Zephany Nurse-saak: ‘Ek sal haar nooit vergewe nie’

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Zephany Nurse se biologiese pa meen sy dogter is “geïndoktrineer” en dit het daartoe gelei dat hul verhouding gespanne is.

Morne Nurse het sy getuienis Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof voortgesit en gesê hy sal nooit die vrou vergewe wat sy dogter byna 20 jaar gelede uit ʼn hospitaal in Kaapstad ontvoer het nie. “Ek sal haar nooit vergewe vir dit wat sy gedoen het nie, nie totdat sy die waarheid aan my kind vertel nie.”

Die vrou, wie se naam weerhou word om die identiteit te beskerm wat sy vir Zephany gegee het, is skuldig bevind op aanklag dat sy die drie dae oue babatjie op 30 April 1997 uit haar ma se hospitaalkamer ontvoer het. Sy is skuldig bevind op aanklag van ontvoering, bedrog en oortreding van die Kinderwet.

Zephany se ware identiteit is verlede jaar in Februarie bekend gemaak nadat sy haar biologiese sussie by dieselfde hoërskool as sy aangesluit en maats opgemerk het hoe baie hulle na mekaar lyk. Die tiener het haar pa daarvan vertel wat dadelik self ondersoek ingestel het en ʼn maand later die Valke gekontak het. DNS-toetse het bevind dit is wel die Nurse-gesin se dogter na wie hulle bykans 20 jaar lank gesoek het.

Morne het aan die hof gesê toe hy aanvanklik met Zephany herenig is, was sy “in die wolke”. Hy het verduidelik sy het vir hom gesê sy het altyd getwyfel of die mense saam met wie sy bly regtig haar biologiese ouers is. “Sy het gesê sy lyk nie soos hulle nie.”

Volgens hom het die verhouding daarna “dormant” geword. Hy het gesê dit is die beskuldigde se skuld dat sy verhouding met sy dogter versuur het. “Toe die beskuldigde op borgtog vrygelaat is, het ek gevoel Zephany is geïndoktrineer. Ons verhouding het gesterf toe die beskuldigde uitgekom het.”

Hy het gesê hy het ʼn verhouding met sy dogter verlang, maar “ongelukkig gebeur dit nie”.

Hy het aan die hof gesê sy ander drie kinders ly ook en hulle is desperaat om ʼn verhouding met hul sussie te hê. “Hulle vra gedurig wanneer kom sy. Ek het nie antwoorde vir hulle nie.”

Nurse het na die vrou gedraai en gesê: “Die enigste ding wat ek vir die persoon wil sê wat daar is, is dat jy ons in meer as een manier doodgemaak het. Sy [die beskuldigde] sal nooit weet waardeur sy ons gesit het nie.”

Die vrou het nie enige teken van berou getoon nie en dit wou voorkom of sy ʼn paar keer haar lag moes hou tydens Morne se getuienis.

Morne, duidelik ontsteld oor haar houding, het gesê: “Jy lag hier, hulle hou aan met lag, hulle sê lelike goed.”

Hy het ook aan die hof gesê hy voel die staat het sy gesin in die steek gelaat en Zephany moes nooit toegelaat word om weer by die beskuldigde se man te gaan bly ná die vrou se inhegtenisneming nie.

Hy het getuig Zephany het vir hom gesê die beskuldigde het steeds by haar man gebly nadat sy op borgtog vrygelaat is, alhoewel sy beveel is om nie enige kontak met die tiener te hê nie.

“Sy gaan nie ons kies nie, dis normaal.”

Morne het geweier om aan die hof te sê hoe hy voel oor die manier waarop Zephany grootgemaak is.

Zephra Nurse, Zephany se ouma aan haar pa se kant, het buite die hof aan verslaggewers gesê hulle het 18 jaar lank in skok geleef en sy [Zephany] leef nou maar die afgelope jaar met dié skok. “Dit moet baie, baie moeilik vir haar wees. Ons wil haar nie onder druk plaas nie.”

Die jong meisie, wat nou 19 jaar oud is, het Dinsdag in camera getuig. Regter John Hlophe het beslis dat geen besonderhede van haar getuienis aan die media uitgelek mag word nie.

Die beskuldigde bly in aanhouding by Pollsmoor-gevangenis sedert haar borgtog teruggetrek is toe sy in Maart skuldig bevind is.

Die staat se finale getuienis ter verswaring van vonnisoplegging, Mike Barkhuizen, sal na verwagting Donderdag getuig.

Lees alle vorige berigte oor Zephany Nurse op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Cherokee ·

Geen buitestaander weet werklik wat die betrokkenis dink en deurgaan nie. Tog verhoed dit ons nie om eie gevolgtrekkings te maak deur tussen die lyne te lees nie.
Die suur houding teenoor die beskuldigde is natuurlik en sy het die biologiese ouers deur ‘n moeilike byna twee dekades laat gaan. Die pa se weiering om in die hof te sê hoe hy voel oor die manier waarop Zephany groot gemaak is, vertel dat sy dogter ‘n heerlike kinderlewe gehad het. Dat sy goed groot gemaak en liefdevol behandel is want as dit anders was sou hy met graagte daaroor gepraat het.
Waarskynlik is die jongeling ‘Zephany’ die een wat die ergste daardeur geraak word.

