Yslike melktert vir Erfenisdag by Voortrekkermonument

Hermien Wolff, wie se idee die reusemelktert was, en dr. Danie Langner, hoofleier van Die Voortrekkers en besturende direkteur van die FAK en Voortrekkermonument, sny die melktert (Foto verskaf)

ʼn Yslike groot melktert is op Erfenisdag deur die Polsslag-Voortrekkerkommando by die Voortrekkermonument gemaak.

Die melktert van 12 m lank, het bestaan uit 120 liter melk, 480 eiers, 18 kg suiker, 36 kg koekies en 1 kg kaneel.

Eers is die koekiebasis in ’n reusagtige reghoekige pan vasgedruk, terwyl die melkbeslag in verskeie kastrolle op gasstowe geprut het. Dié beslag moes eers dik genoeg word, voordat twee mans elke kastrol se inhoud versigtig oor die koekiebasis uitgegooi het. Toe die melktertbeslag gestol het, is kaneel in stensils, waaronder in vorms van Die Voortrekkers se wapen en die Voortrekkermonument gestrooi.

Hierdie reuse- volkseie lekkerny was die handewerk van drie Voortrekkerspannetjies: die Miere in gr. 1, Olifante in gr. 2 en Pikkewyne in gr. 3 om vanjaar die 90ste bestaansjaar van Die Voortrekkers te vier. Elkeen se naam is onderskeidelik saam met hulle spankenteken ook in kaneel met stensils op dié melktert verewig.

Hermien Wolff, gr. 1 en gr. 2-offisier van dié Voortrekkerkommando, het met hierdie idee vorendag gekom. Selfs sy was “verlig” dat die rekordpoging geslaag het. “Ek is so dankbaar vir almal wat gehelp het,” het sy gesê soos sy gehelp het om die historiese melktert in meer as duisend stukkies te sny.

Dr. Danie Langner, hoofleier van Die Voortrekkers, besturende direkteur van die FAK en Voortrekkermonument, het gesê van al die projekte wat Voortrekkerkommando’s vanjaar as deel van sy nege dekades se bestaan aangepak het, “is hierdie projek verreweg die indrukwekkendste”.

Frikkie van Biljon, wie se kinders deel is van die Polsslag-Voortrekkerkommando, het skertsend opgemerk: “Ek dink die koei is al maer gemelk,” toe hy nader staan om ordentlik na die reusemelktert te kyk.

Erfenisdag was vanjaar beslis iets besonders by die Voortrekkermonument. Die FAK-Polsslagkosfees is vir die eerste keer aangebied, waar meer as sestig stalletjies van ’n goeie boerepoeding tot sterk koffie, met alles tussenin vir lipaflek-lekker kos en tonne pret gesorg het.

Dié monument se Antiekmark is vanjaar saam met die Polsslagkosfees gehou. Daar was oudergewoonte ’n groot verskeidenheid unieke oudhede wat op die amfi-dak te koop aangebied is.

Daar was tonne vermaak vir die hele gesin dwarsoor die terrein. Van boeresport tot lasertag. Buiten LekkerFM wat regstreeks daarvandaan uitgesaai het, is daar ook heerlike musiek wat op die feesverhoog gemaak is. Die Jakaranda Boereorkes en Phillip Kotze en Vriende het ook vir lekker musiek gesorg.

Die Pioniersentrum het die oggend ’n leerprogram vir die jongspan aangebied, waar kinders geleer is hoe om brood te bak en botter te maak, asook hul eie miniatuur hartbeeshuise te bou.

Besoekers kon bloed skenk vir die SANBS hier op die terrein, asook skoolskoene, skooltasse en skryfbehoeftes vir die Lig-tydskrif se bedieningsgroep se projek om minderbevoorregte kinders te ondersteun.

Feesgangers kon ook die bekende kunstenaar Corlea se Genadesak-projek ondersteun. Handsakke met damesbenodigdhede is geskenk wat alles vir vroue gegee word wat slagoffers van mishandeling is of wat trauma beleef het.

By die stalletjie vir KANSA kon honderde feesgangers óf hulle hare laat waai óf in alle kleure van die reënboog laat sproei ten bate van kankerlyers en -navorsing.

’n Lewende laer is op Erfenisdag by die Piekniekterrein amptelik geopen. Hier sal jy kan sien en beleef hoe die Voortrekkers geleef het. Hierdie laer sal voortaan van Donderdag tot Sondag van 08:00 besoek kan word. Daar sal ook verskeie goedere te koop wees wat gemaak is soos op die Voortrekkermanier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dries ·

Hierdie laat my hart so warm klop. Dankie Vader vir hierdie kultuur skat.

Heinrich ·

Mooi man, maak my hart sommer warm om dit te sien. Wens ek kon daar wees. Bly om te sien daar is nog mense wat trots is om ons kultuur uit te leef.

Anel ·

Sou baie graag wou gaan maar kan nie sien hoe mens ‘n dag in die buitelug kan geniet met ‘n ding oor jou neus en mond nie. Dan bly ek maar by my huis.

JohanR ·

Dis hoe lekker die Afrikaner eet en makietie hou. Seker iewers was daar ook ‘n vleisie op ‘n vuur, en die boere orkes het gesaag en die mense het geskoffel!

Mariana ·

Ek sien net die positiewe raak, die negatiewe moet nou eers net bietjie wyk.

Dirk ·

Dit is nou regtig vir n slag goeie nuus en ook die feit dat dit oor ons en ons kultuur is maak n mens se hart warm. Baie dankie vir almal wat dit gereël het. Dis wonderlik

Adriaan ·

Dis fantasties julle. Ons moet nooit vergeet waarvandaan ons kom nie. Dis altans jou ‘wortels’ wat jou sterk maak en mooi ‘vrugte’ laat dra en voortleef. ???? Ek sien die bl0€d het steeds gevl0€, vir n goeie doel???? dankie SANBS

Mariana ·

Sowaar feestelik en altyd-onthou-dag. Kyk hoe mooi is die Voortrekkergroep. Kry sommer knop in die keel. Dit is mos nou erfenis van onskatbare waarde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.