Zambië maak weer ommeswaai oor seekoeijag

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Die Zambiese regering het weer ʼn omstrede besluit om 2 000 seekoeie in die Luangwa-vallei te laat uitdun, omgekeer.

Die Suid-Afrikaanse jagonderneming, Umlilo Safaris, het die kansellasie van die program op die webwerf Africahunting.com bekend gemaak.

“Dit is met spyt, maar ook verligting, dat ons aankondig dat die Zambiese regering die uitdunningsprogram amptelik opgeskort het. Spyt, omdat dit lyk of die hoofrede is dat nie-jaggroepe weer eens hulle sin gekry het. Dis nie ʼn goeie ding vir Afrika nie.

“Verligting, omdat ons sedert die aankondiging in 2018 dat die uitdunningsprogram in 2019 gaan begin, gebombardeer met haatdraende e-posse, oproepe en boodskappe op sosiale en hoofstroommedia.”

Umlilo Safaris sê op die webwerf daar was sedertdien ʼn goed georkestreerde haatveldtog teen hom gevoer. “Die misbruik en gevloek raak jou, veral as dit op jou kinders gerig word.”

Die kontrak vir die uitdunningsprogram is tussen die Zambiese regering en ʼn maatskappy genaamd Mabwe Adventures aangegaan. Mabwe kon nie genoeg kliënte verskaf om die ooreenkoms na te kom nie en die regering het ingestem dat hy hulp kon vra om kliënte te werf.

Mabwe het Umlilo Safaris in dié verband formeel genader, maar die ooreenkoms is gekanselleer omdat die regering die program opgeskort het, lui Umlilo Safaris se verklaring.

“Sou die program in die toekoms weer ingestel word, kan Umlilo Safaris bevestig dat ons nié betrokke gaan wees nie.”

Die beoogde uitdunning, wat beskryf is as ʼn “seekoeibeheerjag”, is in 2016 gekanselleer en in 2018 weer ingestel, voordat dit nou wéér opgeskort is.

Daar is kommer oor die getal wilde seekoeie in Afrika. Na raming is daar tussen 115 000 en 130 000 oor. Die Wêreldbewaringsunie (IUCN) dui die seekoei op sy rooi lys ook aan as “kwesbaar”.

Diegene betrokke in die ivoorhandelbedryf sien seekoeitande as ʼn plaasvervanger vir olifanttande. Daar is toenemende internasionale pogings om die handel in olifanttande te beperk.

Volgens die organisasie Born Free is daar in die dekade tot 2016 meer as 6 000 seekoeitande, 2 048 seekoeislagtande, ʼn verdere 1 183 seekoeitrofeë, asook duisende “dele en produkte” na EU-lidlande uitgevoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

fred ·

baie bly…hierdie soort “jag” is net vir ryk persone wat als sal skiet om net n paar fotos huis toe te vat.
hoe moeilik kan dit wees om n seekoei te skiet en dan nog 2000??
lyk vir my n slagting…

Vra net ·

Hoekom hulle uitslag waar hulle te veel is? Hervestig hulle na plekke toe waar hulle uitgejag is. As hulle ‘n kwesbare spesie is beteken dit daar was vroeër baie meer. Gun hulle oorlewing en herpopuleer die plekke waar hulle was. Jammer vir die ryk trofee jagters wat nou nie ‘n foto kan neem om mee te spog nie.

Oop Oge ·

Instede om van die oortollige seekoeie (en ander wildsoorte) ontslae te raak dmv massa slagting (“culling”) wat `n finansieële uitgawe is, word dieselfde doel (uitdunning) bereik met trofeejag, wat `n massiewe finansieële toevoeging tot toerisme en die staatskas het. In albei metodes gaan al die vleis vir komersiëele verbruik en uitvoere. Gewoonlik ontvang die plaaslike bevolkings die grootste voordeel hiervan. Niks van die karkasse gaan ooit verlore nie.

Verplasing van die diere vereis enorme finasieele kostes en het gewoonlik beserings en vrektes tot gevolg. Die lewensvatbaarheid en watervlak toekoms van “nuwe” tuistes kan ook nie gewaarborg word nie. Nie mens of dier baat enigsins daarby nie.

Die trofee fotos is maar net die bonus van die risiko wat die jagter geneem het om die dier uit te haal, terwyl die Outfitter binne perke van natuurbewaring die geleenthede skep om inkomste vir die staatskas te genereer. Dit sluit `n wye area van werkskepping ook in – intern en ekstern tot die maatskappy.

Menslike emosies verblind die mens teen die realiteite van die Skepping en die uiteinde daarvan is gewoonlik chaos…dis Bybels

Daar is geen verskil daarin om Wild van enige soort, of Skape en Beeste, Pluimvee, Vis en ander gediertes uit te dun vir die kospot nie. Dis alles God gegewe (Genesis 9)…alles deel van die Godgeskepte ekologiese sisteem.

Vloek en skel gaan vir niemand of God self `n guns bewys nie, inteendeel, Hy het die opdrag gegee en die mens moet dit uitvoer – tot almal se voordeel.

Denise ·

Jy verstaan ÍETS van natuurbewaring OOP OGE en hoe dit werk in die natuur

Anoniem ·

As jy iets snaaks proe in jou drink water ,dink aan daai seekoeie wat hulle stertetjies so lekker swaai in die rivier.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.