Yoshi swem 35 000 km in 740 dae

‘Swem, Yoshi, swem!’ Yoshi is net meer as twee jaar gelede naby Kaappunt vrygelaat. (Foto: Twee Oseane-akwarium)

Yoshi, die karetskilpad wat net meer as twee jaar gelede ʼn ent van Kaappunt vrygelaat is, het al meer as 35 000 km afgelê.

“Om dit in konteks te plaas kan ʼn mens sê Yoshi het al amper 1,5 miljoen lengtes van ʼn gimnasiumswembad voltooi,” sê Renée Leeuwner, woordvoerder van die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad.

Die langste swemrekord deur ʼn mens is 2 882 km oor ʼn tydperk van 157 dae. Dié rekord is deur Ross Edgley opgestel en weens die langdurige blootstelling aan die soutwater het hy deeltjies van sy tong verloor.

Bultrugwalvisse lê sowat 5 000 km – of op die meeste 8 000 km – af tydens migrasie. Yoshi het ook al verder geswem as die bekende grootwithaai Nicole wat in 2004 sowat 11 000 km geswem het om in die waters om Australië te gaan kuier.

Yoshi se ongelooflike reis. (Grafiek: Twee Oseane-akwarium)

Yoshi is in 1997 na die Twee Oseane-akwarium gebring deur die kaptein van ʼn Japanse vistreiler. Sy het net twee kilogram geweeg en het ʼn besering aan haar dop gehad. Sy het gou een van gewildste diere in die akwarium geword.

Yoshi het met haar vrylating op 16 Desember 2017 reeds 183 kg geweeg.

Yoshi bevind haarself op die oomblik ʼn paar honderd kilometer van Australië se Ningaloo- mariene park wat ʼn Unesco-wêrelderfenisgebied is as gevolg van die ongelooflike onderwaterbiodiversiteit van die Ningaloo-kus.

“Wat dit egter nog meer opwindend maak is dat Australiese wetenskaplikes van die Wes-Australiese departement van biodiversiteit en bewaring sowel as van die Griffiths-universiteit met ons kontak gemaak het vanweë die groot belangstelling in Yoshi se reis. Hulle is dus ook op bystand sou Yoshi besluit om eiers te lê. Om dié soort wêreldwye steun vir Yoshi te hê is net fantasties.”

Volgens Leeuwner is dit egter onmoontlik om te voorspel of Yoshi na die kuslyn gaan bly swem en of sy dalk eerder Queensland toe gaan waar daar ook ʼn kleiner broeibevolking van karetskilpaaie is.

“Of dalk is sy net die eerste karetskilpad wat gemonitor word om die drie oseane oor te steek terwyl sy met haar wêreldreise voortgaan. Hou net aan swem Yoshi, hou net aan swem.”

ʼn Karetskilpad, wat uitgeken kan word aan hul groot koppe, kan tot 80 jaar of langer leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Strandloper ·

Sjoe…. amper gedink dit is die sanger wat soos n brul padda klink toe ek die opskrif sien…

Janee ·

‘n Wonderwerk dat hulle nie n maaltyd van hom gemaak het nie!…. Swem Joshi, swem!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.