Zambië stel wit tussentydse leier aan

Guy Scott. Foto: Amanda Lucidon/Withuis/Wikimedia

Guy Scott. Foto: Amanda Lucidon/Withuis/Wikimedia

Guy Scott, adjunkpresident van Zambië, is as waarnemende president van die land aangewys na die dood van president Michael Sata.

BBC berig dat daar binne 90 dae ʼn verkiesing gehou sal word om ʼn permanente opvolger vir Sata te kies. Volgens die berig is Scott die eerste wit leier in Afrika sedert FW de Klerk in Suid-Afrika.

Sata is in die ouderdom van 77 in Londen oorlede waar hy mediese behandeling ontvang het. Daar is lank oor Sata se gesondheid bespiegel na verskeie berigte dat hy ernstig siek is. Hy is verlede maand vir die laaste keer in die openbaar gesien.

President Jacob Zuma het intussen sy medelye betoon. “Namens myself en namens die regering en die mense van die Republiek van Suid-Afrika, wil ek my innige meegevoel aan die hele Sata-familie sowel as die regering en die mense van Zambië betuig,” het Zuma in ʼn verklaring gesê.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor internasionale betrekkinge en samewerking het gesê Sata se dood is ʼn hartseer tyd vir Zambië, aangesien dit die tweede keer is dat die land ʼn president in die amp verloor. President Levy Mwanawasa is in 2008 in ʼn hospitaal in Parys, Frankryk oorlede. “Die dood van president Sata moet gebruik word om politieke verdraagsaamheid in die streek, Afrika en die wêreld te bevorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Geluk Mnr Scott. Jammer egter oor die manier waarop dit moes gebeur. Ek weet hy het al ‘n slag of twee keel skoongemaak oor wit mense van Suid-Afrika, en hy is geregtig op sy opinies, maar ek kry moed vir die streek as ‘n plek soos Botswana kans sien om vir Ian Khama te kies (toegegee hy is deel van die “royal family” in Botswana maar nogtans) en dit oor die algemeen klink of Zambiers gelukkig is met Guy Scott (ek sien daar is dalk ‘n manier waarop hy tog as presidentskandidaat sal kan staan). Miskien kan my dierbare land eendag ook verby velkleur kyk en weer mense kies en aanstel op grond van verdienste.

Anon ·

Daar om na empire belange om te sien te , so goed ons se ons is bly oor Zille

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.