Zephany Nurse se ontvoerder gevonnis

Foto: ANA

Foto: ANA

Die 52-jarige vrou wat skuldig bevind is aan die ontvoering van Zephany Nurse byna 20 jaar gelede, is Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof tot tronkstraf gevonnis.

Regter John Hlophe het die beskuldigde, wie se naam nie genoem mag word nie om Zephany se ware identiteit te beskerm, tot effektiewelik 10 jaar tronkstraf gevonnis. Sy is in totaal tot 19 jaar tronkstraf gevonnis waarvan vier jaar vir vyf jaar opgeskort is. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Die beskuldigde is vroeër vanjaar skuldig bevind aan ontvoering, bedrog en die oortreding van die Kinderwet. Sy het die drie dae oue Zephany op 30 April 1997 uit haar biologiese ma se hospitaalkamer in die Groote Schuur-hospitaal ontvoer. Zephany se ware identiteit het verlede jaar aan die lig gekom toe haar jonger biologiese suster by dieselfde hoërskool as sy begin skoolgaan het.

Slotbetoë in die voortslepende saak is Donderdag gelewer. Adv. Reaz Khan, namens die beskuldigde, het die hof versoek om nie die straf in ʼn gesindheid van woede te benader nie. Hy het aangevoer die vrou se ouderdom, swak gesondheid en die feit dat sy ʼn eerste oortreder is, moet as versagtende faktore oorweeg word.

Hlophe het egter dié argument verwerp en gesê die misdaad was vooraf beplan. “Sy het die kind ʼn ander naam gegee en nie vir haar die waarheid vertel nie,” het Hlophe gesê. Hy het gesê die beskuldigde kon skuld beken het, eerder as om “die hof se tyd te mors”.

Staatsaanklaer Evadne Kortje het aangevoer die beskuldigde het 17 jaar lank die voordele gehad om Zephany vir haarself te hou. Kortje het aangevoer die beskuldigde se gebrek aan berou en empatie is “skokkend om die minste te sê”. Sy het direkte tronkstraf van 15 jaar versoek om die erns van die misdaad te weerspieël. “Haar optrede het Zephany se identiteit heeltemal uitgewis.”

Zephany se ouers, Celeste en Morne Nurse, het ter verswaring van die vonnis getuig die ontvoering het ʼn ernstige uitwerking op hul lewens gehad en hulle het gevolglik nie ʼn verhouding met hul dogter nie.

Lees alle vorige berigte oor Zephany Nurse op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Gert ·

So ‘n tragiese storie, net verloorders, niemand het deur hierdie hele proses iets gewen nie.

Theresa B ·

Baie hartseer saak. Soveel mense se lewens is uitmekaar geruk hierdeur en ek hoop dat Zephany die regte ding sal doen en ook die lewe vorentoe op die regte manier sal betree.

Karma ·

Hartseer saak. My opinie (persoonlik) is dat die saak onnodig uitgerek is en in die media opgeblaas is. Hier is geen wenners nie, net verloorders – die bloed-ouers het 17 jaar van hul kind se lewe verloor, die “grootmaak”-ma verloor (effektiewelik) 19 jaar van hare en tussen-in sit die kind, Zephany – wat altyd geken sal word as “daai kind wat mos gesteel was” ….. en wraggies-waar, nou is sy ook swanger!

Mike ·

Hoe verklaar mens die volgende vonnisse: ses jaar vir moord vir Oscar maar 10 jaar vir kinderontvoering en aanverwante klagtes in die Zephany Nurse saak. En in n ander saak kry iemand wat melk en lekkers steel 15 jaar. Weet nie so mooi nie.

Karma ·

@Mike, die verskil is dat OP ‘n bekende sport-ster is (was) en baie geld Het (gehad het). Sy familie is (was) ryk en invloedryk en hy het van die beste regsverteenwoordiging gehad. Zephany se grootmaak-ma is “net die Kleurlingvrou van hier-om-die-hoek”. En in die geval van die persoon wat melk en lekkers steel, was dit dalk ‘n herhaaldelik oortreder, ek weet nie. Maar dat SA ‘n regstelsel het vir die een soort oortreding en persoon versus ‘n ander soort oortreding en persoon is nie te betwyfel nie. As jy geld het kan jy letterlik met moord wegkom in SA.

Rafel ·

sy verdien nie om n ma genoem te word nie. Hopelik uit die samelewing verwyder vir die res van haar lewe.

Leonie ·

Ek kry die vrou eintlik jammer. Dis baie hartseer en vir die kind gaan dit nog erger wees.

Inge ·

Ek stem Leonie, die arme kind ken net hierdie een ma. Dit moet baie erg wees vir haar om te sien dat sy tronk toe gaan. Soos almal se, niemand wen nie.

Karel ·

Totaal 19 jaar, tronkstraf van 10 jaar en 4 jaar opgeskort. Maak dit sin? Verder mag sy vir die opgeskorte deel van 4 jaar terwyl sy in die tronk sit vir 5 jaar lank nie weer ‘n kind ontvoer nie, en Hlophe noem homself ‘n regter?

Elize ·

Hartseer,vir die kind wat haar as Ma geken het.So is die lewe.Al doen jy wat in die lewe..wat oneerlik is..leuens..ens.dit kom uit.

Topster ·

Wat ons regstelsel uit beeld is dat dit eintlik beter is om te moor solank jy nie ontvoer nie.Dit maak nie sin nie ,alles gaan vir n bol tjorts

Mike ·

Ja Topster dis wat ek ook sê vir kleiner misdrywe is die strawwe in verhouding met die misdryf onvanpas.

lynette ·

In hierdie geval is dit nie n kleiner misdryf nie!!!!!! Sy het die hele Nurse gesin se lewe verongeluk. Ook haar eie man se lewe en arme Zephany sal nooit weer n “normale” lewe kan lei nie. Wat sy gedien het is wreed.

Mike ·

Hier word verwys na die diefstal van kos items met n vonnis van 15 jaar en nie spesifiek na die Nurse geval nie.

Liewe heksie ·

Lynette nou dat jy dit so stel verander my gevoel jeens die saak heeltemal eintlik n baie wrede ding wat sy gedoen het so baie mense se lewens verwoes maar wat n wonderlike troos vir die regte mamma wat haar kind lewendig terug gekry het

Piet Pompies ·

Ons het so’n paar weke terug uitgevind my oorlede broer het’n kind by’n vrou gehad en die ma het al die jare die kind van ons weerhou. Dit is hartseer en selfsugtig.

Riaan ·

as jy iemand dood skiet 6 jaar as jy iemand ontvoer 10 jaar. Laat mens wonder.

sommer net ek ·

siestog dis baie erg. soos die suidwes mamma lily poulton wren wie se dogtertjies, Angela en Sharona Poulton met hulle Vader Bernard aka john in 1974 uit walvisbaai verdwyn het en noout weer vvan gehoor is nie. sterkte lily mag joy diggers IOM gevind wordm lees van hulle op fb. ” searching for Angela and Sharona Poulton.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.