Zephany-hofsaak: Uitspraak dan gelewer

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Die vrou wat daarvan beskuldig word dat sy bykans twee dekades gelede die drie dae oue Zephany Nurse uit die Groote Schuur-hospitaal ontvoer het, sal na verwagting binnekort haar lot weet.

Regterpresident John Hlophe sal na verwagting Donderdag uitspraak lewer in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Die staat en die verdediging sal Woensdag hul slotbetoë lewer.

Die vrou, wat nie geïdentifiseer kan word nie ten einde Nurse se nuwe identiteit te beskerm, het onskuldig gepleit op die aanklagte teen haar. Sy word daarvan beskuldig dat sy Zephany op 30 April 1997 ontvoer het.

Die vrou het tydens die saak getuig dat sy in Desember 1996 ʼn miskraam gehad het en dat sy ʼn vrou genaamd Sylvia by die Tygerberg-hospitaal ontmoet het. Sylvia het glo aangebied om haar met vrugbaarheidsbehandeling of dan aanneming te help en dat dit R3 000 sal kos.

Die vrou het ʼn deposito van R800 betaal waarna sy vrugbaarheidsmedisyne ontvang het. Dit het glo nie gewerk nie waarna sy beplan het om aan te neem.

Volgens die vrou het sy gereël om Sylvia op 30 April 1997 te ontmoet om die aannemingsproses te bespreek maar dat daar ʼn vreemde vrou op haar gewag het en dat die vrou vir haar ʼn pasgebore baba gegee het.

Sy is glo aangesê om na die Retreat-hospitaal te gaan en vir Sylvia te bel. Sylvia het glo vir haar gesê die baba is ʼn jong vrou se kind en dat sy haar nie wou gehad het nie. Die beskuldigde het in die hof erken dat sy vir familie en haar man gesê het dit is haar kind.

Die beskuldigde, wat op 26 Februarie 2015 in hegtenis geneem is, het sedertdien geen kontak met Zephany gehad nie. Sy het die Nurse-familie vroeër om verskoning gevra maar hou vol dat sy nie die dag wat Zephany ontvoer is by die Groote Schuur-hospitaal was nie.

Shireen Piet het egter getuig dat die beskuldigde op 29 en 30 April by die hospitaal was en eers háár baba probeer steel het.

Die beskuldigde se man het ook getuig en gesê sy hart was gebreek toe hy verlede jaar uitgevind het Zephany is nie sy kind nie.

Lees alle vorige berigte oor die Zephany Nurse-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.