders gesê het nie.”

Smit wou toe weet waarom hy nie vir Rai daaroor aangespreek het nie waarop die beskuldigde geantwoord het dat, sover hy kan onthou, hy dit in sy notas aan Rai gerig het.

“So moet ons verstaan dat Rai nie sy werk ordentlik gedoen het nie?” wou Smit weet.

“Ek sal nie dit sê nie. Hy het dit seker net nie belangrik geag nie,” het Bylsma geantwoord. “Ek was bietjie bekommerd, maar hy het my gerusgestel dat alles in die verhoor sou uitkom.”

Xander Bylsma Dinsdag in die hof. Foto: Tania Heyns

Smit het tydens vandag se kruisondervraging weereens gefokus op die gesprek tussen Xander en Saunders wat die dag van sy inhegtenisneming in ʼn bakkie op pad na die polisiestasie in Vryburg plaasgevind het. Dié bandopname is al ʼn geruime tyd ʼn besprekingspunt en ʼn binneverhoor is tans aan die gang om die toelaatbaarheid van ʼn bekentenis wat Bylsma later voor die polisie gemaak het asook die uitwysings te bepaal.

Die staat voer aan Bylsma het in die bandopname erken dat hy Sharnelle en Marna vermoor het. Die verdediging voer aan Bylsma is voorgesê wat om te sê.

Bylsma het gedurende die kruisondervraging vandag voet by stuk gehou dat Saunders hom voorgesê het om dit wat in die bandopname gehoor kan word, te sê. Hy het verduidelik dat hy Saunders se opdragte uitgevoer het uit vrees vir sy ouers se lewe.

Hy het verduidelik dat hy destyds gedink het dat Saunders ook betrokke kon wees by die doodsdreigemente wat sy ouers ontvang het. “Ek het vaagweg gedink dit kan moontlik Saunders ook wees. Stefaans [Engelbrecht, Marna se pa] het spesifiek vir Saunders gebel en ek het gedink dat as hy die boodskap oordra, dan moet hy ook betrokke wees,” het hy verduidelik. “ʼn Mens dra nie so ʼn storie oor en kan dan nie betrokke wees nie.”

Smit wou toe weet dat indien hy die waarheid praat oor die bekentenis in die bakkie, waarom Rai dan nie Saunders vroeër onder kruisondervraging in die hof daaroor uitgevra het nie.

“Besef jy dat die dreigemente [aan jou ouers] nooit deur Rai aan Saunders voorgehou is nie? Hoekom het jy nie vir Rai herinner oor wat Saunders gedoen het nie? Hoekom het jy hom nie herinner om dit aan Saunders voor te hou in die hof nie?” wou Smit by Bylsma weet.

“Ek hét gedink dit is belangrik en hét dit vir Rai gesê.”

“In die hof?” wou Smit weet.

“Ja.”

“Het mnr. Rai dan jou instruksies geïgnoreer?”

Adv. Sakkie Nel gesels met sy kliënt Xander Bylsma nadat die hof Dinsdagmiddag verdaag het. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

“Korrek.”

“Mnr. Bylsma, jy skilder ʼn prentjie dat mnr. Rai onbevoeg was en nie jou instruksies gevolg het nie.”

“Ek sê nie hy is ʼn slegte advokaat nie. Hy het net ʼn paar kritiese punte uitgelaat wat ek en my ouers beklemtoon het.”

“Dit is nie ʼn paar punte nie, dit is moontlik die belangrikste,” het Smit gesê.

Die verhoor hervat Woensdag om 10:00. Bylsma bly steeds in Mmabatho in aanhouding. Die saak word deur regter Ronald Hendricks aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Johan ·

Waarom klink hierdie jongman se argumente vir my so baie soos Zuma s’n?Albei het geheueverlies en beskuldig ander mense vir hulle doen en late….

Gert van Wierdapark ·

Die eintlike kritiese punt wat hy mis, is die Dade wat hy gepleeg het!!!

Alweer ·

“Maroela Media het vroeër berig dat Bylsma het vandag vir die eerste keer herken het dat hy…..”
Gelees in die berig. Daar is een te veel “het” in die sin.

Mariné Lourens ·

Dagsê Alweer

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Ai Tog ·

Alweer,
Ons is almal menslik wat menslike foute maak. Hoekom kan julle wat alewig so kla oor klein foute in die berigte nie maar net soos al die ander verder lees sonder om dit uit te wys en te dink dat julle julle is volmaak nie. Julle is irriterend. Wees dankbaar dat Maroela Media vir ons elke dag die nuutste nuus in ons moeder taal, gratis deel.
Dankie Maroela Media, dis lekker om elke dag op julle blad te kan kuier en op hoogte te bly van die gebeure wat om ons aan die gebeur is.

Ai tog ·

Alweer terwyl jy ander so reghelp- dit is erken en nie herken nie!

Peet ·

Hierdie outjie is presies dieselfde as daai Griekwastad klong…

Heidi ·

Hy blameer alles en almal vir wat hy aanvang. Neem geen verantwoordelikheid nie. Laat my nogal dink aan die Waterkloof 4 seuns. Sterkte vir die families van die slagoffers.

