Altesame ses verdagtes is nou reeds in hegtenis geneem in verband met Woensdag se voorval van gepeupelgeregtigheid wat die lewe van verskeie jong mans in Zandspruit in Gauteng geëis het.
Die dodetal staan in dié stadium op ses. Drie oorlewendes verkeer nog in ’n kritieke toestand en word in die hospitaal behandel.
Kapt. Kay Makhubele, provinsiale polisiewoordvoerder, het Vrydagoggend gesê nóg drie verdagtes is Donderdagaand in hegtenis geneem op aanklagte van moord, poging tot moord en ontvoering.
Die verdagtes sal na verwagting Maandag saam met drie ander, wat vroeër in hegtenis geneem is, in die Randburg-landdroshof verskyn.
Maroela Media het berig daar is Woensdag omstreeks 02:00 aangemeld dat sowat 200 mense ’n soektog na ’n groep jong mans, wat glo mense in die Zandspruit-gemeenskap beroof het, op tou gesit het.
Nooddienswerkers het later nege mans in die middel van ’n veld naby ’n smeulende rubberband gevind. Die mans was vasgebind en het ernstige brandwonde opgedoen. ’n Groot groep mense uit die gemeenskap het in die gebied saamgedrom.
Die slagoffers se ouderdomme is nie bekend nie.
Gepeupelreg sal waarskynlik ophou wanneer die polisie hulle werk doen, die regstelsel optimaal funksioneer en kriminele behoorlik gestraf word. Dis nie goed genoeg dat ‘n moordenaar 23 jaar kry vir moord ipv lewenslank nie en dat die kriminele nie hulle volle vonnis uitdien nie. Dis nie goed genoeg dat wetsgehoorsame burgers hulle agter tralies toesluit terwyl kriminele vrylik in die strate rondstap nie
Tot en met die polisie nie hulle werk begin doen nie gaan hierdie tipe gedrag al hoe meer plaasvind. Mense is moeg vir al die kriminele dade en die polisie sit net agteroor. Help nie eers om hulle te bel nie, as hulle nie slaap nie, is daar ander verskonings.
Dis reg kriminele kry vir julle. Die slagoffers is moeg vir julle nonsens