Zika-geval in SA gediagnoseer

Aedes aegypti-muskies soos gesien deur 'n mikroskoop by die Fiocruz-instituut in Recife, Brasilië. Foto: AP Photo/Felipe Dana, File

Aedes aegypti-muskies soos gesien deur ‘n mikroskoop by die Fiocruz-instituut in Recife, Brasilië. Foto: AP Photo/Felipe Dana, File

Die minister van gesondheid het bevestig ʼn Colombiaanse sakeman wat Johannesburg besoek, is met die Zika-virus gediagnoseer deur ʼn privaat patologielaboratorium in dié stad.

Minister Aaron Motsoaledi het Vrydag gesê die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sal ook ʼn bevestigende toets doen.

Die sakeman het koors en ʼn veluitslag gehad, vier dae nadat hy in Suid-Afrika aangekom het, maar hy is nou weer gesond. Hy is in Colombia besmet voordat hy op ʼn sakebesoek na Johannesburg gereis het.

Colombia ervaar tans ʼn groot uitbreking van dié virus.

“Die huidige geval hou geen gevaar in vir die Suid-Afrikaanse bevolking nie, aangesien die virus nie van mens tot mens oorgedra word nie, maar deur die Aedes aegypti-muskiet, en moontlik van ma na baba tydens swangerskappe,” het Motsoaledi gesê. “ʼn Geval waar die virus seksueel oorgedra is, is onlangs in Amerika aangemeld, maar dit word steeds as seldsaam beskou.”

Die virus is slegs vir ʼn kort tydjie in die pasiënt se bloed, gewoonlik minder as sewe dae, en daarom hou dit nie enige gevaar in nie. ʼn Persoon wat die virus in sy bloedstroom het, moet binne hierdie tydperk deur die regte subtipe van die Aedes aegypti-muskiet gebyt word voor ʼn volgende persoon, wat deur dieselfde muskiet gebyt word, ook besmet sal word.

Die Aedes-muskiet wat die Zika-virus in Suid-Amerika versprei, versprei ook knokkelkoors en geelkoors, maar hierdie virusse kom nie in Suid-Afrika voor nie. Dit is ʼn aanduiding dat die plaaslike Aedes-muskiet nie bydra om die Zika-virus te versprei nie.

“Gegewe die hoeveelheid reise wat tussen Suid-Afrika en ʼn aantal lande plaasvind wat tans ʼn uitbreking van die Zika-virus ervaar, is dit waarskynlik dat ander sporadiese gevalle ook in Suid-Afrikaanse reisigers aangemeld sal word, net soos in ander lande,” het Motsoaledi bygevoeg.

Die departement het in ʼn verklaring bevestig hy monitor die uitbreking van die Zika-virus in Brasilië en ander lande wat hierdeur geraak word. Die departement het reeds verskeie voorsorgmaatreëls in plek gestel om die invoer en verspreiding van die Zika-virus in die land te beperk, waaronder ʼn nooddienssentrum wat op gereedheid geplaas is en vliegtuie, lughawens en vraghouers word ontsmet.

Die departement het versoek dat swanger vroue nie na enige land sal reis waar ʼn uitbreking van die Zika-virus ervaar word nie.

Lees alle vorige berigte oor die Zika-virus op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Louis ·

En wat as die man seks in SA gehad het? Wat waarskynlik is en dan word die virus ook hier versprei. Dink die minister daaraan?

Beandri ·

Hierdie siektes wat elke jaar uitbreek wat almal op hol jaag is vir my n bietjie snaaks. Want so gou soos wat ebola en al die vorige siektes uitgebreek het, so vinnig het dit weer oor gewaai. So ek vra vandag. Dink julle nie dat al die siektes opgemaak word om ons aandag af te lei van iets nie?

Jessica ·

what did he do here for business as we in South Africa ‘we do not do business with Colombia

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.