Yengeni-dronkbestuursaak: ‘Ek het drie slukkies bier gehad’

Tony Yengeni buite die hof. Foto: ANA

Tony Yengeni buite die hof. Foto: ANA

Tony Yengeni, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, het Dinsdag in die Kaapstadse landdroshof ontken dat hy dronk was toe hy in Augustus 2013 in Groenpunt in hegtenis geneem is.

Yengeni het aan die hof gesê: “As ek vyf keer oor die wettige perk was, sou ek ʼn ernstige ongeluk veroorsaak het. Ek stem nie saam met die staat se saak dat ek dronk was nie.” Die ANC-veteraan het gesê hy glo die saak teen hom is ʼn politieke komplot wat deur die DA gedryf word.

Hy het onder kruisverhoor gesê sy saak is in die hof bespoedig omdat hy is wie hy is. Sy bloedmonsters is binne twee weke nadat dit geneem is geanaliseer, wat baie buitengewoon is vir die forensiese laboratoriums wat met reuse-agterstande sukkel.

“Dit beteken landsburgers word ongelyk behandel. Hoekom? Ek vra myself af waarom is my bloed so belangrik dat dit na die voorkant van die ry moet spring,” het Yengeni gesê.

Adv. Leon Snyman, die staatsaanklaer, het aangevoer daar is niks vreemd daaraan om te versoek dat die analise van ʼn bloedmonster bespoedig moet word nie. “Jy het so ʼn probleem daarmee dat jou bloed se analise vinnig afgehandel is, maar jou verhoor het eers in 2015 begin. Jy beweer dit het gebeur omdat daar ʼn eksterne invloed is. Daar was geen druk van die staat se kant om met jou verhoor te begin nie. Hierdie prentjie van ʼn komplot pas glad nie,” het Snyman gesê.

Yengeni het volgehou hy het net drie slukkies “Afrika-bier” gehad op die dag van sy inhegtenisneming en dat hy nie onder die invloed van alkohol was nie. Sy bloedalkoholtoetse het egter getoon dat hy vyf keer oor die wettige perk was.

Beeldmateriaal van hoe Yengeni bestuur het, is Dinsdag aan hom in die hof gewys. Daar kan gesien word hoe sy motor ʼn kruising in Groenpunt nader en hoe hy oor die sperstreep ry. Snyman het Yengeni hieroor gekap aangesien hy vroeër getuig het dat hy reguit gery het en nie van baan verander het nie. Yengeni het naderhand ingestem dat “die beeldmateriaal vanself spreek”.

Snyman het hom weer uitgevra oor sy getuienis dat hy beweer hy het 18:00 uit Gugulethu na Groenpunt vertrek, maar is eers 22:00 in hegtenis geneem. “Waar is daardie vermiste vier uur,” wou Snyman weet. Yengeni het geantwoord dat hy baie later as 18:00 uit Gugulethu weg is en dat hy dalk “per ongeluk” 18:00 gesê het.

Adv. Dirk Uijs, Yengeni se regsverteenwoordiger, het dokumente aan die hof oorhandig in ʼn poging om te bewys dat die saak teen sy kliënt ʼn politieke komplot is. Dit het ʼn verklaring van DA-LP Diane Kohler-Barnard ingesluit wat ʼn dag ná Yengeni se inhegtenisneming uitgereik is, asook ʼn e-pos deur ʼn senior staatsaanklaer aan die forensiese laboratorium waarin hulle opdrag gegee word om Yengeni se bloedanalise te bespoedig.

Snyman het aan Yengeni gevra wat verkeerd is met Kohler-Barnard se verklaring waarin sy versoek dat geregtigheid moet seëvier nadat Yengeni in 2007 vrygespreek is op aanklagte van dronkbestuur. Yengeni het geantwoord Kohler-Barnard het geen reg om met hofsake in te meng nie.

“Die DA is ʼn opposisie in die parlement. Ek is deel van die regerende party. Dit was nie korrek van haar [om daardie verklaring uit te reik] nie,” het Yengeni gesê. Op ʼn vraag van Snyman of Kohler-Barnard die verklaring sou uitreik indien die 2007-saak nooit gebeur het nie, het Yengeni sy humeur verloor en geantwoord: “Ek is nie in haar kop nie. Ek mag dalk swart wees, maar ek kan dink.”

Landdros Grant Engel het die saak tot 24 Junie uitgestel wanneer kenners sal getuig.

