Zephany se ouers: ‘Letsels sal nooit genees’

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Zephany Nurse se biologiese ouers het in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig van die invloed van haar ontvoering op hul familie en huwelik.

Celeste Nurse het tydens haar getuienis direk na die vrou gekyk wat skuldig bevind is aan die ontvoering van haar dogter en gesê: “Luister nou mooi na my”, terwyl sy beskryf het hoe haar wêreld ʼn “somber en ellendige plek” geword het toe haar drie dae oue dogtertjie op 30 April 1997 uit die Groote Schuur-hospitaal ontvoer is.

Celeste het gesê sy sou ʼn foto van Zephany in haar kot sit en met haar praat. “Die honde sou buite blaf en ek sou vir my man sê om te gaan kyk of die kind buite is. Ek het my eie lewe probeer neem. Dit het gevoel of niemand verstaan waardeur ek gaan nie.”

Volgens Celeste het haar man haar maande lank verwyt vir wat gebeur het en was hy kwaad vir haar omdat sy geslaap het toe die baba ontvoer is. Sy het gesê alles het verander sedert haar dogter in Februarie 2015 gevind is.

“Dis nie maklik nie. Sy kry uitbarstings en ek weet nie hoe om dit te hanteer nie. In die begin was dit moeilik aangesien ek lewe geskenk het aan haar. Ek het haar vir nege maande in my baarmoeder gehad. Ek het haar gevind, maar nou moet ek haar weer laat gaan. Ek moet haar van voor af verloor.”

Volgens Celeste is haar verhouding met Zephany “gespanne”. Sy het gesê Zephany is deurmekaar en het vir haar gevra: “Mamma, hoekom het jy my weggegee?” Celeste en Morne se egskeiding is verlede jaar gefinaliseer.

Morne het getuig hy was ʼn emosionele wrak ná die ontvoering en dat hy vir dae nie kon eet nie. “Dit het ons as gesin doodgemaak.” Hy het toegegee dat hy sy vrou verwyt het. “In dié tyd was ek gebreek, platgeslaan en kwaad.”

Morne het erg emosioneel geraak toe hy aan die hof vertel het dat hy en Zephany nie ʼn verhouding het nie. “Jy vind jou dogter en die volgende minuut het jy geen kontak met haar nie.”

Die hof het hierna verdaag en Morne sal na verwagting Dinsdagoggend sy getuienis voortsit.

Lees alle vorige betigte oor Zephany Nurse op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willemien ·

Maroela – wil julle net wys op foutjie in die berig – nie driejarige dogtertjie nie …

Griet ·

Drie JARIGE dogtertjie?????? sy was drie DAE oud toe sy ontvoer is!!

Landi Slatter ·

Dagsê Griet en Willemien,

Dankie vir julle terugvoer. Ons vra om verskoning vir dié oorsig en wysig die berig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Sus ·

My hart breek vir die Nurse-ouers en familie. Dit lyk of dit net ‘n ‘verloor-verloor’ situasie is. Die dief se daad was erger as moord!

So hartseer ·

Dit is soooo hartseer, wens ek kon hierdie dogter help, as dit vir beide ouer pare so erg is, hoe moet die arme kind voel?

Maria van Dieweeck ·

Mag die Here al die mense help. Wat n tragedie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.