Yolandi Botes: Familie verdwaas oor wrede moord

Yolandi Botes (35) het op 26 April spoorloos verdwyn (Foto: Truth and Justice Continue, Facebook)

Die familie van Yolandi Botes, die 35-jarige vrou wie se liggaam verlede week in die Vaalrivier by Villiers gevind is, doen ʼn beroep op die publiek om enige inligting wat die ondersoek op die regte pad kan stuur, aan die polisie deur te gee. Volgens Botes se suster, Mariska Oosthuizen, soek die familie antwoorde om van Botes se wreedaardige moord sin te probeer maak.

Oosthuizen en haar jonger suster is verlede week self na die OR Tambo-lughawe, waar Botes op 26 April vir die laaste keer gewaar is, om antwoorde te soek. Daar het hulle beeldmateriaal van ʼn kringtelevisiekamera gesien wat wys hoe Botes in ʼn voertuig, wat die polisie aanvanklik vermoed het ʼn Uber is, klim.

“Ons is in die donker. Die polisie sê vir ons niks nie. Ons probeer self antwoorde soek, maar ons weet nie waar om te begin nie,” het Oosthuizen Dinsdagaand tydens ʼn virtuele gesprek met Pixie Pink, ʼn aktivis vir vroue- en kinderslagoffers, gesê.

Van Botes se liggaamsdele is verlede Dinsdag digby die Vaal-vakansieoord by Villiers in die Vrystaat gevind. ʼn Dag voordat haar liggaam gevind is, het die polisie bloed in ʼn gastehuiskamer in Kempton Park ontdek. Daar word sedertdien gespekuleer of dié bloed dalk Botes sʼn kan wees.

Oosthuizen het aan Pink vertel die familie was geskok om te hoor dat Botes se liggaam ontdek is.

“Ek sal nooit vergeet hoe erg my ma gehuil het toe ek haar vertel dat Landi se liggaam in stukke in die rivier gevind is nie. Ek kan nie dink dat die persoon wat daarvoor verantwoordelik is, vanaand kan slaap nie. Pla dit hom of haar nie? Dit kon sy of haar ma, suster of dogter gewees het.”

Sy sê sy het nooit in haar wildste drome gedink só iets sal met hul familie gebeur nie. “Die manier waarop sy vermoor is, was so wreed en onmenslik. Vrae maal in ons koppe. Hoe moes sy nie gesoebat, gehuil en gesmeek het nie? Is sy darem van lyding gespaar?”

Oosthuizen vertel aan Pink dat sy nie kan dink dat iemand so baie haat vir iemand só liefdevol soos Botes kon hê nie. “Landi was die liefdevolste mens wat oor almal geworry het. Sy sou haar laaste sente gegee het sodat jy nie hoef te sukkel nie.”

Sy het tydens die gesprek ʼn pleidooi aan die hele Suid-Afrika gerig om die polisie van enige inligting te voorsien wat met die ondersoek kan help. ʼn Facebook-blad, Justice for Yolandi Botes, is ook ter bewusmaking van haar moord begin.

“Yolandi was nie net nog ’n persoon nie. Sy was iemand se ma, suster en dogter. Daarom smeek ons die publiek om ons te help. Yolandi se stem is nou stil, maar ons kan haar stem wees sodat geregtigheid kan geskied.”

Oosthuizen sê Botes se dood moet ʼn waarskuwing vir ander wees om versigtig en paraat te wees.

“Sy is dalk op ʼn lelike manier dood, maar daar kan iets moois van dit kom. Al is dit om ander mense se lewens te spaar.”

Maroela Media het vroeër berig Botes se familie het private speurder Mike Bolhuis aangestel net nadat sy as vermis aangemeld is.

Oosthuizen het aan Pink gesê ʼn projek is begin om geld in te samel sodat die familie Bolhuis kan aanstel om die moordsaak te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Opinie ·

Die goed gebeur nie met ons nie, dit gebeur net met ander mense. Ongelukkig is dit hoe die meeste van ons dink.
Baie sterkte aan die familie, geen woorde kan die seer beter maak nie.

JohanR ·

Verstaan die Uber het haar by ‘n hotel daar naby afgelaai?

Anoniem ·

Uber kantoor sal presies weet hoe lank hy gery het, waar hy stilgehou het en vir hoe lank .

Misky ·

Ek hoop Bolhuis gee darem bietjie “afslag” en probeer die familie bystaan waar hy kan. Al gehoor sy tariewe enorm en jy moet 2de verband op huis neem

SomeOne ·

dammit, dit kan nie so baie wees nie, mike, wees redelik, ek wil dit nie vir jou of jou familie toewens nie, maar dink net wat se seer het die familie tot noutoe, ek het begrip met al die uitgawes wat jy aangaan in so ‘n ondersoek, maar, asseblief, help hul ook

Rooikoos ·

Dis pateties dat hy nie solank begin ondersoek instel nie. Nee, die geld god moet eers bevredig word.

Johanna ·

Hierdie Moord is n nagmerrie. Ek dink ook daaroor dat sy deur soveel.vrees moes gaan toe sh besef het sy is eintlik ge-kidnap.
Maar waarom het hulle haar liggaam opgesit?
As ek geld gehad het, sou ek Mike Bolhuis betaal het om hulle te help.
n Dame met die Naam, Wanda Strauss het n oop waarskuwing. OP haar Facebook geskryf Vrydag 7Mei. Sy het n scary ervaring gehad op die lOR Tambo lughawe met wat sy gedink het n Uber Taxi was. Sy het die Uber Taxi nommer op n App gekry. En buns onmiddelik was die Taxi drywer daar. Maar toe sy in die Taxi.was toe bel.die regte Ubed Taxi haar. Hulle het haar gesmeerde om uit te klim. Sy kon toe wel by n Boom Gate uitklim, gelukkig was die lughawe verkeer bsie druk anders was sy dalk ook dood

Noels244 ·

Hierdie is die tipe goed wat mens op TV sien, dit is verskriklik. Ek voel naar as ek daaraan dink. Ek hoop van harte daar word genoeg geld ingesamel sodat Bolhuis die saak kan oplos.

Vonnie ·

Dis wreed verby. kan net sê sterkte aan haar familie. en bid dat so iets ons nooit oorkom nie.

Pieter ·

En ou hoed is seker nog iewers op n strand besig. Gelukkig se die bybel nie vir my wie is my naaste nie.

JM ·

Ek is die ma van drie dogters. Ek sal van my verstand af raak!

LANA is ELANè ·

Privaatspeurder of nie, Bolhuis praat net wat die SAPD aan hom gesê het, dit is onnodig baie geld, en ek sal net vra vir die beste ondersoekbeampte in die polisie. Mag die familie vinnig antwoorde kry op die grusame moord van die mooi vrou.

Genis ·

Bolhuis het baie kredietwaardigheid met die Joos saga verloor…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.