Xander ‘stil en bekommerd’ tydens uitwysings aan polisie

Xander Bylsma in die beskuldigdebank (15 Maart 2019). Foto: Mariné Lourens

Die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, het Vrydag gehoor Xander Bylsma (19) was “baie stil en teruggetrokke” toe hy uitwysings rakende die moordsaak teen hom aan die polisie gedoen het, maar het dié uitwysings uit sy eie vrye wil gedoen.

Só het kol. David George Lange vanoggend getuig tydens die verhoor teen Bylsma. Die jong man staan tereg op twee aanklagte van moord in verband met die dood van sy eksmeisie, Sharnelle Hough (17), en haar vriendin, Marna Engelbrecht (16). Die twee meisies se liggame is op 26 Mei 2018 in hul koshuis by Hoërskool Stella aangetref.

Lange is ʼn polisiebeampte van Potchefstroom, maar is gevra om die dag ná die meisies se liggame gevind is na Vryburg te reis om ʼn uitwysing in die saak te hanteer.

Kort nadat Lange met sy getuienis begin het, het adv. Niven Rai, Bylsma se regsverteenwoordiger, versoek dat Monte Bylsma, Xander se pa, die hof verlaat. Rai het gesê Monte mag dalk later as ʼn getuie vir die verdediging opgeroep word en kan daarom nie deur Lange se getuienis beïnvloed word nie. Regter Ronald Hendricks het Monte gevra om die hof te verlaat.

Lange het in sy getuienis aan die hof vertel hoe hy dié dag by die Vryburg-polisiestasie aangekom het en Bylsma uit die aanhoudingselle laat kom het sodat hy die uitwysing kan doen. Lange beweer hy het in dié stadium benewens die saaknommer geen inligting oor die saak gehad nie.

Baie tyd is afgestaan aan die kwessie of Bylsma tydens die uitwysing geboei was of nie. Lange het aan die hof gesê hy het versoek dat Bylsma nie geboei word nie, maar die polisiebeampte aan diens het die beskuldigde in elk geval geboei uit die selle gebring omdat dit die amptelike prosedure was. Lange het daarna gevra dat die boeie afgehaal word, maar iets het fout gegaan met die boei aan Bylsma se regterhand en beamptes kon ná ongeveer 15 minute se gesukkel nie die boei verwyder nie.

Kol. David Lange. Foto: Mariné Lourens

Lange beweer Bylsma het gesê hy het nie ʼn probleem daarmee as die boei aan sy arm bly nie. Die boei kan daarom op die uitwysingsfoto’s steeds aan Bylsma se regterarm gesien word.

Lange is deur adv. Johan Smit SC, die staatsaanklaer, gelei om stap vir stap deur die uitwysingsvorm te gaan wat hy voltooi het na aanleiding van sy onderhoud met Bylsma. Op die vorm verskyn verskeie vrae wat hy aan Bylsma moes vra en Bylsma se antwoorde is dan langs elke vraag neergeskryf.

Baie van die vrae hou verband met of Bylsma enigsins aangerand, gedreig of onbehoorlik beïnvloed is om die uitwysings aan die polisie te doen. Lange beweer Bylsma het telkens op dié vrae aangedui dat hy die uitwysings uit eie vrye wil doen en dat hy deur geen persoon beïnvloed is nie.

Bylsma is volgens Lange ook weereens in kennis gestel dat hy die reg het om te swyg en die reg het om ʼn prokureur teenwoordig te hê, maar Lange sê Bylsma het aangedui hy wil nie ʼn regsverteenwoordiger by hê nie.

Xander Bylsma praat met sy ma, Mercia, in die hof (15 Maart 2019). Foto: Mariné Lourens

Daar is ook vir Bylsma gevra of hy nugter en helder van verstand is en hierop het hy “ja” geantwoord. Op ʼn vraag van Smit het Lange ook aan die hof bevestig dat Bylsma nugter en by sy volle positiewe voorgekom het. “Hy was baie stil, mens kan amper sê teruggetrokke. Hy was skoon en ontspanne, maar het gestres gelyk oor die voorval. Die verdagte was spontaan, maar mens kon sien hy is bekommerd oor die voorval,” het Lange aan die hof gesê.

Op ʼn vraag van Smit of Bylsma enigsins arrogant of astrant teenoor hom was, het Lange geantwoord: “Nee, glad nie. Hy het sy volle samewerking gegee.”

