Zephany Nurse: Beskuldigde vertel hoe sy baba gekry het

Die Wes-Kaapse hooggeregshof. Argieffoto

Die Wes-Kaapse hooggeregshof. Argieffoto

Die vrou van Lavender Hill wat daarvan beskuldig word dat sy die drie dae oue Zephany Nurse byna twee dekades gelede uit ʼn hospitaal ontvoer het, het Maandag in trane in die hof getuig hoe die baba glo by haar beland het.

Die vrou, wie se naam nie genoem mag word nie om die tiener se identiteit te beskerm, het in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuld ontken op aanklagte van ontvoering, bedrog en oortreding van die Kinderwet.

Die vrou het vertel dat sy op 26 Februarie verlede jaar by die Valke se kantoor in Bellville in hegtenis geneem is. Sy het ontken dat sy op 30 April 1997 by die Groote Schuur-hospitaal was toe Zephany ontvoer is. Sy beweer sy was ook nie die vorige dag by die hospitaal nie.

Shireen Piet, ʼn staatsgetuie, het verlede week aan die hof gesê dat die beskuldigde op 29 en 30 April 1997 by die hospitaal was en haar baba probeer ontvoer het. Sy het egter die beskuldigde gesien toe sy die hospitaalsaal met die baba probeer verlaat het en het haar gekeer.

Die beskuldigde het hierdie weergawe egter ontken en gesê dat Zephany op 30 April deur ʼn vrou by die Wynberg-treinstasie aan haar gegee is.

Sy het verduidelik dat sy in September 1996 swanger geraak het, maar in Desember ʼn miskraam gehad het. Sy is daarna na die Tygerberg-hospitaal waar sy ʼn vrou genaamd Sylvia ontmoet het. Sylvia het aangebied om haar met fertiliteitsbehandeling of aanneming te help vir die bedrag van R3 000.

Die beskuldigde het getuig dat sy die miskraam geheim gehou het vir haar man omdat sy gehoop het Sylvia sal haar help om weer swanger te raak. Sy het glo ’n deposito van R800 aan Sylvia betaal en haar in die loop van die volgende maand verskeie kere gesien.

Op 30 April moes sy glo Sylvia by die treinstasie ontmoet, maar ʼn ander vrou het na haar toe gekom en die baba aan haar oorhandig. Die vrou het haar aangesê om na die Retreat-hospitaal te gaan.

“Sy het vir my gesê die ma wil nie die baba hê nie en dat sy binnekort met my in verbinding sal tree,” het die beskuldigde gesê. By die Retreat-hospitaal het sy glo die baba se klere uitgetrek en gesien dat die naelstring steeds vasgeheg was. “Ek het gedink iets is verkeerd, want daar was geen aannemingspapiere nie.”

Sy het getuig dat sy die baba huis toe geneem het, maar nooit aan haar man gesê het dat die baba nie hulle sʼn is nie omdat sy nie die band tussen haar man en die kind skade wou aandoen nie. Sy het getuig iemand het ʼn paar weke later by die huis opgedaag en sy het dokumente geteken wat sy gedink het die aannemingsdokumente was.

Sy het die feit dat die kind nie regtig haar kind was nie 18 jaar geheim gehou.

Toe die regter haar vra hoekom sy nooit vir Sylvia probeer opspoor het nadat sy in hegtenis geneem is nie, het sy gesê sy het haar kontaknommer reeds jare gelede verloor.

Die saak is uitgestel tot volgende Maandag. Die beskuldigde is steeds op borgtog vrygelaat.

Lees alle vorige berigte oor die Zephany Nurse-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gesiggie ·

Wat kan mens glo van die storie? En hoekom sal Silvia na 18 jaar nou veg om haar kind terug te kry?? iets klink fishy”’ en sy het Silvia se nommer verloor? toevallig”’ as Silvia haar dan geken het, sou sy lankal al na haar gaan soek… sy moes al haar besonderhede gehad het”’ nee weet nie so lekker… en n mesn dink nie net… maak seker wat jy teken” jy kan nie dog nie.

Liza ·

Gesiggie, dit is nie Sylvia wat nou die kind terug soek nie, maar die biologiese ouers. Haar biologiese sussie het haar “herken” by die skool en na ‘n ondersoek deur die biologiese pa het hulle uitgevind dit is hulle kind wat ontvoer is in die hospitaal. Sylvia het kamtig die kind vir haar gegee onder die versinsel van ‘n aanneming, Sylvia bestaan dalk nie eers nie, my opinie.

broos ·

as sy net R800 deposito betaal het sou Sylvia haar mos gekontak het vir die res van die geld….of nie?

sarie vanheerden ·

Ek is baie jammer vir almal in hierdie ongelukkige situasie maar die gesteelde dogter het in ‘n gelukkige stabiele huis grootgeword terwyl niks haar ontbreek het nie. Goeie opvoeding, gelukkige gesin, terwyl die biologiese ouers ‘n ongelukkige bestaan gevoer het met uiteindelik die egskeiding van die ouers. Ek gun die grootmaakmoeder hierdie oulike dogter van haar.

Susan Prins ·

Ons moet nie appels met pere vergelyk in hierdie saak nie. Die feit dat die grootmaak -ma goed omgesien het na die kind en dat sy niks ontbreek het nie… kan nie gelykgestel word aan die probleme in haar biologiese ouerhuis nie.. Enige huwelik het uitdagings… en ouers wat kinders verloor (op watter wyse ookal) se verhouding oorleef selde die trauma. Die feit van die saak is, sy het ‘n kind grootgemaak wat sy in haar siel geweet het – die gesteelde baba was. (of sy die kind grootgemaak het of nie). En niks vergoed vir die hartseer en verlies van ouers wie se arms leeg is en wat so uitgesien het na hul eersteling nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.