Zelda sê jammer; verduidelik uitlatings

'n Skermskoot van La Grange se Facebook-blad.

‘n Skermskoot van La Grange se Facebook-blad.

Zelda La Grange, oudpres. Nelson Mandela se voormalige assistent, het om verskoning gevra nadat sy Saterdagoggend teen pres. Jacob Zuma uitgevaar het op Twitter. La Grange het egter ook ʼn verduideliking verskaf vir haar uitlatings.

“Ek vra onvoorwaardelik en sonder voorbehoud om verskoning aan alle Suid-Afrikaners wat vanoggend [Saterdag] aanstoot gegee is deur my twiets. Daar is geen “maar” wanneer mense wat niks met jou frustrasie te doen het, seerkry nie. Ek is jammer,” het La Grange op Facebook geskryf.

Volgens La Grange was sy die afgelope week in die buiteland en het sy Vrydagaand vinnig op hoogte probeer kom van die nuus. “Die drie belangrikste stories in die week se nuus uit Suid-Afrika het verwys na blankes, kolonialisme en of apartheid (president Jacob Zuma het gesê al die land se probleme het begin toe Jan van Riebeeck in 1652 hier aangekom het; Zuma het die joernalis Max du Preez as rassisties uitgekryt en die ANC het die voorstel dat ʼn straat in Kaapstad na oudpresident FW de Klerk vernoem word, teengestaan).”

Volgens La Grange het sy op ʼn TV-skerm in die vliegtuig ‘n nuusopskrif gesien naamlik “Suid-Afrika in die ergste skuld van 20 jaar. Rand versag.” Volgens La Grange het sy kwaad geword. “In ‘n poging om my minagting oor die gebeure uit te druk, het ek daarin misluk om konteks te verskaf en het dit geblyk dat ek veralgemeen.”

La Grange het gesê haar voorbeeld dat wit mense haar ʼn “wit hoer” noem, is geïnterpreteer as: “Ek het swart vriende en ek verdedig altyd swart mense, en daarom is ek vrygestel van slae wanneer ek buite orde is. Dit is eenvoudig nie die geval nie.”

Volgens La Grange word sy daagliks “geviktimiseer” vir haar keuse om in Suid-Afrika te glo. “Dit is my werklikheid en ek leef dit en kies dit elke dag. “Ek aanvaar vandag [Saterdag] was verskriklik, maar weet ek sal nooit ophou om krities te wees oor mag en die vryheid wat daarmee gepaard gaan nie. Nóg sal jy. Kolonisasie was ‘n verskriklike ding wat gebeur het met ons land, maar ek kan dit nie uitvee of verander nie. Ek vra om verskoning dat ek dit glansryk probeer maak het, maar daar is tye wanneer ek voel dat dit beskou word as die enigste verkeerde ding wat met hierdie land gebeur het. Tog het ons ‘n stelsel wat nog elke dag mense ʼn onreg aandoen. Jammer as ek jou geloof in my verwoes het.”

Volgens La Grange was oudpresident Mandela die hardste op haar en het sy eerste vir hom om verskoning gevra omdat dit geblyk het dat sy veralgemeen het. “Ek is ‘n trotse Suid-Afrikaanse Afrikaner wat wil help bou aan die toekoms van ons land. Ek kan nie namens iemand praat nie, maar ek kan jou vertel hoe ek voel. Ons is almal gefrustreerd en kwaad oor die stand van sake vir verskillende redes. Maar daardie frustrasie is nie tot ras of kultuur beperk nie.”

La Grange het gesê dit help nie om die onderskeie rasse vir die probleem te blameer nie aangesien dit net die aandag af trek van die werklike probleme wat die land in die gesig staar. “Dit is korrupsie, wanbestuur, ongelykheid en basiese dienslewering. Op enige dag is ons demokrasie beter as apartheid maar dit beteken nie ons moet nie krities wees oor die stand van sake nie.”

La Grange se oorspronklike uitlatings op Twitter het ʼn hewige debat uitgelok. Klik hier om die berig te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Willem ·

Ten minste het Max en Zelda veroorsaak dat mense hul ware kleure wys . Waldimar Pelser sê bv vandag in Rapport/Netwerk24 onder andere die volgende:

“Seksistiese aanlyn grappe, uitlokkende foto’s van vroue in kort rokkies, outydse standpunte teen aborsie of vir die doodstraf, kortasem-teenstand teen gayhuwelike, kortsigtige veralgemenings oor wit mense of Afrikaners, spotprente oor die profeet Mohammed of Jode of Jesus, beroepe op die reg tot selfbeskikking – baie hiervan is in swak smaak en getuig van swak oordeel. Soms is dit dom en walglik.”

Dus kwalifiseer hy die reg tot selfbeskikking ook onder die bogemelde. Of mens nou vir of teen selfbeskikking in die land is, is nie waarom ek dit ophaal nie, maar suiwer om uit te lig waar sy denke is.

Dan natuurlik sê hy in sy voorlaaste paragraaf die volgende:

“’n Ander oorweging wanneer ons kies om te kwets of liewer te swyg, is om te vra: Hoeveel mag het die teiken? Is die teiken ’n mens of ’n groep wat kwesbaar is (wit boere, swart ¬lesbiërs, Franse Moslems), of is die ¬teiken ’n leier of iemand met volop ¬invloed (Jacob Zuma moet byna alles sluk wat na sy kant toe kom)?”

