‘Ystervrou’ sterf ná gewapende roof

Rina Pringle. Foto: Via Facebook

Rina Pringle. Foto: Via Facebook

Rina Pringle, ʼn veiligheidsbeampte van Delmas in Mpumalanga, en ʼn kollega, Joseph Coombe, is Dinsdag in die plaasdorpie Sundra buite Delmas tydens ʼn gewapende roof geskiet.

Wilma Greeff, ʼn noodhulpbeampte van die plaaslike buurtwag, die Sundra Rietkol Bulldogs, was van die eerste noodhulpbeamptes op die toneel.

Sy het aan Maroela Media gesê Coombe en Pringle is glo in hul veiligheidsvoertuig deur drie voertuie – ʼn Volvo, ʼn bakkie en ʼn Mercedes Benz – agtervolg en omstreeks 10:00 in Tweede Laan deur die voertuie tot stilstand gedwing.

ʼn Onbekende hoeveelheid mans het op die veiligheidsbeamptes losgebrand en nagenoeg 44 skote is afgevuur.

“Die vrou is met een skoot in die passasierskant van die veiligheidsmotor aangetref. Die man is vyf keer geskiet en het buite die voertuig rondgeloop toe ons daar aankom,” het Greeff gesê. Sy het gesê Coombe kon glo daarin slaag om twee van die aanvallers met sy vuurwapen te wond. Die gewondes se medepligtiges het hulle op die agterkant van die bakkie gelaai voordat hulle van die toneel weggejaag het. Dis is nog nie duidelik of die groep kon slaag om enigiets tydens die voorval te roof nie.

Die noodhulpwerkers en paramedici van verskeie nooddienste het Coombe en Pringle op die toneel gestabiliseer en na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling. Pringle het in die Life The Glenwood-hospitaal in Benoni aan haar beserings beswyk.

Die polisie en buurtwag het ʼn spoor van die Volvo gevolg, maar later verloor. Die verdagtes is steeds soek.

Greeff het namens haar man, Hennie Greeff, die buurtwag se voorsitter, paramedici van die Bernice Samuel-staatshospitaal in Delmas, Medlife en ER24 bedank. Hulle het ook hul dank uitgespreek teenoor die Sundra-polisie wat spoedig op die toneel was, asook alle buurtwaglede wat na die verdagtes help soek het.

Die buurtwag het hul innige simpatie met Pringle se familie, vriende en kollegas betuig en Coombe ʼn spoedige herstel toegewens.

Gemeenskapslede beskryf Pringle as ʼn “ystervrou” wat “ongelooflik lojaal” en “uitmuntend en toegewyd” was in haar werk.

Bestuur van die beamptes se veiligheidsmaatskappy was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie. Die maatskappy het die voorval op hul Facebook-blad bevestig.

“Dit is met groot hartseer dat ons almal meedeel dat ons afskeid neem van Rina Pringle wat vroeër vandag [Dinsdag] noodlottig gewond is tydens ʼn gewapende roof. Joseph Coombe is tans in die hospitaal en word behandel vir skietwonde. Sy toestand is ernstig maar stabiel. Ons meegevoel gaan saam met Rina se familie in hierdie moeilike tyd. Dankie vir almal se ondersteuning en bemoediging.”

Maroela Media het navraag by die polisie gedoen en wag vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Connie ·

So hartseer. Sterkte aan almal betrokke. Familie en kollegas.

Landi Slatter ·

Dagsê Protes,

Dankie vir jou tergvoer. Indien jy enige inligting het wat jy onder ons aandag wil bring kan jy gerus vir ons ‘n e-pos stuur by [email protected].

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Michelle ·

Volgens my broer is twee van die ses rowers dood geskiet en die res almal gewond

Cherokee ·

Wat maak jou so seker dat jou broer die een is wat reg is? Net omdat dit jou boetie is?

Marianne ·

Wat is die moontlike motief agter so ‘n sinnelose skittery? Waarom onskuldige mense vermoor???
Ek hoop al die skuldiges word gevang. Hulle moet uitgesorteer word aan haar of hulle families sodat hulle reg en geregtigheid self kan laat geskiet.

Cherokee ·

Reg en geregtigheid laat geskiet? Die berig gaan juis daaroor… ‘n geskietery.

Christine ·

Dit is voorwaar baie hartseer, se die oggend good bye vir jou geliefdes en jy weet nie of jy hulle weer vanaand gaan sien, Baie sterkte vir die familie , vriende en kollegas, mag Jesus julle styf vashou en versterk in hierdie bitter hartseer tyd en mag geregtigheid geskied. Ek bid ook vir spoedige herstel vir Joseph ,5 keer geskiet!!! dit kan net n’ miracle wees.

