Yolandi Botes: Talle vrae oor bloed in gastehuis

Yolandi Botes.

Daar is talle vrae oor die bloed wat die polisie in ʼn gastehuis in Kempton Park, Gauteng, gekry het, slegs ʼn dag voordat Yolandi Botes (35) van Brakpan se liggaam in die Vaalrivier by Villiers gevind is.

Botes is op 26 April omstreeks 06:30 die laaste keer by die OR Tambo-lughawe gesien toe ʼn Uber-bestuurder haar opgelaai het. Haar liggaam is verlede Dinsdag digby die Vaal-vakansieoord by Villiers in die Vrystaat gevind.

Sers. Dipuo Ditshego, woordvoerder van die Kempton Park-polisiestasie, het aan Maroela Media bevestig dat die polisie verlede Maandag na ʼn gastehuis in Kemptonweg, naby die lughawe, ontbied is. Die polisie het bloed in een van die kamers aangetref.

Daar was ook bloed op die bed, op die vloer, asook in die wasbak en stort in die badkamer.

Ditshego sê niemand was in die kamer nie en volgens die gastehuis se kringtelevisiemateriaal is geen verdagte bedrywighede opgemerk nie.

“ʼn Forensiese span is gestuur om te bepaal wie se bloed dit is en om bewysstukke te versamel. Ons wag nog vir die uitslae,” het Ditshego gesê.

Volgens Ditshego is ʼn mes in die kamer gevind, asook ʼn leë rooiwynbottel.

Botes se familie het die private speurder Mike Bolhuis aangestel net nadat sy as vermis aangemeld is. Hy sê sy ondersoekspan ondersoek bewerings dat Botes moontlik in die gastehuis vermoor is, waarna haar liggaam in die Vaalrivier gegooi is.

Bolhuis sê volgens inligting wat die span ontvang het, het Botes die lughawe in ʼn huurmotor verlaat en tot by ʼn winkelsentrum in Edenvale gery. “Daar het sy in ʼn ander private voertuig geklim. Dit is glo die laaste keer dat sy gesien is,” sê Bolhuis.

“Ek wil net weereens ʼn waarskuwing aan vroue, kinders en bejaardes rig om uiters versigtig te wees in ons wettelose land. Misdaad het eenvoudig in elke vorm en manier sy kop begin uitsteek en daarom moet die weerloses van die samelewing versigtiger en amper paranoïes omgaan.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn pa en sy seun het verlede Dinsdag by die Vaal-vakansieoord visgevang toe hulle iets wat soos ʼn liggaamsdeel lyk in die water gewaar het. Hulle het die polisie na die toneel ontbied.

Die polisie se duikeenheid het verskeie liggaamsdele in die rivier opgespoor. Botes is aan ʼn tatoeëermerk uitgeken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Misky ·

Hierdie storie raak net al erger en dink die arme familie en kinders het meer vrae as antwoorde tot dusver gekry. Dis bitter erg en wreed wat gebeur het

Zacahara ·

So ‘n pragtige dame. Kom ons hoop, bid & vertrou dat die waarheid spoedig sal uitkom & dat reg & geregtigheid sal seëvier!!

Jakes ·

Wat n tragedie. Innige medelye met die meisie se ouers en familie. Wat afskuwelik is in SA is dat hier gewetenlose moordenaars tussen ons beweeg elke dag en is elke mens n teiken.

Pieter J ·

Ek wonder of daar nie iewers ń eks is wat nou wraak geneem het nie. Party mense is mos uiters obsessief.

Perdeby ·

Iets maak nie sin hier nie. Niks op kringtelevisie nie??? Hoe het die persoon wat so erg beseer is uit gekom??

Juffrou ·

Iets maak nie sin nie. Die kamer was nie gebruik? Kringtelevisie wys niks? Kameras werk nie/af? Hoe het dié bebloede mens daar uitgestap? Óf in ń sak uitgedra? Geen kameras?

Vanessa ·

Die berig het my so ontstel, net om te dink wat die arme vrou deurgemaak het. Die foto’s spreek vanself. Niemand verdien so iets nie. Ek bid dat die skuldige gevang word, want iemand wat so siek is hoort nie in die samelewing nie, daar is geen verskoning of antwoord om dit wat hy/sy gedoen het te regverdig nie. Ek bid vir haar familie. Ek kan net dink hoe hulle moet voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.