Zephany Nurse: Beskuldigde pleit

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Vrou van Lavender Hill naby Kaapstad wat na bewering in 1997 ʼn pasgebore baba uit die Groote Schuur-hospitaal ontvoer en as haar eie grootgemaak het, het Dinsdag in die hooggeregshof in die stad gepleit.

Zephany Nurse was net twee dae oud toe sy op 30 Maart 1997 uit die hospitaal verdwyn het. Die naam Zephany is aan haar gegee toe sy gebore is, maar die vrou wat haar grootgemaak het, het haar ʼn nuwe naam gegee.

Die 50-jarige vrou, wie se naam nie genoem mag word nie om Zephany se nuwe identiteit te beskerm, het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen haar. Die aanklagte sluit in ontvoering, bedrog en die oortreding van die Kinderwet. Die vrou staan tereg op aanklag van bedrog omdat sy glo die departement van binnelandse sake bedrieg het om ʼn geboortesertifikaat te bekom. Die aanklag van die oortreding van die Kinderwet volg nadat sy glo haarself verkeerdelik as Zephany se biologiese ma voorgedoen het en daardeur die kind en publiek mislei het.

Volgens die klagstaat het die vrou bevriend geraak met Zephany se biologiese ma, Celeste, en haar in die hospitaal oortuig om Zephany aan haar te oorhandig sodat sy kon slaap.

Toe die personeel Celeste later wakker gemaak het, het hulle haar ingelig dat haar babadogter vermis is. Ondanks ʼn landwye soektog na die dogter, is die kind eers verlede jaar gevind waar sy naby haar biologiese ma grootgeword het.

Zephany se biologiese suster, wat in dieselfde skool as sy was, het glo agtergekom dat die ouer meisie baie soos sy lyk. Haar ouers het agterdogtig geraak en die polisie genader. DNS-toetse het bewys dat die meisie inderdaad Zephany Nurse is wat al sedert 1997 vermis is.

Die vrou wat Zephany grootgemaak het, is kort daarna in hegtenis geneem.

Die saak duur voort.

Lees die vorige berigte oor Zephany Nurse op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elsie ·

Kyk ek weet dat as die dame die baba gesteel het, was sy verkeerd, maar daar is baie mooi na haar gekyk, goed opgevoed ens, sys nie seksueel misbruik of mishandel…….ek dink tog op die ou end sit hier meer agter die hele storie…..hoop die waarheid seevier

Louise Suttie ·

En as dit jou kind was Elsie? Dink net wat die biologiese ouers al die jare moes deur gaan, die pyn die leegheid. Stuur die dief tronk toe sy het BAIE mense se lewens ontwrig

Rosanne Hunter ·

Als goed en wel, die kind was versorg, maar die emosioenele skade wat die meisiekind nou moet saamleef is niks anders as marteling nie. Om na so veel jaar uit te vind die ma wat haar groot gemaak het is niks anders as ‘n leunaar en kinderdief nie, om weg gevat te word van alles wat sy ken en voor lief is. Om nou by haar biologiese familie te gaan woon waar alles vreemd is. Sal sy ooit so tuis kan voel soos by haar eie huis. Sal sy ooit kan aanpas. Ek huil oor die meisiekind. Ek bid vir haar. Die kinderdief het baie lewens vernietig. Haar selfsugtigheid moet gestraf word.

FC ·

Zephany is ouer as 18. Hoekom word die kinderdief se naam nie genoem nie.

kapenaar ·

pleit onskuldig? jammer sy is skuldig aan menseroof en sy hoort in die tronk. mens steel nie ander mense se kinders en babas nie. om so vir die binnelandse sake te lieg, vir al die mense te lieg. hoop sy word lewenslank tronk toe gestuur sodra sy skuldig bevind word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.