Zephany Nurse-saak: Beskuldigde binnekort gevonnis

Die Wes-Kaapse hooggeregshof. Argieffoto

Die Wes-Kaapse hooggeregshof. Argieffoto

Die vonnisverrigtinge van die 51-jarige vrou van Lavender Hill in die Wes-Kaap, wat skuldig bevind is dat sy Zephany Nurse 19 jaar gelede ontvoer het, sal na verwagting vandag in die provinsiale hooggeregshof begin.

Die vrou is in Maart skuldig bevind aan aanklagte van bedrog, ontvoering en oortreding van die Kinderwet nadat sy die drie dae oue Zephany op 30 April 1997 uit haar wiegie langs haar ma se hospitaalbed ontvoer het.

Zephany, die dogter van Morne en Celeste Nurse, is op 28 April 1997 in die Groote Schuur-hospitaal deur middel van ʼn keisersnee gebore. Haar regte naam mag volgens wet nie bekend gemaak word nie.

Regter John Hlophe het gedurende sy uitspraak die beskuldigde se weergawe van gebeure as ʼn “sprokiesverhaal” beskryf en dit verwerp. Hlophe het gesê haar storie was baie eenvoudig. Die vrou het beweer dat sy in 1993 ʼn miskraam gehad het en weer in Desember 1996. Sy is na die Tygerberg-hospitaal om ʼn ginekoloog te spreek en het ʼn vrou, Sylvia, ontmoet wat aangebied het om haar met fertiliteitsbehandeling of aanneming te help.

Volgens die beskuldigde het sy ʼn R800-deposito van ʼn bedrag van R3 000 betaal. Toe die fertiliteitsbehandeling nie wou werk nie, het sy besluit om aanneming op die proef te stel. Die beskuldigde het beweer Sylvia het gereël dat ʼn baba op 30 April 1997 by die Wynberg-treinstasie aan haar oorhandig word. Die vrou het aan haar gesê die baba se ma wou haar nie gehad het nie.

Hlophe het die beskuldigde se verhaal as “verstommend” bestempel en gesê die baba het nie aannemingsdokumente gehad nie, haar naelstring was steeds aan haar vasgeheg en die omstandighede waaronder die baba aan haar oorhandig was, is uiters verdag.

“ʼn Mens hoef nie uitermatig slim te wees om te weet babas kan nie vir R3 000 gekoop word nie. Dit is ʼn sprokiesverhaal om die minste daarvan te sê,” het Hlophe gesê.

Hy het die getuienis van nege staatsgetuies, waaronder dié van Shireen Piet, aanvaar. Piet het getuig dat sy ook op 28 April 1997 by die Groote Schuur-hospitaal geboorte geskenk het. Sy het gesê die beskuldigde het haar verskeie kere oor die volgende twee dae besoek. Volgens Piet het sy in ʼn stadium by die beskuldigde geld geleen om ʼn telefoonhokkie te gebruik en het gesien hoe die beskuldigde haar baba probeer steel het. Sy kon haar betyds keer.

Nadat die beskuldigde in Februarie verlede jaar in hegtenis geneem is, het Piet haar uitgeken as die vrou wat haar baba probeer steel het.

Zephany Nurse se ware identiteit het verlede jaar aan die lig gekom nadat haar jonger biologiese suster by dieselfde hoërskool as sy begin skoolgaan het. Nadat klasmaats gegis het oor die twee meisies so baie na mekaar lyk, het Zephany se suster haar pa van die meisie in haar skool vertel. Morne het met sy eie ondersoek begin, die tiener ontmoet en die Valke in Februarie ingelig. Die beskuldigde is kort daarna in hegtenis geneem.

DNS-toetse het bevestig die meisie is die kind na wie die egpaar al jare lank soek. Sedert die beskuldigde se inhegtenisneming, is Zephany nie toegelaat om kontak te hê met die vrou wat haar grootgemaak het nie, maar sy woon steeds by die man wat sy geglo het wel haar pa is.

Zephany sal na verwagting vir die staat getuig gedurende die vonnisverrigtinge.

Lees alle vorige berigte oor Zephany Nurse op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.