Zephany Nurse mag ‘ware identiteit’ bekend maak

Zephany Nurse en haar biologiese ma, Celeste, kort na haar geboorte.

Die hooggeregshof in Pretoria het Zephany Nurse wat in 1997 as pasgebore baba uit ʼn Kaapstadse hospitaal gesteel is, toestemming gegee om haar ware identiteit bekend te maak.

Nurse, nou ʼn 22-jarige ma van twee, was maar drie dae oud toe sy op 30 April 1997 langs haar ma, Celeste Nurse, se hospitaalbed gesteel is.

Celeste en haar man, Morne, se 17 jaar lange soektog na Zephany het in 2015 geëindig toe hulle jonger dogter dieselfde hoërskool as Zephany begin bywoon het. Klasmaats het verwys na die verstommende ooreenkomste tussen die twee meisies en die jonger suster het haar pa daarvan vertel.

Morne het die Valke gekontak en DNS-toetse het gewys dat Zephany, toe in matriek, inderdaad hulle vermiste dogter is.

Die Lavender Hill-vrou wat Nurse as haar eie kind grootgemaak het, is in 2016 in hegtenis geneem en tot 10 jaar tronkstraf gevonnis. Die vrou se identiteit is beskerm om die naam wat sy vir Nurse gegee het, geheim te hou.

Nurse se lewensverhaal het opslae gemaak toe sy met haar biologiese ouers herenig is. Sy was egter toe nog jonger as 18 en die hof het beveel dat die identiteit wat haar grootmaak-ma aan haar gegee het, beskerm moet word.

Die hooggeregshof het in 2017 ʼn aansoek van die hand gewys waarin gevra is dat die identiteit van kinderslagoffers, getuies en oortreders selfs ná hulle agtiende verjaardag beskerm word.

Die Sentrum vir Kinderreg, Media Monitoring Africa, en ʼn regspan vir Nurse het die aansoek ingedien en die hof gevra om duidelikheid te gee oor die interpretasie van art. 154 van die Strafproseswet. Hulle het ook gevra vir ʼn bevel wat verdere beskerming verskaf, selfs nadat kinders 18 jaar oud geword het.

Regter Wendy Hughes het destyds bevind dat die identiteite van kindergetuies, slagoffers en oortreders jonger as 18 ingevolge wetgewing beskerm moet word, maar die aansoek – dat hulle name ná die ouderdom van 18 steeds geheim gehou moet word – van die hand gewys. Die regter het bevind dit is ingevolge die Grondwet nie ʼn vereiste nie en ook nie toelaatbaar nie.

Zephany Nurse se biologiese ouers, Morne en Celeste. (Foto: Schalk van Zuydam/AP)

Die hof het ook bevind dat Nurse se identiteit tot ná enige appèlsake geheim moet bly.

In ʼn verklaring wat Nurse in die jongste hofaansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien het, voer sy aan haar posisie het sedertdien verander en dat dit nou “in wese verskil” van wat dit was toe die oorspronklike hofbevel gemaak is.

Regter Peter Mabuse het Dinsdag bevind Nurse se identiteit mag bekend gemaak word.

ʼn Boek oor haar lewe is vrygestel. In haar verklaring voer sy aan sy het ná sorgvuldige oorweging ingestem dat haar verhaal gepubliseer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.