Lees alle vorige berigte oor Tony Yengeni op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Willie E ·

Rassime!!! Hoor wat se die agbare lid!! “Ek mag dalk swart wees maar ek kan dink…”….wat insinueer die agbre lid hier? Gee hy voor met sy stelling dat swart mense nie kan dink nie??? As dit darem nie ‘n “rassistiese” stelling is nie dan weet ek nie….rassisties!!!

Anti-Haas ·

ek ken mense wat met een sluk ‘n bierglas vol bier afsluk…..
hy was seker maar baie dors……

Will i am ·

Baie sterk Afrika bier daai. 3 slukkies sit jou 5 keer oor die limiet. Ek soek asb daai resep

M ·

Ek was al so dronk,ek was blind. Maar dit was nie van drie slukkies nie.

Ander Koos ·

Hy beweer daar is komplot teen hom? Dan moes hy saamgewerk het deur die drank in te neem. Hoe dom kan jy nou wees? Nog ‘n rooikappie atorie

Maria van Dieweeck ·

Heeltemal reg Ander Koos, feeverhaaltjies wat hul self glo

At van Jaarsveld ·

Beste van als is ons regstelsel eet die gemors verskonings vir soetkoek op.en dan het hy n Regsverteenwoordiger wat dit glo en nog n klomp ander verskkonings uitdink om hom los te kry. Nou kla hy sy bloed is te vinnig ontleed. Magtig man daar sou geen verskil in uitslag gewees het nie mnr die regsverteenwoordiger.

Tiger ·

Hy’t geleer om te lieg by sy president!Hy gaan nie wegkom met sy stories nie.

Adrian ·

Hoe lank gaan sy saak nog voortsleep, omdat hy n anc politikus is nee magtig man hy is skuldig vonnis hom en kry klaar en natuurlik geen appel nie. Sou die persoon n burger van die land wees was die saak lankal afgehandel.

GES ·

Adrian, sake wat so lank sleep het ook sy voordele. Ek kan nie dink nie ‘n mens kan rustig lewe as daar ‘n swaard bokant jou kop hang. In meeste gevalle is die straf baie grootter.

GES ·

Die Yengeni-man klink vir my soos ‘n beroepsleunaar wat aan Altsheimer lite ly en hom verbeeld dat hy onaantasbaar is. Ek vermoed sy uurglasie het uitgeloop, die ‘arme’ verontregte man.

humor ·

n Onkreukbare karakter hierdie man met selfbeheersing van staal. Na drie slukkies sit hy die glas neer en se nee manne ek maak nie verder nie. Ek is n man van statuur in diens van die regering van SA. Hy laat staan die byna vol glas draai sy rug op sy minderwaardige vrinne en verlaat hierdie hool wat geensins by sy status pas nie. En die landros en ganse hof is beindruk en staan op as hy die hofsaal verlaat.

Scalla ·

Hoekom wil hul altyd kleur gebruik, hy se hy kan dink, smaak hy hy kan drink ook, hy is skuldig aan lekker dryf. Die afrika bier het seker battery suur bevat en hom gejoke.

Adoons ·

“Ek verstaan dit nie: ek het eers net agt slukkies bier gehad, toe sewe en toe ses. Later net drie…. Hoe minder ek gedrink het, hoe dronker het ek geword….”

LH ·

Die resep Yengeni, die bier se resep, ons moet dit kry, ons kan skatryk word, kry dit en laat iemand dit vir jou neerskryf, dink net, 3 tots en jy is hoogweg blink soos n spook. Goedkoopste gesuip raak, studente veral gaan mal wees daaroor.

Carel ·

Hierdie seniorANC regerings amptenaar se hele voorkoms se hy is ‘n pateet en sy optrede bewys dit.

Vickus ·

” Ek mag dalk swart wees, maar ek kan dink ” Jy se wat bra Tony. Mooi gedink daar !!!! LOL.

snuffels ·

Ek is nie seker vir wie het ek minder respek nie, n dronkbestuurder of iemand wat net 3 slukkies van hul bier vat…

PATSY ·

Ek weet van n dame wat na sleg een shooter afgetrek is by ‘n roetine ondersoek en sy is getoets, haar alkohol inhoud was rapsie meer as toelaatbaar al was sy nugter. Sy is inhegtenis geneem, geboei na ‘n polisiekantoor geneem waar sy moes wag tot die volgende oggend. Die saak het voorgekom en haar staf was ‘n 6 weke rehap program wat sy moes volg om te voorkom dat drank nie later oorhand kry nie. Dit was net so vernederend vir haar al was sy nie dronk nie. So wat is hierdie meneer beter as hierdie dame wat haar “straf” moes dra al was sy nie dronk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.