Dink mooi ·

Zephany, Blom dink mooi oor wat vandag gebeur het, jou skelm steel ma lag jou Pa uit, hy is dalk nie heeltemal wat jy sou kies nie, maar niemand is 100% perfek nie en belangrikste, Jou Pa het nooit ophou soek nie, hy moet jou oneindig liefhe!

snuiter ·

Cherokee dit maak nie saak how goes die kind behandel was en grootgemaak is nie,feit is en bly dit was nie die groot maak ouers se voorreg nie. mense wie kinders steel verdien die galg. hulle het die hele uitgebreide nurse familie van die kind beroof. die vrou se man en susters kan ook nie onkunde pleit nie. how kry n mens n kind sonder om swanger te wees. alnal het geweet alles is nie pluis nie en tog het niemand navraag gedoen nie. dit was beslis soveel kere in die media how die ouers na hulle dogter gesoek het. het die aanneem ouers se familie en vriende nie die tyd van die kind se verdwyning en die “geboorte” of loop of aannemung van die baba met mekaar verbind nie? new wat hulle het almal geweet.

tannie maraai ·

gaan lees op fb “searching for angela and Sharona Poulton” van nog n moeder se soektog na haar vermiste kindertjies. laat ons bid dat haar kindertjies ook aan haar terugbesorg word viirdat sy sterwe.

KarooKlong ·

Hierdie is ‘n lees en bly stil berig.
Jy kan jou nie indink in die pa of die dogter se huidige geestestoestand nie.

Maria van Dieweeck ·

Bid vir hulle. Die vrou het ook veroorsaak dat mammas hulle nuwe babas moes “bewaak” , in hospitale, onthou dit soos gister. So jammer vir die gebroke familie Nurse

Sus ·

Die dief-ma het sóveel lewens verwoes en nie eers opgehou nadat sy ontmasker is nie. Lyk my, tóe het sy eérs vir Zephany opgesteek teen haar eie ouers. Sy verdien nie eers die suurstof wat in Pholsmoor rondhang nie!

Piet ·

Nee heng Cherokee, gewoonlik hou ek van jou kommentaar, maar hierdie keer verstaan ek jou nie mooi nie. Die kind het dalk n goeie kinderlewe gehad, maar dit was egter alles n klug. n Mens kan nie geluk op so n geweldige groot leun bou nie. Hierdie slegte mense het net aan hulle eie belang gedink en in die proses net verwoesting gesaai. As iemand my kinders steel gaan ek hom jag tot aan die einde van my lewe. Daar sal nie vir hom tyd wees om sy kant van die saak te stel nie.

Stem saam ·

Ek stem saam die steel vrou, sy is in my oë nie meer die grootmaak ma, sit en lag vir die pyn van die Pa van die kind, ek dink jy het nou jou hand heeltemal oorspeel.Mag jy geen simpatie van die reg en regstelsel kry nie, jy toon werklik geen berou, wat het die Nurse familie aan jou gedoen dat jy hul kind gewetenloos steel en dan in die hof sit en uitlag, dit is absoluut laag en gemeen. Ek het jou jammer gekry, maar dit is by die deur uit!!!!! Mag hierdie jong dogter herenig word met haar eie familie en mag hul mekaar se liefde en omgee voel.

Cherokee ·

Baie dankie vir die kompliment in jou aanhef Piet en jy is ook reg as jy sê dat jy my nie mooi verstaan het nie. Dit was geensins bedoel as verskoning vir die vrou wat ‘n baba gesteel het nie, nie eens naastenby nie maar bloot ‘n uiting van die gedagtes wat deur my gegaan het terwyl ek die berig gelees het.
Ek besef dat sy die biologiese ouers ‘n geweldige onreg aangedoen het maar toe ek lees dat die pa weier om homself in die hof uit te spreek oor hoe sy dogter groot gemaak is het ek geglimlag en besef dat sy goed groot gemaak is. Dit blyk ook uit die feit dat die dogter steeds lief is vir die vrou wat haar gesteel het.
Karooklong het waar woorde gespreek toe hy gesê het dat hierdie ‘n lees en bly stil berig is. En ek sê steeds dat die opgeskote dogter die een is wat verwarde emosies moet verwerk. Die nie-ouers sowel as die ouers weet waarskynlik presies hoe hulle voel daaroor maar Zephany is tussen twee pole.

WeesWys ·

Stemme vra waarom die bohaai; dis tog jare gelede se ding… Maar ís dit? Geensins. ‘n Ma en pa moes met leë arms wegstap, jare treur soos oor die dood, ‘n gesin is verskeur, ‘n huwelik verwoes, ‘n onskuldige lewe tot die uiterste geskok, verwar, beroof van vertrouensverhoudings, sekuriteit en ‘n unieke lewe wat net hare moes gewees het. Daardie lewe het spoorloos verdwyn in die niet. Daar is geroof en bedrieg in ‘n grusame rooftog, want daar is geweldadig by verskillende harte ingebreek en onvervangbare kleinnode is summier gesteel. Die Een wat sien het egter ‘n manier om donker dinge op Sy eie tyd en wyse in die lig te bring. Onthou koning Salomo se dilemma? Liewe Zephany, word maar stil voor die voete van jou Skepper, die enigste Onveranderlike in jou duistere, droewe storm. Gaan kry jou identiteit by Hom, en vrede en lig vir ‘n mooi pad vorentoe. Dierbare ware ouers, ook grootmaak-pa met jou eie stryd, weet dat menige ouers kinders verloor op vele wyses. Wag maar aan Sy voete, en terwyl julle wag, kies om te vergewe. Ons almal het mos vergifnis nodig. Gee haar vir Hom en gee kans. Met tyd sal Hy alles genees wat die sprinkaan deur die jare opgevreet het. Want daar word gebid. Sterkte!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.