Zephany Nurse-ontvoering: ‘Sielkundige is gemanipuleer, onervare’

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Die getuienis van ʼn kliniese sielkundige, ter versagting van die vonnis van ʼn vrou wat daarvan beskuldig word dat sy baba Zephany Nurse byna twee dekades gelede uit haar hospitaalbed ontvoer het, is Maandag deur die staatsaanklaer uitmekaar geruk.

Mark Steyn, wat ongeveer 16 uur lank in Pollsmoor-gevangenis die vrou ondervra het, getuig vir die verdediging in die Wes-Kaapse hooggeregshof.

Die vrou, van Lavender Hill, wie se naam nie bekend gemaak word nie om die nuwe identiteit te beskerm wat sy vir Zephany Nurse gegee het, is in Maart skuldig bevind dat sy die kind in 1997 ontvoer het. Sy het tereg gestaan op aanklag van ontvoering, bedrog en oortreding van die Kinderwet. Elke aanklag kan ʼn moontlike 10 jaar tronkstraf tot gevolg hê.

Die vrou het die drie dae oue Zephany op 30 April 1997 uit haar ma se hospitaalbed ontvoer. Die baba, van Morne en Celeste Nurse, is op 28 April deur middel van ʼn keisersnee gebore.

Staatsaanklaer Evadne Kortje het Steyn Maandag tydens kruisverhoor daarvan beskuldig dat hy deur die vrou gemanipuleer is, nie objektief is nie, onervare is, en ʼn “gebrekkige verslag” ingedien het.

Kortje het gesê Steyn het nie die beskuldigde se manipulerende geaardheid hanteer nie. “Sy het vir haar man gelieg, sy het hom gemanipuleer. Sy het vir haar susters gelieg, sy het haar geliefde gemanipuleer.”

Kortje het ook gesê Steyn het nie ʼn risiko-assessering gedoen om te bepaal of sy weer ʼn misdryf sou pleeg nie. “Jy het nie afskrikking, vergelding of rehabilitasie ondersoek nie en jy het nie toetse gedoen vir kognitiewe verdraaiing nie.” Kognitiewe verdraaiing is die regverdiging wat mense gebruik om hulself te oorreed dat hulle nie skuldig is nie. Dit sluit ontkenning, blaam en minimalisering in.

Die staatsaanklaer het daarop gewys dat die ontvoerder meen sy is slegs skuldig daarvan dat sy ʼn goeie ma vir Zephany was, en daarom is dit moontlik dat sy weer die oortreding sal herhaal.

Steyn het gesê die beskuldigde voel ʼn onreg is haar aangedoen en sy is kwaad vir die media wat “leuens oor haar publiseer”.

Hy het toegegee dat sy geen teken van berou toon nie, maar besonderhede verskaf oor ʼn geskiedenis van herhaaldelike aanranding deur haar eerste man, haar ma wat haar verlaat het toe sy 12 jaar oud was, en ʼn swangerskap toe sy 16 jaar oud was, maar die babatjie gesterf het op vyf weke.

Kortje het gesê Steyn probeer simpatie wek vir die beskuldigde in ʼn poging om haar as ʼn slagoffer uit te beeld. Sy het ook daarop gewys dat hy Zephany herhaaldelik op die naam noem wat die beskuldigde vir haar gegee het, en gesê hy begin soos die beskuldigde dink en is nie objektief nie.

Steyn het ook in sy verslag na Zephany verwys as die beskuldigde se “de facto” dogter, en hy is gedwing om om verskoning te vra nadat die staatsaanklaer hom daaroor gekonfronteer het.

Kortje het gesê: “Die hof het bevind sy is Zephany Nurse en is op geen manier die ontvoerder se dogter nie. Die beskuldigde hou aan om vir jou haar weergawe te gee wat reeds deur hierdie hof verwerp is.”

Die ontvoerder se man het aan een kant van die openbare galery gesit, terwyl Zephany se biologiese ouers en hul familie aan die ander kant gesit het. Daar was ʼn herhaaldelike gemompel van goedkeuring terwyl die staatsaanklaer die sielkundige se getuienis verwerp het.

Zephany se biologiese sussie het verlede jaar in Januarie by dieselfde hoërskool as sy begin. Toe hul klasmaats daarop wys hoe baie hulle na mekaar lyk, is sy huis toe en het haar pa daarvan vertel. Morne het met sy eie ondersoek begin en die volgende maand sy vermoede by die polisie gaan aanmeld.

Die Valke het die vrou, wat Zephany as haar eie grootgemaak het, verlede jaar in Februarie in hegtenis geneem. DNS-toetse het bevind Zephany is inderdaad die kind waarna die gesin al byna twee dekades lank op soek is.

Lees alle vorige berigte oor Zephany Nurse op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

So sad en jammer ·

Dit bly soooo sad en jammer vir Zephany, al Ma wat sy geken het word uitmekaar getrek en op die anderkant haar biologiese familie wat soooo n groot onreg aangedoen is. Ek is dankbaar ek is nie die regter, ek glo ook aan 2de kanse,maar as dit is soos ons lees, bly hierdie steelma met haar selfsugtige simpatie oorlog – pleks van erken, dra jou skuld, jy was verkeerd, sodat jou steelkind kan perspektief kry, sy sal altyd vir jou liefbly, maar gee haar die kans om haar familie te leer ken en n band te vorm, dit is net regverdig teenoor Zephany en haar familie wat haar so oneindig gemis het, al haar eerstes en opgroei is van hul ontneem en sy die opregte liefde van haar eie ouers.

jaco ·

as die kliniese sielkundige vir die staat werk en sy werk te danke aan slegs regstellende aksie gekry het, is dit mos amper logies dat hy nie goeie werk gaan lewer nie. Dis hoe moordenaars en verkragters kan loskom en, nog erger, dis hoe ‘n nuclear meltdown by Koeberg kernkragstasie kan ontstaan – skrikwekkend om aan te dink…

sarie van heerden ·

Haar hele lewe was Zephany Nurse ‘n goedopgevoede, gelukkige, goedaangepasde jong meisie totdat die bom om haar gebars het.
Ek kondoneer nie wat haar aanneemmoeder gedoen het nie maar ek voel haar biologiese ouers moet nou slim wees en bereid wees om hul dogter met die grootmaakma te deel. Dit wil voorkom asof die twee families se waardes van mekaar verskil en dat sy meer tuis voel in haar aangenome kinderhuis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.