Zephany: ‘Wat sy gedoen het, was verkeerd, maar…’

Miché Solomon tydens die onderhoud met eNCA. Foto: Skermgreep/ANA

Miché Solomon, ook bekend as Zephany Nurse, sê sy koester geen kwade gevoelens teenoor haar ontvoerder of haar biologiese ouers nie.

Solomon, nou ʼn 22-jarige ma van twee, was maar drie dae oud toe sy op 30 April 1997 langs haar ma, Celeste Nurse, se hospitaalbed uit die Grootte Schuur-hospitaal gesteel is.

Die hooggeregshof in Pretoria het Solomon die week toestemming gegee om haar ware identiteit bekend te maak.

Solomon het tydens ʼn eksklusiewe onderhoud met eNCA gesê haar ontvoerder, Lavona Solomon, het haar goed versorg. “Wat Levona gedoen het, was verkeerd, maar ek is nie mishandel of verwaarloos nie. Ek keur dit wat sy gedoen het, nie goed nie… sy het ʼn deel van my en my biologiese ouers af weggevat en dit is iets wat ons nooit weer sal terugkry nie… maar wat ek wel kan sê, is dat sy regtig mooi na my gekyk het.”

Zephany Nurse en haar biologiese ma, Celeste, kort na haar geboorte.

ʼn Boek oor haar lewe is pas vrygestel. In die boek, Zephany, vertel sy haar storie vandat sy uitgevind het sy is nie Levona en Michael Solomon se dogter nie, maar dat Morne en Celeste Nurse haar biologiese ouers is.

“In my boek noem ek ook dat sy [Levona] alles op die spel geplaas het om hierdie baba te hê, om my te hê en dit wys net hoe desperaat sy was. Dit bewys vir my haar onvoorwaardelike liefde en tot watter uiterstes sy sou gaan om hierdie baba te hê.”

Solomon het tydens die onderhoud ook gepraat oor die gespanne verhouding met haar biologiese ouers en gesê sy probeer daaraan werk.

“Die media laat dit net klink of ek hierdie aaklige persoon is, dat ek hulle nooit ʼn kans gegee het nie… daar is kanse gegee en ons probeer steeds. Ons is nie ontsteld nie en ons probeer steeds.”

Die boek Zephany wat pas die lig gesien het.

Volgens Solomon sal sy nooit die vrou wat haar grootgemaak het, kan haat nie, maar sal sy graag wil weet wat die dag gebeur het wat sy uit haar hospitaalkot gesteel is.

“Ek kan net vir haar sê: ‘Mammie, jy weet wat jy gedoen het, was verkeerd, dit was baie verkeerd en ek kan dit nie regmaak nie… maar mammie, dit sal so lekker wees as jy net vir my kan vertel wat daardie dag gebeur het’.

“Ek het vir myself gesê, Miché, as sy dit gedoen het, is dit oukei. Ek is oukei. As ek mishandel was of die pad byster geraak het hieroor, sou ek haar gehaat het, maar ek is nie mishandel nie, ek hoef nie gered te geword het nie, ek was oukei. As jy het, is dit oukei, dis oukei, dit gaan niks verander nie.”

Celeste en haar man, Morne, se 17 jaar lange soektog na Zephany het in 2015 geëindig toe hulle jonger dogter dieselfde hoërskool as Zephany begin bywoon het. Klasmaats het verwys na die verstommende ooreenkomste tussen die twee meisies en die jonger suster het haar pa daarvan vertel.

Morne het die Valke gekontak en DNS-toetse het gewys dat Zephany, toe in matriek, inderdaad hulle vermiste dogter is.

Die Lavender Hill-vrou wat Zephany as haar eie kind grootgemaak het, is in 2016 in hegtenis geneem en tot 10 jaar tronkstraf gevonnis. Die vrou se identiteit is beskerm om die naam wat sy vir Nurse gegee het, geheim te hou.

Zephany se lewensverhaal het opslae gemaak toe sy met haar biologiese ouers herenig is. Sy was egter toe nog jonger as 18 en die hof het beveel dat die identiteit wat haar grootmaak-ma aan haar gegee het, beskerm moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
J

Nou gaan dié storie nogmeer holgery word vir geld

Poppie

Wat ‘n vrou nie sal doen as sy nie kinders kan kry nie. Net jammer sy het nie enetjie aangeneem nie. Daar is so baie in kinderhuise wat smag na n ma en pa. My hart bloei vir hulle almal.

Oop Oge

`n Wiel is rond en alles wat op gaan, moet weer afkom…..
Wat jy ookal doen in hierdie lewe – ten goede of ten slegte – SAL weer met jou ontmoet…op `n dag en `n tyd wat jy dit nie verwag of wou gehad het nie……en DIT sal jou nalatingskap wees….

Liezel

My hart gaan uit vir die ‘regte’ ouers.

Vonkprop

Ek dink ons is nou al almal oor die storie.