Lange het aan die hof gesê nadat Bylsma die uitwysings aan hom en ʼn polisiefotograaf gedoen het, het hy aangedui hy is tevrede met die manier waarop dit gedoen was en dat sy uitwysings korrek neergeskryf is.

Rai het ná afloop van Lange se getuienis gesê daar het heelwat inligting aan die lig gekom waaroor die verdediging eers met die beskuldigde oorleg moet pleeg. Die hof het daarna vir ʼn wyle verdaag om die verdediging kans te gee om met Bylsma te praat.

Na die hofverrigtinge hervat het, is die saak tot 13 Mei uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

J ·

Wats jou volgende verskoning boeta? Jy’t nie geleer uir griekwastad en die bylmoorde nie ne, jy kan al wat n verskoning is probeer, maar sit gaan jy sit seuna.

Hannah ·

Sit tot in ewigheid………..
Geen genade vir jou ni.
Jyt geen genade getoon nie.

Skerpioen ·

Wonder watse notas sal Xander nou so sit en maak in die hof. Plaas hy het notas in die Sondagskool klasse gemaak… jy mag nie moord pleeg nie!

Jos ·

Ek is dankbaar dat daar gesoute hoë offisiere betrokke is wat die saak ondersoek het en getuig.
Rai gaan hulle niks maak nie.
Sterkte aan die ouers aan beide kante.

Lana ·

Ai, ek hoop alle potentiële moordenaars leer uit hierdie saak.
Hier is GEEN WENNER in dié situasie nie!!! Almal wat daardeur geraak word verloor.

Denise ·

Uiteindelik iemand wat nie oordeel.neerhalend , en lelikke opmerkings maak nie . Dankie Jos so bly daar is nog mense soos jy !!!! Sterkte aan al die ouers betrokke!!!

Helena. ·

Hierdie is n baie seer saak. Daar is drie gesinne betrokke en baie hartseer en miskien bitterheid. Laat ons nie oordeel nie want mense lees die kommentare wat nie hiervoor gevra het nie. Wees net menslik met julle woorde.

Lana ·

Jy is reg. ‘n Mens word so kwaad, dat jy maklik dinge sê wat maar moes gebly het.

Piet Grobbellaar ·

Ek dink nie dit was Xander gewees nie. Daar is ‘n derde mag betrokke in my opinie

Charlene ·

Piet Grobbellaar – en hoe het hy dan die uitwysings gedoen as hy nie betrokke was nie?

jaco ·

Wanneer word die “iemand” wat die meisies se klere moes bring, as getuie geroep?
Die klere moes van hulle ma’s se huise of iewers anders af gekom het, so hulle ma’s of iemand anders moes geweet het dat dié “iemand” die klere sou kom haal. Klere val nie net uit die lug nie.

Abe ·

Piet Grobbellaar,
1. Daar was niemand anders wat dit kon doen nie.
2. Hy het self keer op keer gese hy het dit gedoen.
3. Hy het presies geweet hoe dit gedoen is voordat hy die misdaadtoneel gesien het (in die bakkie)
Hy het dit gedoen.

Cherokee ·

Arme kinders, jy meen. Sharnelle en Marna. Arme pragtige meisiekinders.

Abe ·

Medelye,
Ek dink jou medelye is misplaas. Dit was n koelbloedige dubbele moord wat geen medelye onder watter omstandighede ookal verdien nie.

Abe ·

Jaco,
Die persoon wat die klere moes bring is Xander. Dit is hoe hy gereel het om toegang tot die meisieskoshuis te kry om +/- 2:00 in die nag (voorbedagte rade).

Sanet ·

Ek is net baie DANKBAAR ek is nie deel van dié hofsaak nie. Dit moet verskriklik wees, vir ál daai ARME ARME ouers!!
Baie sterkte aan almal ? mag reg en geregtigheid geskied

Abe ·

Sanet,
Dit is die groot wens op ons almal se lippe: Mag reg en geregtigheid geskied!

HPV ·

Ek sal ook sommer baie bekommerd wees as ek in sy skoene was.

Antionette ·

Ek kry hierdie ouers van die twee meisies en Bylsma se ouers bitter jammer. As ouer kan ek my nie indink hoe n ouer dit hanteer as jou kind n moord pleeg nie. Here hou U hand oor hierdie mense….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.