Zephany Nurse getuig agter geslote deure

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Geen besonderhede van Zephany Nurse se getuienis mag aan die media bekend gemaak mag word nie, het die Wes-Kaapse hooggeregshof Dinsdag beslis.

Nurse het Dinsdag in camera getuig, terwyl joernaliste verplig is om die hof te verlaat. Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), sou ná Zephany se getuienis ʼn verklaring aan joernaliste buite die hof maak, maar Regter John Hlope het beveel geen besonderhede van Nurse se getuienis mag bekendgemaak word nie.

Enigiemand wat besonderhede oor haar getuienis aan die media uitlek, sal voor die hof geroep word vir minagting van die hof. Ntabazalila het gesê die sensitiwiteit van die getuienis was juis die rede vir die hofbevel.

Maroela Media het vroeër berig Zephany Nurse is byna twee dekades gelede uit die Groote Schuur-hospitaal ontvoer toe sy net drie dae oud was. Haar biologiese ouers is Morné en Celeste Nurse. Die vrou wat haar grootgemaak het en nou aangekla word van haar ontvoering, se naam kan nie genoem word nie omdat dit die identiteit wat sy twee dekades terug aan Zephany gegee het, in gedrang sal bring.

Die vrou is in Maart skuldig bevind dat sy Zephany in 1997 ontvoer het. Sy het tereggestaan op aanklagte van ontvoering, bedrog en oortreding van die Kinderwet. Elke aanklag kan moontlik tien jaar tronkstraf tot gevolg hê. Zephany woon intussen by die ontvoerder se man, wat sy nog altyd geglo het haar pa is.

Mark Steyn, ʼn kliniese sielkundige, het vroeër ter versagting van vonnis getuig en gesê die beskuldigde ‘verstaan wat sy gedoen het, was verkeerd’. Sy het glo tydens die 16-uur lange onderhoud in die Pollsmoor-gevangenis gesê “selfs al was [die biologiese ouers] slegte mense, was dit nog steeds nie ʼn rede om Zephany te ontvoer nie”.

Adv Evadne Kortje, die staatsaanklaer, het Steyn Maandag tydens kruisverhoor daarvan beskuldig dat hy deur die vrou gemanipuleer is, nie objektief is nie, onervare is en ʼn “gebrekkige verslag” ingedien het. Kortje het gesê Steyn het nie die beskuldigde se manipulerende geaardheid in ag geneem nie. “Sy het vir haar man gelieg, sy het hom gemanipuleer. Sy het vir haar susters gelieg, sy het haar geliefde gemanipuleer.”

Tydens die verhoor het die beskuldigde volgehou sy is onskuldig en het die baba by ʼn vrou met die naam Sylvia gekoop. Regter Hlope het haar weergawe verwerp en gesê dis ʼn ‘feëverhaal’.

Zephany se ware identiteit het verlede jaar aan die lig gekom toe haar jonger biologiese suster by dieselfde hoërskool as sy begin skoolgaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

KarooKlong ·

Is sy dan nou famillie van shaik shabir? Hoekom so geheimsinnig?

Privaatheid vir 'n deurmekaar kind ·

Privaatheid vir die deurmekaar kind is belangrik. In die getuienis kom inligting uit wat mense na aan haar kan seermaak, verder hoop ek regtig hul luister objektief en oordeel nie die eie ouers nie. Zephany as jy hier lees, kindjie daar is hoop, gee net almal ‘n kans.

Veritas ·

My hart bloei vir die kind en die ma wat haar grootgemaak het en wat sy duidelik nog liefhet. Wat die ma gedoen het is nie reg nie maar sy moes ‘n wonderlike ma vir die kind gewees het as die kind besluit het om by haar grootmaak-pa te bly. Ek is net bly dat ek nie die vonnis moet fel nie.

MALINDA ·

Ja, dit is n moeilike besluit. Wat die grootmaak ma gedoen het was beslis verkeerd. Die kind het n lewe saam met die groot maak ma en pa? gehad, Sy het baie liefde aan die kind toegewei. Ek is ook bly ek doen nie die vonnis nie. shame!

lynette ·

Ai meisiekind my hart is diep geraak deur jou omstandighede . Om op so n mooi ouderdom ontnugter te word is baie erg . Wees net jouself en moenie protesteer nie . Jou lewe gaan nog aan . Weet net jou grootmaak ouers is baie lief vir jou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.