Ysige koue vir noorde van land wag

Kapenaars kan koue en reën van Maandag verwag (Foto: SA Weather Service, Twitter)

Suid-Afrikaners in die sentrale en noordoostelike dele van die land moet hulle staal vir ʼn ysige paar dae wat voorlê. Dít terwyl inwoners van die Kaapprovinsies reeds van Maandagoggend af bibber.

Lulama Pheme, weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê temperature sal teen Dinsdag in Gauteng, die Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal beduidend daal.

Koeler weer word ook van Woensdag af vir Mpumalanga en Limpopo voorspel.

“Maksimum temperature in die sentrale en suidelike dele van Gauteng sal teen Dinsdag tot tussen 10 °C en 12 °C daal,” sê Pheme.

Gauteng Weather sê op Twitter hierdie is die koudste week wat tot dusver dié winter verwag word.

Temperature sal teen Woensdag effens begin styg en teen die naweek normaliseer.

Maroela Media het vroeër berig ’n kouefront het Maandag die Wes-Kaap en die Noord-Kaap getref en sal teen Dinsdag na die binneland versprei.

Sneeuneerslae van tot 15 cm word vir dele van die Wes- en Noord-Kaap voorspel, waaronder die suidelike dele van Namakwa, Cederberg, Witsenberg en die Breedevallei-munisipaliteit.

Ryp word later die week vir groot dele van die binneland voorspel.

Die weerdiens het Maandag ’n geelvlak 2-waarskuwing uitgereik teen sterk wind wat in die Kaapprovinsies woed, wat kan meebring dat skade aan eiendom in sommige plekke aangerig word.

Stormsterkte wind sal veral tussen Kaap Columbine en Kaap Agulhas woed en kan buitengewoon groot golwe van tot 6,5 m hoog veroorsaak. Dié golwe sal veral in die oggendure by Hondeklipbaai en Kaap Agulhas voorkom, waarsku die weerdiens.

Dit sal na verwagting in die middag na Plettenbergbaai verskuif.

Reënval van tussen 30 mm en 40 mm word ook vir die Wes-Kaap voorspel en die weerdiens waarsku teen vloede oor die westelike gebiede van die Wes-Kaap.

Dís wat provinsies kan verwag

Volgens die weerdiens word ʼn minimumtemperatuur van 5 °C en ʼn maksimumtemperatuur van 15 °C Dinsdag in Pretoria voorspel. In Johannesburg word ʼn minimum van -3 °C en ʼn maksimum van 11 °C voorspel.

Sutherland in die Noord-Kaap kan ʼn minimum van -7 °C en ʼn maksimum van 1 °C teen Dinsdag verwag. Bloemfontein kan ʼn minimum van -2 °C en ʼn maksimum van 9 °C verwag, gevolg deur Bethlehem met ʼn minimum van 0 °C en ʼn maksimum van 8 °C.

In die Oos-Kaap kan Cradock ʼn minimum van -3 °C en ʼn maksimum van 6 °C verwag.

ʼn Maksimum van 12 °C en ʼn minimum van 8 °C word vir Kaapstad verwag, gevolg deur Beaufort-Wes met ʼn minimum van 0 °C en ʼn maksimum van 7 °C. In die Paarl kan inwoners ʼn minimum van 3 °C en ʼn maksimum van 11 °C verwag.

In Noordwes kan inwoners van Potchefstroom en Rustenburg onderskeidelik ʼn maksimum van 13 °C en 16 °C en ʼn minimum van -2 °C teen Woensdag verwag.

Inwoners van Pietermaritzburg moet hulle ook gereedmaak vir kouer weer en kan teen Dinsdag ʼn maksimum van 18 °C en ʼn minimum van 5 °C verwag.

Eskom het mense ook gevra om krag spaarsaam tydens die koue te gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pierre ·

Voertsek Eskom. Ek gaan NIE my heater afsit nie. Julle doen dit sommer vir my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.