Wonder maar net ·

Lees ek vroeër vandag dat ‘n Narcissis in sy weergawe van dinge dikwels die held of die slagoffer is, maar nooit die villain nie. Wonder maar net. Is tans besig om van een te skei. Neem net geen verantwoordelikheid nie.

Se maar net ·

Ek stem wat maak dit saak of hy haar gesien het of nie hy het mos klaar erken hy het altwee dood gemaak hoekom dit vir haar ouers nog moeiliker maak ek sal dit nooit verstaan nie hoekom karring aan hoe iemand vermoor is as hy gese het hy het dit gedoen – done and dusted. Vonnis en kry klaar en gooi die sleutel weg

Theresa ·

Hierdie kind weet nie of hy kom of gaan nie. Sluit hom net toe en gooi die sleutel weg.

Abe ·

Theresa,
Hoekom se so baie mense “…gooi die sleutel weg.” – ons weet mos dis nie moontlik nie en sal niks oplos nie. Dis mos nie n slim ding om te se nie.

Barry ·

Wat my kwaad maak van mense soos Bylsma en vele ander wie nie kan onthou, en wie onskuldige lammetjies is ,is dat hulle dink intelligente mense glo hulle.
Hulle dink dat almal onnoseler as hulle is en hulle het die regte en eerbare storie.
Hulle moet eintlik tronk to gaan vir die belediging teen die publiek,die Regter ens wie hulle so voor lieg en glo dat die mense hulle sal glo.

PG ·

Hy is narsisisties. Glo regtig hy is slimmer as almal. Daarom sal almal enige twak glo wat hy kwytgeraak.

Wonder net ·

Hy is nes jacob juma eendag gaan xander president wees

lh ·

Hoekom speel vir tyd? Dit is een leuen op die ander . . . een verskoning op die ander. . .
Dink jy REGTIG dat jy skotvry hier gaan of kan uitloop seun? Hou op lieg en verskoning soek, jy IS ‘n lafhartige moordenaar, en jy maak dit nie vir jou ouers, of jou slagoffers se gesinne makliker nie. Jy walg my . . .

marous ·

As die polisie DNS toetse gedoen het op die tou en die handsak se band sou die saak al afgehandel geweees het .

Joesi ·

@Marous, dis nie hoe dit werk nie, dit sal slegs wys hy was op toneel (wat reeds bewys is). Vingerafdrukke op n Handsak wat “hy opgetel het” is omstandigheidgetuienis, so ook met die tou. Plaas hom op toneel, maar bewys geen moord nie.

chris ·

Dit word nie in suid afrika gedoen nie, glo nie die sa speurdiens weet eens hoe nie.

Sarel ·

Darm maar moeilik om al jou liegstories te onthou is dit nie? Sluit die mannetjie toe.

Gwen ·

Oh, what tangled web we weave
when first we practise to deceive

Kan nie help om te dink die woorde van Sir Walter Scott is so van toepassing op Bylsma/Rhode/Packham/Panayitou/van Breda/Steenekamp.

yolandi ·

en dan vra hulle nog versagtende omstandighede, watse versagtende omstandighede het die arme slagoffers gehad?

yolandi ·

siestog, voel nogal jammer vir die outjie wat nie sy stories agtermekaar kan kry nie. jy het gemoor soos n man, vat jou slae soos n man. hopelik kan jy en zuma sel maats word dan kan julle albei saam werk aan leuens

Narisha ·

Arrogansie, jongman gaan jou nerens bring nie…. ek weet nie en ek kan nie onthou nie….gaan jou ouers duur te staan kom aan jou finansiele kant vir jou regspan…jyt reeds hartseer en n negatiewe impak op die meisies se gesinne/familie veroorsaak asook by jou gesin/familie… plaas praat net die waarheid en se wat presies jy gedoen het en hoekom jy dit gedoen het, en vat jou vonnis en gaan besin oor jou sondes….hoe meer jy ek kan nie onthou nie hoe meer jare voeg jy by jou vonnis. Jy wou in beheer wees van twee onskuldige meisies se lewens, so wees in beheer van die waarheid en jou skuld daaraan.

Nettie ·

Ek hoop hierdie saak word uitgegooi – ek dink daardie “bekentenis” van Saunders is wat ons Engelssprekende vriende ‘n “travesty” sou noem. Ek wil, nes almal hier buite, reg en geregtigheid laat geskied vir die twee jong meisies en hul ouers. Maar nie ten koste van iemand wat – in my opinie – heel moontlik as gerieflike “scapegoat” uitgemaak word omdat dit tog sooooooooo duidelik is dat hy dit MOES gedoen het, want een van die meisies was sy eks en hy was ‘n jaloerse ‘boyfriend’ nie.

Die koshuis se deure was wawyd oop; enige een kon daar ingestap het en die twee meisies aangeval het. In ons gewelddadige milieu en gemeenskap is dit glad nie so vergesog nie. Verstaan nie NIE VERKEERD NIE: as Xander Bylsma die moorde gepleeg het, moet hy gestraf word.

Wat ek sê is: laat die reg sy beloop neem. Dit baat niemand om nou die vinger te wys en hom af te kraak en te beledig nog voor hy sy dag (voluit) in die hof gehad het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.