’n Zama Zama (onwettige myner) is dood en verskeie myners gewond nadat ʼn skietery tussen die groep en die polisie by ʼn myn in Krugersdorp aan die Wes-Rand uitgebreek het.
Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê paramedici is omstreeks 12:00 na die myn langs die R28 in Luipaardsvlei ontbied.
“Verslae dui daarop dat verskeie wetstoepassingsagentskappe saam met mynowerhede ʼn operasie by die myn uitgevoer het toe ʼn skietgeveg tussen hulle en die zama-zama’s uitgebreek het,” sê Herbst.
“Een van die zama-zama’s is in die kop geskiet nadat hy ʼn vuurwapen op die polisie gerig het. Hy is op die toneel dood verklaar. Talle ander mense is beseer toe hulle probeer vlug het.”
Verskeie politieke partye het Maandagoggend voor die Krugersdorp-landdroshof byeengekom as deel van ʼn protesaksie teen onwettige immigrante, mynbedrywighede en misdaad.
Die protesaksie het plaasgevind tydens die hofverskyning van meer as 80 onwettige immigrante wat die Immigrasiewet oortree het.
Mense kon ook ʼn griefskrif van die VF Plus onderteken om onwettige mynbedrywighede in die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (wat Krugersdorp, Magaliesburg en Muldersdrift bedien) te laat stopsit.
“Die VF Plus het by verskeie geleenthede die polisie gevra om te help met misdaadvoorkoming in West Village, buite Krugersdorp, waar onwettige mynbedrywighede plaasvind en verskeie mense reeds in skietvoorvalle gewond is,” sê Kobus Hoffman, VF Plus-lid van die Gautengse wetgewer.
Hoffman verwys na die jongste voorval waarin ʼn groep vroue verkrag en beroof is wat besig was met die verfilming van ʼn musiekvideo by mynhope in West Village.
“Die VF Plus het tydens ʼn oorsigbesoek aan die Wes-Rand verlede maand die mynhuise gevra vir beter veiligheid by ongebruikte skagte.
“Swaar gewapende myners wat onwettig goudstof na die oppervlak bring en misdade pleeg, kan nie langer toegelaat word nie. Die polisie sal ernstig moet optree en onwettige immigrante vanuit buurlande stop.”
Die VF Plus het die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, gevra om die saak ernstig te benader en alle rolspelers te betrek om ʼn einde te maak aan onwettige mynbedrywighede en gepaardgaande misdaad aan die Wes-Rand.
Dit se alles “swaar gewapende ONWETTIG”
En julle dink die polisie gaan dit stpo?Oral in die land waar myne betrokke is,us zama zamas en niemand keer hulle tensy daar n voorval soos tans in Krugersdorp plaasvind nie….oor n week is alles weer “back 2 normal”.
Ek neem al die politieke partye kwalik omdat hulle nie streng optrede gevra het nie. Almal skreeu nou op die ANC maar tot nou was alle partye doodstil oor ‘n reeds bestaande probleem
Ek stem saam dit help nie hulle kom voor die hof bymekaar na die misdaad om steun te werf vir die komende verkiesing nie ons die kiesers soek optrede en verantwoordbaarheid.
Die meeste waarvan ek weet kom uit Lesotho. Vandag word hulle terug gestuur (gedeporteer) oor ‘n dag of twee is hulle terug. Ons land se regstelsel is BELAGLIK! Polisie mors hulle tyd met die goed.
Gaan die 80+ onwettige zamas nou aangehou word tot die DNS uitslae bekend is ?
N zama wat n wapen op SAP rig word in die kop geskiet…. gaan dit ook ondersoek word soos wanneer n BOER n rower in sy been skiet en van poging tot moord aangekla word
Die praktyk moet totaal nek omgedraai word. Alle oop skagte moet permanent afgesper word of toegeskiet word
Begin by die grensposte waar insypelaars deurkom.
Onwettige myner wat geskiet is en netcare privaat ambulans gaan haal hom. Hoe so? Het hy n medies? Kriminele word darem maar goed behandel in SA
Ek stort geen traan vir hom nie