Zephany Nurse-saak: Sy sien weer grootmaakma

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Die Wes-Kaapse hooggeregshof sal na verwagting Maandag met vonnisverrigtinge begin in die saak van die 51-jarige vrou van Lavender Hill in die Wes-Kaap, wat daaraan skuldig bevind is dat sy Zephany Nurse 19 jaar gelede ontvoer het.

Zephany is op 30 April 1997, toe sy net drie dae oud was, uit haar wiegie langs haar ma se bed in die Groote Schuur-hospitaal ontvoer. Die beskuldigde wie se naam nie genoem mag word nie om Zephany se ware identiteit te beskerm, is in Maart skuldig bevind aan ontvoering, bedrog en oortreding van die Kinderwet. Haar borgtog is met haar skuldigbevinding teruggetrek en sy is sedertdien agter tralies.

Die media sal intussen nie toegelaat word om oor die getuienis van die 19-jarige Zephany te berig wanneer sy later vandeesmaand vir die staat teen haar ontvoerder getuig nie.

Regter John Hlophe het vroeër beveel dat Zephany se getuienis in camera aangehoor word en dat vier verslae, waaronder die slagoffer-uitwerking-assessering van Zephany en haar biologiese ouers en die paroolbeampte se verslag, ook nie aan die publiek bekendgemaak word nie.

Zephany se ware identiteit het verlede jaar aan die lig gekom nadat haar jonger biologiese suster by dieselfde hoërskool as sy begin skoolgaan het. Nadat klasmaats gegis het oor die twee meisies so baie na mekaar lyk, het Zephany se suster haar pa van die meisie in haar skool vertel. Morne, Zephany se biologiese pa, het met sy eie ondersoek begin, die tiener ontmoet en die Valke in Februarie ingelig. Die beskuldigde is kort daarna in hegtenis geneem.

DNS-toetse het bevestig die meisie is die kind na wie die egpaar al jare lank soek.

Sedert die beskuldigde se inhegtenisneming is Zephany nie toegelaat om kontak te hê met die vrou wat haar grootgemaak het nie. Sy sal later vandeesmaand vir die eerste keer in 17 maande van aangesig tot aangesig kom met die vrou wat sy nog altyd as haar ma beskou het.

Lees alle vorige berigte oor Zephany Nurse op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gideon ·

Belaglik dat die publiek nou in die duister gehou word. Sy is mos nou al ouer as agtien en dit is nou nie of die hele gemeenskap nie weet wat aangaan nie!!

JOHAN ·

Het enigeen al gedink hoe verward hierdie kind moet wees. Hoe moet sy kies , die biologiese ma of al ma wat sy werklik ken , die een wat haar grootgemaak het. Net die Here kan haar help in haar besluit. Die beskuldigde het oortree , maar ek hoop dat daar vir haar ook versagting sal wees . Sy het ten minste hierdie kind met liefde grootgemaak asof dit haar eie is. Slegs mense wat kinderloos is sal verstaan waardeursy moes gaan. Ek stem saam dat hierdie mense nou alleen gelaat word om hulle besluite in stilte met mekaar uit te sorteer ter wille van alle partye betrokke.

charlene ·

Johan ek dink al van die begin van die storie af ek is `n monster omdat ek ook die “grootmaak ma” jammer kry, Maar ek sien ek is nie al een nie, ja ons kan insien wat sy gedoen het was verkeerd. Maar dan moet mens ook kyk na hoe sy die kind groot gemaak het. Dis `n ongelooflike hartseer verhaal die van die begin tot die einde. `n onskuldige kind is in `n aaklige plekkie. Kyk ek wil graag weet wat gaan gebeur maar kan hulle die arme kind nie net met vreede los nie, sy was 18, sy was in matriek! `n harde jaar en ewe skielik moet sy leer alles, alles is `n leun. Dis nie reg teenoor die kind maar ek kry albei ouer pare jammer. Haar regte ma en grootmaak ma. ñ band tussen ma en dogter is iets spiesiaals, mag sy leer om daai band met haar regte ma te bou maar ook die band te behou met haar grootmaak ma.

Griki ·

Hoe lank gaan hierdie arme kind se hel nog uitgerek word? Kan hulle nie nou die saak afhandel en klaarkry nie. Besef diegene wat verantwoordelik is vir die kruipende regstelsel hoeveel pyn en ellende dit mense besorg as die sake so u-i-t-g-e-r-e-k word?

Stem saam ·

Ek stem saam met Griki en Johan. Al 1 wat ly is die kind. Die grootmaak Ma het ‘n oortreding begaan en ek glo sy het elke dag met die skaduwee van ek het iets groot verkeerd gedoen geleef, so lank in die tronk, onthou sy wou nie krimineel wees nie, ek sal NOOIT goed praat wat sy gedoen het nie, maar ek ken ook die hartseer van mense wat nie kids het nie. Ek voel die ouers en grootmaak ouers moet om ‘n tafel geroep word en ‘n middeweg gevind word, die dogter is nou mooi groot en sal verstaan, maar as hul aanhou om die enigste Ma wat sy geken het en onthou die Ma was goed vir haar te vervolg en af te breek, sal sy veg om haar te help. Ek glo en is positief dat sy wel band met haar eie ouers en sussies sal vorm as sy in ‘n rustige spasie is en die spasie sluit haar grootmaak Ma en Pa in.

give me hope ·

die feit dat sy ns hate kewendig gevind us gee soveel ander hoop. wat as die mamma van Namibia lily Poulton se dogters angela en Sharona ook na veertig jaar gevind kan word. ek gaan nou weer hulle fb blad lees en vir hulle bid. baie sterkte aan die grootmaakouers, die dogter en die eie ouers en sibbe.

lynette ·

Ai ek voel so sorry vir die jong meisie kind . Ek was in pleegsorg en het my eie ma eers gesien tot ek 45 jaar oud is . Ek pas nie in daai familie in nie . My pleegouers is my ouers . Dit was nie maanskyn en rose nie . Maar dit is waar ek hoort . So ek wil vir daai pop se . Ken jou ma en pa , respekteer hulle . Moet nie jou grootmaak ma weg stoot nie . Sy was daar toe huil . Sy was by jou siek bed . Sy was deur alles by jou .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.