Zephany Nurse-saak: Slotbetoog binnekort aangehoor

Lt.kol. Mike Barkhuizen. Foto: ANA

Lt.kol. Mike Barkhuizen. Foto: ANA

Lt.kol. Mike Barkhuizen, die laaste staatsgetuie om in die opspraakwekkende ontvoeringsaak van Zephany Nurse te getuig, het Donderdag gesê Zephany is een van 155 kinders wat in 1997 as vermis aangemeld is.

Barkhuizen het ter verswarende omstandighede getuig in die vonnisverhoor van die vrou van Lavender Hill wat Zephany op 30 April 1997 langs haar ma se bed uit die Groote Schuur hospitaal ontvoer het. Haar ware identiteit is eers byna twee dekades later aan die lig gebring.

Barkhuizen, wat al die afgelope 42 jaar ʼn polisiebeampte is, is tans in diens van die Valke. Hy het voor die hof getuig dat alle misdade in Suid-Afrika op ʼn databasis ingevoer word en daar word ʼn kode aan elke tipe misdaad gekoppel. Hy het vanaf hierdie databasis ontvoeringstatistieke getrek en dit aan die hof voorgelê.

Hy het gesê van die 155 kinders wat in 1997 as vermis aangemeld is, is 148 weer teruggekry. Sewe word steeds vermis. Zephany was die 698ste persoon wat daardie jaar as vermis aangemeld is.

Volgens Barkhuizen was daar ses sake geopen van babas wat uit hospitale in die Wes-Kaap ontvoer is tussen 1997 en 2016. Hy het aan die hof gesê dat ontvoerings al sedert 1997 ʼn prioriteit vir die polisie is, maar dat daar destyds nie gespesialiseerde ondersoekeenhede vir hierdie misdaad was nie.

“Tegnologie speel ʼn groot rol en speurders het deesdae beter hulpbronne tot hul gebruik. In 1997 was hulle baie afhanklik van plaaslike koerante om oor iets te berig, waar so ’n ondersoek vandag baie meer intensief is. Nieregeringsorganisasies soos die Pink Ladies help ook en dit is makliker om publisiteit te kry. Die ondersoeke het ten goede verander,” het Barkhuizen gesê.

Barkhuizen het ook getuig oor bewerings dat die beskuldigde met Zephany kontak gehad het terwyl sy op borgtog uit was, wat ʼn oortreding van haar borgtogvoorwaardes sou wees. Daar is ondersoek ingestel na die bewerings, maar daar is volgens hom geen direkte bewyse dat die vrou met Zephany kontak gemaak het nie. “Die bron van die bewerings het gekom van die Nurse-familie. Ek het albei wonings besoek, waar die kind bly en waar die beskuldigde gebly het. Ons kon geen bewyse [vir die bewerings] vind nie,” het hy gesê.

Die beskuldigde se borgtog is in Maart vanjaar teruggetrek nadat sy skuldig bevind is aan ontvoering.

Die slotbetoog in die saak sal Donderdag aangehoor word. Die regter-president van die Wes-Kaapse hooggeregshof het bevind die sensitiewe inligting wat Zephany vroeër die week in camera in haar getuienis gelewer het, kan nie weer in die slotargumente genoem word nie. “Dit sal die joernaliste se kos wees,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maria van Dieweeck ·

Dis onmenslik om n ander mamma se baba te steel. Soveel pyn

Arme kind ·

Die arme kind is so verward en natuurlik onder die invloed van die steel Ma, sy sou nie gesê het, sy het haar steelma gesien as dit nie so was nie, ongelukkig kan mens nie so lank agterna vasstel as iemand in ‘n huis oorgeslaap het nie, veral jou ou huis nie, maar sy sal en kan nie wegkom met hierdie misdaad, sy het die Pa uitgelag wie se kind sy gesteel het – die steel was onherstelbare skade, maar die arrogansie van die vrou, dit nog nadat sy skuldig bevind is. Om te dink ek het haar nog jammer gekry en wou pleit dat sy net gemeenskapsdiens opgele moet word veral by weeshuise waar baie kinders is, dan kon sy ten minste haar liefde deel en ook oor Zephany kom, maar nee, sy is plein net ‘n misdadiger wat dink dit is ‘n groot grap.

Sarie van heerden ·

Het iemand nou al daaraan gedink aan wat hierdie arme kind van die lewe sou wou he? Sy was gelukkig in haar aanneemhuis en dis AL wat sy vra. Vrede en geluk en ek dink mens kan haar dit waaragtig gun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.