Zephany Nurse-saak: Staat eis tronkstraf

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Die staat het Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevra die 52-jarige vrou, wat skuldig bevind is aan die ontvoering van Zephany Nurse byna 20 jaar gelede, moet direkte tronkstraf opgelê word.

Die beskuldigde, wie se naam nie genoem mag word nie om Zephany se ware identiteit te beskerm, is vroeër vanjaar skuldig bevind aan ontvoering, bedrog en die oortreding van die Kinderwet. Sy het die drie dae oue Zephany op 30 April 1997 uit haar biologiese ma se hospitaalkamer in die Groote Schuur-hospitaal ontvoer. Zephany se ware identiteit het verlede jaar aan die lig gekom toe haar jonger biologiese suster by dieselfde hoërskool as sy begin skoolgaan het.

Slotbetoë in die voortslepende saak is Donderdag gelewer.

Adv. Reaz Khan, namens die beskuldigde, het die hof versoek om nie die straf met ʼn gees van woede te benader nie. Hy het gesê die publiek wil wraak neem en dit is verstaanbaar, aangesien die beskuldigde nie skuld beken het nie en geen berou toon nie. Hy het erken die Nurse-familie het deur ʼn traumatiese tyd gegaan, maar het gesê die hof moet rekenskap hou van die beskuldigde se persoonlike omstandighede en dat sy as kind en volwassene ook trauma ervaar het.

Hy het aangevoer die vrou se ouderdom, swak gesondheid en die feit dat sy ʼn eerste oortreder is, moet as versagtende faktore oorweeg word.

Khan het voorts gesê hoewel die staat aanvoer die beskuldigde is manipulerend, moet dit in ag geneem word dat sy nie die kind van die gemeenskap weggesteek het nie, maar haar by die skool ingeskryf het.

Regter John Hlophe het egter dié argument verwerp en gesê die misdaad was vooraf beplan. “Sy het die kind ʼn ander naam gegee en nie vir haar die waarheid vertel nie,” het Hlophe gesê. Hy het gesê die beskuldigde kon skuld beken het, eerder as om “die hof se tyd te mors”.

Staatsaanklaer Evadne Kortje het aangevoer die beskuldigde het vir 17 jaar lank die voordele gehad om Zephany vir haarself te hou.

“Sy het hof toe gekom en vertel sy het Zephany bederf en haar versorg en daarom is sy spesiaal. Dit is nie die geval nie. Sy is skuldig bevind aan ʼn ernstige oortreding,” het Kortje gesê.

Sy het gesê die nagevolge van die misdaad sal nooit uitgewis kan word nie en die biologiese ouers is van hul natuurlike regte ontneem. “Dit kan nie in die samelewing goedgekeur word dat vroue na hospitale toe gaan en net babas vat nie. Dit is wat die beskuldigde gedoen het.”

Kortje het aangevoer die beskuldigde se gebrek aan berou en empatie is “skokkend om die minste te sê”.

Sy het direkte tronkstraf van 15 jaar versoek om die erns van die misdaad te weerspieël. “Haar optrede het Zephany se identiteit heeltemal uitgewis.”

Zephany se ouers, Celeste en Morne Nurse, het ter verswaring van die vonnis getuig die ontvoering het ʼn ernstige uitwerking op hul lewens gehad en hulle het gevolglik nie ʼn verhouding met hul dogter nie.

Hlophe het die vonnisuitspraak tot Maandag voorbehou.

Lees alle vorige berigte oor Zephany Nurse op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

charlene ·

ek dink die is een van die moeilikste saak nog, want punt bly staan sy het `n kind gesteel en van haar ma af weg gevat, maar sy het haar nie seer gemaak nie, sy het haar versorg en met liefde groot gemaak. Dis `n ongelooflike hartseer saak, waar maak nie saak wat nie, dit gaan baie hartseer eindig. Ongeag as sy tronk straf kry of nie Zephany gaan seer kry, sy is die slagoffer en my hart gaan uit na haar, sy is nog hopeloos te jonk om so baie seer te moet voel. Ek hoop die vrou word gestraf want sy was verkeerd, maar albei party moet vir Zephany in ag neem en wat die beste gaan wees vir haar ook. Sy ken niemand ander as ma nie, sy gana nie oornag `n ander vrou as ma leer ken nie. Maar die regte ma is `n ongelooflike ma dogter band beroof, wat mens hartseer maak. My hart gaan uit na die arme kind.

stormers ·

Stuur haar 20 jaar tronk toe en gooi die sleutel ver weg in die see. Geen verskonings nie.

Kobus ·

Vir moord kry mens 6 jaar, al is die minmum voorgeskrwe 15 jaar.

Sus ·

Dit is net ‘n verloor-verloor saak dié. En één vrou het al die ander partye se lewens verwoes en sy is nie eers jammer nie. Sy sal moet pa-staan.

Sy kan maar gaan sit!!!! ·

Khan met sy flou verskonings vir haar irriteer my meer. Ek het gevoel soos jy Charlene, ek weet niemand gaan wen in hierdie saak nie en die een wat die hardste gaan betaal is Zephany wat nog minder beheer as haar ouers gehad het oor die tragedie. Hierdie vrou het willens en wetens hierdie kind gesteel, dan sit sy in die hof en lag hul uit as hul, hul hartseer deel van hoe dit hul lewens geraak het, sorry ek kan haar dit nie vergewe nie, na alles met ‘n smalende gesig sit, dit is geen berou – selfsug, dit help nie jy het Zephany vir al die jare aan liggaam gevoed, maar haar siel onherstelbare skade aangedoen nie en dan is daar nog Zephany se ouers, alles wat in hul lewens verkeerd geloop het, haar sibbes, hul weet nie hoe dit voel om hul ousus te ken nie en boonop is die arme sussie blootgestel gewees, sy weet dus wat sy verloor het, nee hierdie vrou het ‘n groot onreg aangedoen en ek is glad nie hatig nie, inteenteel sy is die een wat haar in ander se seer verlekker het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.