Zuma was dan die oorsaak self met sy onpresidensiële gedurige bashing van die Afrikaner en wit mense in die land dat mense hom verguis, maar per Waldimar moet Zuma nou als sluk wat na sy kant toe kom!

Willem ·

Terloops, ek het vergeet om die volgende aanhaling hier bo uit Waldimar se rubriek by te sit:

“Dit is ’n belangrike punt: Baie van die verspotte en aaklige standpunte op webblaaie (veral onderaan nuusberigte) kan ons wegwens, maar ons kan dit nie met wette keer nie, behalwe wanneer dit haat aanblaas of neerkom op aanhitsing tot geweld.”

En dan vra ‘n mens, moet die president van ‘n land dan nie ‘n voorbeeld stel nie? Afriforum het dan nou juis ‘n klag teen Zuma by die MRK aanhangig gemaak. Hy stook dan nou al vir lank die vure en werk die mense in die land op. (Is dit ‘n Carte Blanche?)

Maar daaroor mag daar nie ‘n woord gerep word nie, want dan is dit rassisties.

Lees gerus die volgende van David Steward van die FW De Klerk stigting:

http://www.politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71619?oid=905060&sn=Detail&pid=71619

Willem ·

Dit is die beste ding in die wêreld dat die sweer oopgebars het. Lees gerus die onderstaande, die klere van die mense val nou af. Sien ook Rhoda Kadali se kommentaar.

Dit was hoogtyd dat so’iets moes gebeur. Nou is dit in die ope vir almal om te sien en kan dit nie doodgeswyg word wat die ANC se rasbehepte agende is nie.

http://www.netwerk24.com/nuus/2015-01-19-leer-liefde-aan-vra-zelda

Louis le Roux ·

Ai, ons ou volkie kan tog só krities wees. Deur negatiewe kommentaar oor Zelda, was sy gedwing om verskoning te vra m.a.w. polities korrek te wees. Hierdie skynheilige onderdanigheid steek my dwars in die krop. Ons weet almal wat fout is in onse landjie, waarom moet ons daarvoor verskoning vra? Dit gee vir Zuma en sy vrybuiters water op hul meul, hul misdade word tot onbenullighede verklein en eintlik word daar gesê “doen so voort”
Waarvoor word gat gekruip? Al hoe ons weer bo sal uitkom is om te veg. So, my volk, ruk julle reg, vergeet van onderdanige ja baas, nee baas. Vergeet van gatkruip en vergeet va politieke korrektheid.

emiel ·

Eintlik is Max du Preez en La Grange se huidige eierdaans heel amusant om te aanskou. Vir 20 het beide lekker kus verkeer(met goeie beloning) en as spreukbuise opgetree teen sogenaamde blanke rassisme gedurende apartheid.

Dave ·

La Grange waag dit werklik om die volgende kwyt te raak : ‘…Op enige dag is ons demokrasie beter as apartheid maar dit beteken nie ons moet nie krities wees oor die stand van sake nie.”..’
‘n Trotse Suid-Afrikaanse Afrikaner Ek wonder of sy werklik besef wat die deursnee Afrikaner van haar dink. Sy kan haarself eerder beskryf as ‘n South-African African.

Neptunus ·

“Zeldina” het maar net aandag gesoek, en goed geslaag daarin. Sy moet seker maar nou en dan iets doen om in die nuus te bly. Wat sy bereik het met haar storm-in-‘n-teekoppie is min of meer die volgende: 1. Blanke kla tereg oor blatante rassistiese opmerkings deur die land se leier. 2. Blanke kry dwarsklappe van oral in die kuberruim. 3. Blanke vra nederig om verskoning met lang verduideliking op die koop toe. Dalk is dit wat sy wou bereik?

Gerhard Bezuidenhout ·

Zelda is bloedjonk en dit is duidelik dat sy nie besef wat die 21 jaar se ANC bewind aan ons land gedoen het nie. Hopelik sal haar ogies eersdaags oopgaan.

Henry ·

Is dit nie lagwekkend dat daar siele is wat hulle hoegenaamd steur aan wat Me La Grange te sê het oor wat ookal in hierdie droewe land aan’t gebeur is nie?
In die lig van die voorafgaande wonder ek wat Nkandla se tuinier vir ons oor uitwerking van die dalende Rand op die prys van eiers in Delmas kan vertel…

Martyn du Plessis ·

Zelda en Max du Preez is seker omtrent ewe liberaal, nou het Zuma egter vir Max `n rassis gebrandmerk, so sal jy Zelda ook gebrandmerk word. Wat jy nie verstaan nie, is dat die swartman
haat die witman, want hy lewe sy hele verlede, hede en toekoms in die blanke se skaduwee.
Jy hoef rerig nie omverskoning te gevra het nie.

Johannes ·

Zelda, ek het amper respek vir jou gekry, maar jou verskoning het dit alles ongedaan gemaak. Nou is dit vir my duidelik dat jy net publisiteit gesoek het, en dit ten koste van ons witmense. Dit is soos ons jou sal onthou.

Theresa ·

Ek weet nie waarvoor vra Zelda verskoning nie. Dit wat sy gesê het is tog waar. Ons word nogsteeds vir alles beskuldig. Hierdie spul kan nie met geld werk nie (nommer 1). Mors kan hulle wel. Waar is Eskom se geld heen. En wie sê Zuma wie se skuld is dit. So kan ek ‘n boek skryf van al die beskuldigings. Deur hulle onbevoegdheid gaan ons mense en land ten gronde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.