Zane Kilian weer in hof

Zane Kilian tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Armand Hough/African News Agency(ANA)

Zane Kilian, die enigste verdagte in die moordsaak van die speurhoof lt.kol. Charl Kinnear, bly onbepaald in aanhouding nadat sy aansoek om borgtog vandag in die Bellville-streekhof uitgestel is.

Kilian, ’n oudrugbyspeler wat op 23 September in verband met die sluipmoord op Kinnear in hegtenis geneem is, sou vandag sy redes vir borgtog voor die hof stel. Adv. Blaine Lazarus het egter vandag namens die staat uitstel gevra omdat die staatsaanklaer adv. Greg Wolmarans in selfisolasie is nadat hy verlede week met ʼn werkskollega in kontak was wat positief vir Covid-19 getoets het.

Kilian se regspan het Vrydagoggend ʼn beëdigde verklaring aan die staat oorhandig waarin Kilian sy redes om borgtog aanvoer. Hy word aangekla van moord, sameswering om moord te pleeg, bedrog en die onregmatige onderskep van kommunikasie.

Kilian word aan die Kinnear-moord verbind weens onder meer sy betrokkenheid by die nasporing van selfoonseine, bekend as pieng. Kilian se regspan het vroeër bevestig hulle het ʼn lys ontvang wat toon dat Kilian duisende nommers oor ʼn tydperk van ʼn jaar nagespoor het.

Zane Kilian tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Armand Hough/African News Agency(ANA)

Dit blyk egter uit Kilian se verklaring, wat intussen aan die media uitgelek het, dat hy nie die enigste individu was wat toegang gehad het om spesifieke nommers na te spoor nie. Daarom meen hy dat hy nie op hierdie wyse tot die misdaad verbind kan word nie.

Eric Bryer, opdraggewende prokureur in Kilian se regspan, het verlede week buite die hof gesê om iemand na te spoor (pieng) is nie dieselfde as om iemand te skiet nie.

“Om iemand na te spoor is nie om die sneller te trek nie. Sedert die begin van die saak is die hele nasporingswêreld, ten opsigte van pieng, ontbloot.

“Daar is meervoudige gebruikers [van die platform], so dit is vir my baie verdag dat die polisie in staat is om te sê Zane het Kinnear se selfoonsein 2 200 keer nagespoor (gepieng). Daar is verskeie piengers daar buite, hy kan vir seker nie verantwoordelik gehou word vir elke sterfte in Suid-Afrika nie.”

Volgens Bryer hou Kilian vol dat hy onskuldig is op al die aanklagte.

Kilian bly intussen in aanhouding en sal weer op 8 Desember in die Bellville-streekhof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

As Killian dan onskuldig is wie het Kinnear vermoor.Wat se bewyse het die staat wat Killian op die toneel plaas.Killian ken die grootkoppe van die onderwéèreld.

Hennie J ·

Hier is n groot liegstorie aan’t gebeur en ek glo nie hoedman se mense het die kundigheid of wilskrag of vreesloosheid om die werklike skieter en baasbrein na vore te bring nie. Ek sien nou die dag hoe n valk n hoenderhen met ses kuikens (5 sterkes en 1 swakke) onder aanval plaas. Raai watter kuiken het in die slag gebly?

Anoniem ·

Dis baie duidelik dat Killian nie die skietwerk gedoen het nie, die persoon op die foto’s is die helfte van Killian se grootte. Slegs op grond daarvan kan hy waarskynlik bewys dat hy nie die skote afgevuur het nie. Dan het die bendeleiers verskeie SAPD lede in hulle sakke, dus gaan die werklike skuldiges nie sommer opgespoor word nie. Killian is die maklikste om te teiken.

Androclus ·

“Om iemand na te spoor is nie om die sneller te trek nie-maar hy is die oorsaak van wie die sneller getrek het.

Marcello ·

Het jy bewyse van jou stelling?? , niemand is skuldig totdat hy/sy skuld bewys is..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.