Ysterpenne as lokval vir motoriste in Limpopo

Argieffoto

Die polisie in Limpopo waarsku motoriste om bedag te wees op ysterpenne op die N1 tussen Polokwane en die Kranskop-tolplaza buitekant Modimolle. Boosdoeners plaas dié voorwerpe in die pad met die doel om mense te beroof.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, is daar die afgelope naweek drie voorvalle waar motoriste se bande deur dié ysterpenne gesny is. Die motoriste was genoop om stil te hou en hul bande te vervang.

Die eerste voorval het Saterdagaand op die R101-pad plaasgevind toe ysterpenne ʼn gat in die band van ʼn egpaar se voertuig gesteek het.

“Die egpaar het stilgehou en die man het uitgeklim om die motorband te vervang. Terwyl hy daarmee besig was, het drie verdagtes uit die bosse gekom en ʼn paar skote afgevuur. Hulle het die slagoffer en sy vrou na die bosse gedwing en van selfone en bankkaarte beroof. Die slagoffers kon met geringe beserings ontsnap,” het Mojapelo gesê.

Die ander twee voorvalle het Saterdag en Sondag afsonderlik op die N1-pad plaasgevind. Die motoriste is ook vanuit die bosse deur gewapende boewe oorval toe hulle hul motorbande wou omruil. Hulle is van kontant, selfone, skootrekenaars, bankkaarte en klere beroof.

Die Heritage Protection Group (HPG) het op sy Facebookblad bevestig lede het die naweek ook ingespring en die polisie gehelp om die boosdoeners op te spoor wat die ysterpenne in die paaie geplaas het.

Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die polisie opdrag gegee om patrollies op hoofroetes te verskerp en seker te maak die skuldiges word vasgetrek.

Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, kan lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501, sers. Phaladi Makola by 082 749 2233, of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tanja

Boosdoenner… …? Klink meer soos krimineel!!

Hennie J

Ja o wee! As ons die motoriste waarsku is ons werk gedoen. Dankie aan HPG wat daadwerklik ingespring het om motosite direk te beskerm. Sonder privaat sekerheidsdienste sou piesangland al lankal gewees het soos die wilde weste sonder n sherrif.

Jasper

Misdaad voorkoming is al wat hierdie kriminele gaan stop gebruik die honger soldate om die polisie by te staan dan verdien hulle ten minste hul soldy en die belasting betaler sien waarvoor hul geld aangewend word.

VaalDonkie

Mens moet maar spaar vir “run flat” bande. Jy kan hulle tweedehands koop vir spot goedkoop

Jack

Run flat bande werk net op bande 16 en op. Jammer