Zikalala bedank as KZN-premier

Sihle Zikalala het Donderdag as premier van KwaZulu-Natal bedank. (Foto: Facebook)

KwaZulu-Natal is leierloos nadat premier Sihle Zikalala sy bedanking aangekondig het. Die ANC in die provinsie het die stap reeds aanvaar.

Die ANC sê in ʼn verklaring Zikalala het sy bedanking Donderdag by die provinsiale uitvoerende komitee ingedien en die proses om ʼn nuwe premier te benoem is reeds van stapel gestuur. Die ANC het die name van drie kandidate, Nomusa Dube-Ncube, Amanda Bani en Mbali Frazer, as opvolger vir Zikalala ingedien. Daar sal Saterdag met hulle onderhoude gevoer word.

KwaZulu-Natal kan dus binnekort sy eerste vrouepremier kry.

Volgens die KwaZulu-Natalse ANC is Zikalala se bedanking “moeilik” aanvaar omdat hy “steeds goeie werk in die provinsie gedoen het sedert hy oorgeneem het”.

“Ons is dankbaar vir die werk wat hy vir die mense van die provinsie gedoen het en het waardering dat hy ʼn doelbewuste besluit geneem het om die kantoor nie oorhaastig te verlaat nie.”

Siboniso Duma het Zikalala vroeër vandeesmaand by die ANC se provinsiale kongres oortuigend verslaan en Zikalala moes sy posisie as provinsiale voorsitter prysgee. Sy nederlaag teen Duma en die uitjouery wat hy van afgevaardigdes moes verduur, het Zikalala glo polities verswak gelaat.

“Kameraad Zikalala se termyn het heelwat goeie goed in die provinsie teweeggebring. Dit sluit in ʼn aantal provinsiale staatsdepartement wat vir die eerste keer ongekwalifiseerde ouditverslae ontvang het.”

Zikalala se termyn was egter nie sonder omstredenheid nie. Ná die onlangse oorstromings in KwaZulu-Natal is hy daarvan beskuldig dat hy ʼn watertenkwa vir sy gesin se eksklusiewe gebruik buite sy huis laat staan maak het. Die tenkwa was deel van ʼn vloot wat vloedgeteisterde inwoners van water moes bedien.

Zikalala het om verskoning gevra omdat die watertenkwa by sy huis was, ʼn fiasko wat die DA as “skokkende magsmisbruik” bestempel het.

Verlede jaar het Zikalala ook verskoning aangebied nadat hy ʼn plunderaar met die vuis bygedam het. Zikalala was op besoek aan gebiede wat deur die onluste deurgeloop het. In beeldmateriaal van die voorval kan gesien word hoe Zikalala ʼn plunderaar twee houe op die rug toedien voor die man weghardloop. Die man het glo probeer vlug met goedere wat hy by ʼn pakhuis gesteel het. Zikalala het verskoning gevra en gesê die vlak van geweld wat gebruik is om die man te probeer aankeer, word betreur.

Zikalala sal na verwagting Vrydagmiddag by ʼn mediakonferensie meer besonderhede oor sy bedanking bekend maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Blikkies ·

Nou wie sou nou gekla het behalwe die ANC omdat hy n looter bygedam het?

Frank John ·

Een kant doen hy goeie ding ander kant sleg. Hy word aangeval omdat hy boef met vuis slaan, die skelms het meer reg, wonder of dit mede skelms is wat hom daarvoor aanval of is dit die”eerlike” mense wat die skelms verwelkom.
Wonder maar net!!!

Astrain ·

KAMERAAD??? Nie geweet ons bly in Rusland nie…of is die ANC kommuniste in skaapklere?

Chris dupreez ·

Better the devil you know , than you don,t know. Wonder wie gaan nou premier word, dalk een van die Zumaliete.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.