Ysters in siel maak goeie opposisieleiers

Herman Giliomee

Ysters in die siel en die bereidheid om teleurstelling te hanteer ter wille van beginsels is die kern van goeie opposisieleiers, het die leidende historikus prof. Hermann Giliomee gister by die Universiteit Stellenbosch se Woordfees in Stellenbosch gesê.

Giliomee het met prof. Alex Mouton van Unisa gesels oor sy boek oor Suid-Afrikaanse opposisieleiers tussen 1910 en 1993.

Eerste aan die beurt was dr. Leander Starr Jameson van die Unionisteparty, wat van 1910 tot 1913 as opposisieleier probeer het om ‘n sterker Suid-Afrikanerskap daar te stel. Jameson, vir wie die digter Rudyard Kipling die gedig “If” geskryf het, se vriendelikheid het hom menige teenstander laat oorwen, maar sy gesondheid het hom gesink.

Sy opvolger, Sir Thomas Smartt (opposisieleier van 1913 tot 1920) het volgens Mouton nie ruggraat gehad nie en het hom deur die jingos in sy party laat afdreig.

Vir Mouton was Koos Strauss, VP-leier van 1950 tot 1956, die indrukwekkendste van die opposisieleiers omdat hy die regstaat probeer beskerm het teen die Nasionale Party.

Vir Sir De Villiers Graaff, opposisieleier van 1956 tot 1977, het Giliomee en Mouton nie veel goeie woorde gehad nie. Hy het hom te maklik deur die NP laat intimideer en het maar bly wag op ‘n groot skeuring in die Nasionale Party wat nooit gebeur het nie.

Mouton het baie bewondering uitgespreek vir die deursettingsvermoë van Colin Eglin, opposisieleier van 1977 tot 1978 en 1986 tot 1987, en vir Van Zyl Slabbert (1978-1986), hoewel hulle gemeen het Slabbert het dit dalk in die politiek te maklik gehad en dus te maklik as leier van die Progressiewe Federale Party tou opgegooi toe hy in 1986 uit die parlement gestap het.

Weens tydsbeperkings binne die Woordfeesprogram het Mouton en Giliomee nie daarby uitgekom om dr. Andries Treurnicht van die KP (opposisieleier van 1987 tot 1993) te bespreek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Sir en lords en konings en digters almal uit die ewige en alwetende en verwaande Brittanje het die aarde al meer skade aangedoen as ‘n atoombom. Ons akademici klink almeer na die berugte De Klerk-bende-der-helle-gerig wat die referendum so lekker bekook het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.