Yoshi die karetskilpad nou naby Australië

‘n Skermgreep uit die video van Yoshi se vrylating twee jaar gelede. Sy het reeds 37 000 km afgelê.

Yoshi, die karetskilpad wat net meer as twee jaar gelede ʼn ent van Kaappunt vrygelaat is en nou reeds wêreldwyd bekend is, is steeds besig met haar reis.

Sy het die afgelope 26 maande reeds nagenoeg 37 000 km afgelê.

Die Twee Oseane-akwarium sê die jongste beskikbare inligting wys Yoshi is in dié stadium ʼn skamele 66 km van die kus van Westelike Australië. Dit het tot bespiegeling gelei dat sy moontlik oorspronklik van dié gebied afkomstig is en teruggekeer het om eiers te lê.

Yoshi swem gemiddeld 48 km per dag. Haar opsporingstoestel wys sy het die laaste paar dae stadiger begin swem en lê nou gemiddeld 46 km per dag af.

“In dié stadium kan ons net bespiegel oor die rede daarvoor. Een moontlikheid is dat sy gereed maak om te paar.”

Yoshi het die afgelope twee jaar telkemale nader aan kusgebiede geswem en haar swemspoed kan ook net ʼn aanduiding wees dat sy ʼn blaaskans op haar roete vat.

“Yoshi het nog altyd dinge op haar eie manier gedoen en sy gaan ons moontlik nog ʼn rukkie langer laat gis. Miskien stop sy net vir ʼn paar smaaklike snoephappies, of miskien is dit ʼn meer noemenswaardige plek op haar reis,” het Maryke Musson, uitvoerende hoof van die akwarium se onderwysstigting, gesê.

“Ons sal binnekort weet of Yoshi inderwaarheid ʼn Australiër is en of sy dalk ʼn bydrae gaan lewer tot die wêreldwye karetskilpadbevolking. Yoshi het ons trots gemaak en ons kan nie wag om te sien wat sy volgende doen nie.”

Yoshi se satellietopsporingskyfie het reeds data van onskatbare waarde aan navorsers verskaf. Dit is egter moontlik dat die battery op die skyfie binnekort gaan pap wees en Australiese bewaarders en navorsers staan gereed om dit te vervang.

Yoshi is in 1997 na die Twee Oseane-akwarium gebring deur die kaptein van ʼn Japanse vistreiler. Sy het net twee kilogram geweeg en het ʼn besering aan haar dop gehad.

Sy het gou een van gewildste diere in die akwarium geword en het met haar vrylating op 16 Desember 2017 reeds 183 kg geweeg.

ʼn Karetskilpad, wat uitgeken kan word aan hul groot koppe, kan tot 80 jaar of langer leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan Venter ·

Dankie Christel man, dis altyd wonderlik om van die omgee vir ons natuurlewe te lees. Die genot wat dit verskaf en die genoegdoening wat dit mens gee is onbeskryflik.

FM ·

Ek is so nuuskierig m.b.t. julle volgende berig. Hou ons seblief op hoogte van haar bewegings.

SomeOne ·

wat van 2x klein sonpanele weerskante van die opsporingskyfie om die battery lewe verder te verleng ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.