Michelle De Jager ·

My broer was deel van die buurtwag en ek kan net dankie se vir almal wat gehelp het. Simpatie aan die familie van die oorledene. Sundra en Rietkol se buurtwag was baie braaf.

Elizma ·

Michelle, ons ook deel van die Sundra Buurtwag en sover ek weet is die berig reg. Slegs 2 van die aanvallers is gewond maar deur hulle makkers weggevat. Niemand van hulle op die toneel dood.

Rita ·

My broer was die voorsitter van die buurtwag tot en met sy afsterwe op 3 Aug 2016. Was ook baie betrokke en lojaal! Sterkte aan die families met dié tragiese voorval mens voel so magteloos!

skrikwekkend ·

Ai mense dis sooooo sad maar jinne tog ons bly in Afrika. Regeringsamptenare is hopeloos. Wens tog so die kiesers se oe wil oopgaan. Aan die anderkant sien die meerderheid net Allpay en Kindertoelae

Rene ·

So jammer om dit te hoor. Indien dit die Pringle gesin is waarmee ek in Laerskool Welgedag groot geword het wil ek net sê: Ek is so jammer vir jul verlies. Baie sterkte met die begrafnis. Mag Jesus jul styf vashou en vertroos in hierdie hartseer tyd vir julle almal.

Joey ·

Rene ons was in Springs op skool Laerskool Jan van Ribeeck. Maar dankie

Christell ·

Dit bring groot hartseer dat nog ‘n persoon ons verlaat het.My hart reik uit na Riena se familie.Oom Joseph is 6 of 8 keer geskiet.Tannie Riena is in al twee haar bene geskiet.Sy is glo dood in die ambulans.

Peter ·

Ai so tragies sterkte aan die famielie ek is self in die bedryf vir 30 jaar, ek neem aan hulle het kontant vervoer, ek het aanlyn op die Psira webwerf gaan loer, Joseph is gerigistreer as n “A” graad sekerheids beampte met CIT (cash in transit) kursus voltooi, ek kry nerens dat Rina Pringle by Psira gerigistreer was nie, indien nie sterkte aan die maatskappy wat hulle voor gewerk het dan gaan hulle les opse en sal krimineel aangekla word

Boerseun ·

Die tannie het een dogter en ń kleinseun wat nog baie jonk is en baie lief was vir sy ouma… Baie sterkte en innige meegevoel.

Johannes Meintjes ·

Die WNNR het op 20 Sep ‘n tegniese uitrol van o.a. GPF bevel, beheer en kommunikasiestelsels aangebied. Dit het die potensiaal om GPF/SAPD/Metro/ Nooddienste/ insleepdienste en sekrehidsdienste sowel as info en kommunikasie beter te bestuur, ontleedbaar te maak en op nasionale vlak vergelykbaar te maak. Dit sluit tegnologie in soos lugballon observasie, elektroniese vingerafdrukke aflig en dadelik vergelyk vir identiteisfotos van verdagtes en lasbriewe vir arrestasie, beter voertuig en nommerplaat ontledings, mobiele kommunikasie insette vir bv. selfoonfotos en “tweets”, SMS, edm. by die toneel, asook lewendige info log en strategiese geplaasde kameras. Daar is feitlik geen perk op integrasiemoontlikhede en baie beter benutting van bestaande IT stelsels nie (soos bv. kameras op paaie of in winkelsentrums). Die GOS (Gesamentlike Ops Sentrum) konsep word goed ge-integreer in die CMORE model soos deur die WNNR ontwerp. Mens vertrou dat SA en die landsburgers nou sal begin erns maak met effektiewe misdaadbekamping en verbeterde GPF prosedures, opleiding en toerusting waavoor die bemarking, opleiding, bemanning, ontplooing en befondsing nou baie dringend uitgepluis moet word. Medelye met hierdie lewensverliese soos in die artikel bo vermeld. Enige GPF se meestal klein groepies toegewyde deelnemers vedien om vrugte op al hulle pogins te beleef en te sien, meen ek.

Kotie ·

Die tweede moord in ‘n maand op ons klein dorpie. My innige simpatie vir die familie, niemand verdien dit nie.

Rene ·

@ Joey
Dankie vir jou skrywe. Ek dink aan julle in die hartseer tyd. Alle sterkte en mag Jesus julle almal toevou en troos met Sy liefde.

Tanya ·

Dit is n GROOT jammer dat so Wonderlike vrou weg gevat is, ek en my kolegas by Nedbank Delmas het Tannie Rina na aan ons harte gehou, ons het altyd lekker gechat en gelag tydens haar besoeke na Nedbank, sy was n lieflike siel met geen haat.
Ons gaan haar baie mis.
Ons innigste Simpatie vanaf Nedbank Delmas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.