Zak Valentine se appèlaansoek misluk

Zak Valentine. Foto: Mia Spies/eNuus

Zak Valentine, die man wat tans lewenslange tronkstraf uitdien vir sy rol in die opspraakwekkende Krugersdorp-afspraakmoorde, se aansoek om verlof tot appèl het Woensdag in die Johannesburgse landdroshof misluk.

Valentine het in dié aansoek sy vonnis as “skokkend onvanpas” bestempel. Regter Ellem Jacob Francis het egter nie hiermee saamgestem nie en hou vol die moorde was “gruwelik, barbaars, boosaardig en vooraf beplan”.

“Daar kan geen twyfel daaraan wees dat die moord op sewe persone waarvoor die applikant gevonnis is, ernstige oortredings is nie,” lui die uitspraak wat Maroela Media Donderdag onder oë gehad het.

Valentine is in 2019 skuldig bevind op 22 ernstige aanklagte waaronder die moorde op pastoor Reg Bendixen, Mikeila Valentine, Peter en Joan Meyer, Natacha Burger, Jarod Jackson en Joy Boonzaaier sowel as poging tot moord op Joshua Groenewald.

Hy is ook skuldig bevind op drie aanklagte wat met die plant van bomme verband hou, rampokkery, bedrog, diefstal, regsverydeling vir die versinning van sy eie dood asook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Valentine het in sy aansoek om verlof tot appèl aangevoer dat die hof in sy uitspraak ’n fout begaan het deur te veel gewig aan die getuienis van John Barnard en sy medebeskuldigdes Le Roux Steyn en Marinda Steyn toe te ken.

Hy glo die hof het te veel klem op die erns van die misdrywe en die afskrikwaarde van die vonnis geplaas terwyl die versagtende omstandighede ignoreer is.

Valentine het ook aangevoer dat die hof ’n fout begaan het deur te bevind dat hy nié rehabiliteerbaar is nie en geen genade teenoor hom betoon het nie.

Die argumente het Francis egter nie oortuig nie en hy het bevind dat Valentine niks nuuts in sy aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis geopper het nie. “Daar is eenvoudig geen redelike vooruitsig dat ʼn ander hof tot ʼn ander gevolgtrekking sal kom nie,” lui die uitspraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Henri ·

“Hy glo die hof het te veel klem op die erns van die misdrywe en die afskrikwaarde van die vonnis geplaas terwyl die versagtende omstandighede ignoreer is.”

7 moorde en hy voer aan versagtende omstandighede is geïgnoreer? Valentine sal sy dag kry, maar syne is nie 14 Februarie nie en ook nie ‘n bos blomme nie…

Althes ·

Genade maar die man is selfgesentreerd! Hy het sy dood gefake, versekeringsbedrog gepleeg, sy vrou is vermoor, hy was betrokke by moorde, dan wil hy appelleer teen sy vonnis?
Sit Boetie sit!!!!

Theo ·

Die ou moet maar sit waar hy sit.As ‘n mense die ondersoekke gaan lees oor die moorde het hulle geen ontsag gehad vir enige van die mense wat hulle vermoor het nie hoekom moet daar ontsag vir hom getoon word.
Die ou asook al sy mede beskuldigdes is baie baie siek mense.

Di ·

Goeie genade, is die man by sy volle positiewe? Dit is “skokkend onvanpas” dat hy so arrogant is om dit eers te se! Hy sit presies waar jy hoort – in die tronk! Skuim soos hy moet nooit vrygelaat word nie.

marius ·

Sewe mense en die straf is skokkend ? As daar nog ‘n galg was sou niks hom meer kon skok nie . Sewe keer .

Voilet ·

Jy is nog gelukkig om te lewe, jy moes doodstraf gekry het man!

Elize ·

Julle was die verpersoonlikheid van boosheid. Mag die Here gee dat julle nooit weer tussen normale mense rondloop nie.

Koos 100 ·

Al wat skokkend is, is jou glimlag op jou gesig en jou arrogansie om te appèlleer!

ES ·

Hy is heeltemal siek as hy dink sy straf is te swaar.

Terloops, die regter het genoem dat Valentine niks nuuts in sy aansoek om verlof tot appel geopper het nie maar dit is tegnies nie die korrekte prosedure nie. Met verlof tot appel mag jy nie nuwe of addisionele getuienis of bewyse lewer nie, die appel hof mag sleg die hof van eerste instansie se saak deurgaan met bestaande getuienis en bewyse en dan kyk of daardie hof nie foute in hul beslissing begaan het nie.

So Zak sou in elk geval nie enigiets nuuts kon opper nie want dit is nie die funksie van die appelhof om nuwe bewyse in te vorder nie.

Gideon ·

Sluit toe en gooi die sleutels weg, hy verdien geen media dekking!!!

honeybee ·

Stem hy moes gehang geword het. Sluit hom toe saam met sy mede beskuldiges vir die res van hul lewens.

Wondermaarnet ·

Sy optrede was skokkend en onvanpas toe hy deelneem aan moord orgies!

Miena ·

Julle weet ne… ek het sopas hierdie berig in rekord tyd gelees. Ek is bang vir daai kyk (stip oe en halwe onskuldige-skuldig-mooi-van -lelikgeite glimlag) van die man. Dit voel so asof hy deur die foto en deur die lens en deur my rekenaarskerm na MY toe staar… ooh eh eh… ek gaan nou maar vir my eers n koppie koffie maak en rustig raak voor ek verder lees aan enige berig of werk.

Patch ·

Mooi so! Gooi die sleutel van sy sel weg! Hy verdien wat hom toekom.

Niklaas ·

Dis maar moeilik om jammer te voel vir hierdie ou. Hy mors net tyd, geen hof sal hom genadig wees na sulke misdade nie.

Oosieoos ·

Hy is so boos dat hy gladnie sy foute erken nie. Hy is so a groot gevaar vir die samelewing dat hy tog nooit vrygelaat moet word nie want sal net voort gaan

George ·

Ek hoop hul doen met jou soos wat jy met jou victims gedoen het

Johan ·

Ek is nou nie kwaad vir dié man nie, maar hy behoort te vrot in die tronk!

Realis Thailand ·

Ek dink ook die vonnis is skokkend onvanpas.
Die man moes soos in die VSA lewenslank sonder parool in n enkel sel gekry het met eenmaal n dag n uur se oefen tyd in n klein buitelug area.
Geen besoekers en geen TV.
Dit sal gepas wees

Yvonne ·

Tragies dat hy genade soek maar dit self nie toegepas het nie

AH ·

Watter versagtende omstandighede kan daar vir 7 moorde? Enige moord is onaanvaarbaar en onverskoonbaar! Ek hoop hulle verander sy vonnis na lewenslank sonder die opsie van parool!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.